1 Tessalonisense 2:17-20
Verlange - dis ‘n baie groot woord daardie! Hierdie woordjie durf nie ligtelik opgeneem word nie!
Ek onthou die grootste verlange van my lewe soos gister. Dit was in November 1973 - sal ek dit óóit vergeet? Ek het ‘n paar maande tevore die groot liefde in my lewe ontmoet en die liefde het geblom! En toe kom die nuus in die vorm van ‘n amptelike weermag briefie: Dit het tyd geword dat ekke weer vir ‘n kamp moes gaan sodat die regering kon seker maak dat ek nog onthou het hoe om oorlog te maak. Dinge het toe alreeds begin broei daar in Angola se rigting! Gelukkig stuur hulle ons net na Potchefstroom toe.
My hart het in my skoene gesak: hoe sou ek dit vir ‘n volle drie weke sonder my ou Mosbolletjie kon uithou? Daar in die grammadoelas waar hulle my gestuur het was daar nie ‘n telefoon of enige vorm van kommunikasie nie. Toe pak ek vir my ‘n dik skryfblok en ‘n paar penne in.
Die afskeid op Durban se stasie was innig en lank en bitter swaar. Die trein was al lankal om die draai, toe hang ek nog by die venster uit om tog net een laaste kykie te kry, al kon ek haar lankal nie meer sien nie. Daardie eerste nag op die trein, het ek alreeds my verlange op ‘n vel papier uitgestort!
Op die stowwerige kampterrein ‘n ent buite Potchefstroom staan ek angstig saam met die manne en wag. Die posbode moes al lááánkal terug gewees het met die pos! En dan, uiteindelik slaan daar ‘n stofstrepie uit op die grondpaadjie wat na die kamp toe oploop. “Daar kom hy!” skree iemand opgewonde. Die manne maal om eerste by die Jeep te kom, nog voordat hy behoorlik kan stilhou. Die sersant gryp die possak en een-vir-een lees hy die name uit. Ek staan ongeduldig en rondtrippel. “Louis Nel!” hoor ek my naam, en dit klink soos die mooiste musiek in my ore!
Met bewende hande skeur ek die koevert versigtig oop. Ek drink die heerlike geur van haar parfuum aan die brief in. Ek lees die brief oor en oor en oor want ek wil nie ‘n enkele woordjie mis nie. Die manne spot my, maar ek gee nie om nie. Die groot verlange na dié een wat ek innig liefhet is so effens bevredig. Vanaand stort ek weer al my hartsverlange uit op ‘n velletjie papier, want ek weet sy wag vir my.........
Wanneer Paulus hierdie brief skryf aan sy “kinders” in Tessalonika, loop hy oor van verlange. Hy was maar net ‘n skamele drie weke daar, maar in die kort tydjie het hy hulle leer ken en liefkry, en nou raak die verlange vir hom te veel. Hy brand om hulle te gaan sien, maar omstandighede verhinder dit. Paulus kry darem so ‘n klein bietjie bevrediging as hy vir Timoteus stuur om te gaan kyk hoe dit met hulle gaan. Wat sou hy tog sonder liewe ou Timoteus gedoen het?
Waarom is Paulus se verlange juis vir hierdie gemeente so groot? Hy sien in hulle iets van die wederkoms van Jesus. Hy weet dat hulle vir hom ‘n bron van blydskap en trots sal wees by die wederkoms! Is dit nie ‘n wonderlike getuienis van ‘n gemeente nie! Die lewe van die gemeentelede het ‘n ou man se hart brandend gemaak van verlange vir Jesus se wederkoms, want hulle leefwyse het getoon dat Jesus waarlik leef en dat Hy terugkeer om Sy kinders te kom haal om saam met Hom te wees.
Vir Paulus was die werklike beloning van sy werk nie geld, eer of roem nie. Sy grootste beloning was om te kon sien hoedat Jesus Christus deur die gelowiges in ‘n gemeente werk wanneer hulle Hom waarlik as Hoof erken het. Hy skryf in vers 19 dat hierdie gemeente die kroon is op sy werk.
Waarin vind jy jou grootste blydskap? Is dit ook wanneer jy uitvind dat iemand vir wie jy gebid het, of met wie jy die evangelieboodskap gedeel het vir Jesus gevind het en nou lewe tot Sy eer? Sal dit nie wonderlik wees as ek en jy ons lewenstaak in ons gemeente só kan inrig dat dit by almal met wie ons te doene kry die verlange sal kweek vir Jesus se wederkoms nie! Ek dink dat elke gelowige die taak het om saam te werk sodat die gemeente waarvan ons deel is op hierdie wyse die boodskap van hoop kan uitdra. Die mense daar buite moet kan sien dat dit vir my ‘n vreugde is om ‘n gelowige te wees en dat ek my taak in die gemeente diep uit my hart uit geniet. My taak moet nie vir my ‘n las wees nie, maar ‘n vreugde.
Dis verder ook noodsaaklik dat my blydskap aansteeklik moet wees en die res van die gemeente aanspoor tot diens. In ons gemeente in Ballito werk dit beslis! Almal wat hier kom kuier van elders, praat van die liefde en blydskap wat hulle kan sien blom in ons gemeente. Ja, inderdaad is daar nog liefdeloosheid en tweedrag waaraan ons moet werk, maar dit word oorheers deur die opgewondenheid en vreugde wat uit die meerderheid van die gemeentelede straal!
Hoe lyk jóú gemeente? Dit begin by één persoon wat bereid is om die vuurtjie aan te steek om uiteindelik by álmal ‘n sterk verlange te kweek na die ware vreugde wat alleen Jesus kan gee. Dit kan by jóú begin!
Gebed:
Here, kweek asseblief by my daardie blydskap wat maak dat buitestaanders sal verlang na U!