Verlamde by Mooipoort

2 May, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verlamde by Mooipoort

Handelinge 3:1-26

VIDEO | OUDIO

Petrus loop met 'n huppel in sy stap en 'n lied in die hart. Dit is byna drie-uur die middag en tyd vir die gebruiklike gebed in die tempel, soos wat elke goeie Jood betaam. Saam met hom is Johannes.

Sedert daardie wonderlike Pinksterdag het hulle 'n baie besige tyd agter die rug. Petrus wil sommer weer aan die grens gaan as hy net terugdink aan die gebeurtenis, en hoedat drieduisend mense tot geloof in Jesus gekom het op één dag! Hulle het almal die gawe van die Heilige Gees ontvang, en toe moes Petrus en sy maats net bontstaan, want al hierdie mense wou gedoop word. Hulle het laatnag eers stokflou in die kooi geval.

Deesdae kos dit baie mooi organiseer om almal te akkommodeer wanneer hulle Sondagaande bymekaar kom om Jesus se opstanding te gedenk. Maar daar het ook wonderlike dinge begin gebeur. Baie van die welaf mense het van hulle grond en besittings verkoop om die armes en weduwees onder hulle te help. Elke dag was daar 'n klomp van hulle by die tempel bymekaar, waar die twaalf manne hulle geleer het van al die dinge wat Jesus hulle geleer het.

Petrus se hart swel eintlik van trots as hy dink hoe al hierdie mense se lewens totaal verander het. Liefde het uit hulle begin uitstraal, en die hele volk het daaroor gepraat. Dag-vir-dag het daar nuwe bekeerlinge bygekom. “Loof die Here!” jubel Petrus hardop.

“Hoe nou?” lag Johannes, en hy gee sy maat Petrus 'n klap op die skouer. “Die lewe is mooi!”

As hulle by die tempelpoort kom, is hulle net betyds om te sien hoedat 'n verlamde man daar “afgelaai” word. “Dis glo nou al baie jare wat sy familie hom elke dag hierheen bring om te kom bedel,” merk Johannes op, “en ek voel so sleg dat ek niks eers het om vir die arme drommel te gee nie. Dit moet verskriklik wees om so hulpeloos te wees.”

Petrus voel baie skuldig as hy die man se pleitende oë op hom sien. En dan skielik kry hy net die gevoel dat hy iets vir die man moet doen – dat hy die instrument moet wees om die man te genees. “Maar sê nou net dit werk nie?” worstel dit in hom.

“Julle sal selfs groter dinge as Ek doen,” eggo Jesus se woorde in sy gemoed, “glo net.....”

Petrus gaan staan vlakvoor die man en kyk hom stip in die oë. Johannes wil nog vra: “Petrus, wat vang jy nou aan?” maar hy weet sommer dat hy moet stilbly.

“Geld het ek nie”, sê Petrus vir die verlamde, en hy sien sommer dat die man se hoopvolle gesig val, “maar wat ek het, gee ek vir jou.” Nou staan Johannes langs Petrus, en hy kyk die man stip aan. “In die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” beveel Petrus die man.

Verstom sit die man daar en staar vir Petrus en Johannes aan. “Is die kêrel besig om met my die spot te dryf?” wonder hy vererg. Maar dan sien hy Petrus se uitgestrekte hand na hom uitreik. Hy gryp wanhopig na hierdie laaste strooihalmpie. En dan voel hy hoe die onmoontlike met hom gebeur. Hy voel die krag in sy dooie, verskrompelde bene invloei. Sy enkels word sterk. Hy voel hoedat Petrus hom optrek. Sy hart bons wild in sy keel. Hy staan! Nee, eintlik spring hy op!

Die man staan regop en kyk vol verwondering na sy bene en voete wat vir die eerste keer in sy lewe wonderbaarlik bruikbaar geword het.

Hy spring op en af, net om dóódseker te maak dat hy nie droom nie. Trane van blydskap stroom onbedaarlik oor sy wange. “Loof die Here! Loof die Here!” jubel hy, terwyl hy ronddans. “Kyk, ek kan loop!” vertel hy vir elkeen wat hy teëkom terwyl hy saam met Petrus en Johannes die tempel inhuppel.

Binne minute is daar 'n skare van mense rondom die man, want elkeen wat in Jerusalem bly, ken hom al vir baie jare en almal is verbaas om hom te kan sien loop. Oor en oor vertel hy sy storie. Hy kan net nie ophou om God te loof en prys en vir elkeen te vertel van die asemrowende wonderwerk wat so pas met hom gebeur het nie. En die hele tyd is hy nes 'n klein brakkie al agter Petrus en Johannes aan.

En dan skielik besef Petrus dat hier 'n geleentheid vir hom oopgegaan het en hy gryp dit met albei hande aan: “Israeliete, waarom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid hierdie man gesond gemaak het?”

Waar hulle in die pilaargang van Salomo staan, sak daar skielik 'n doodse stilte neer, en almal luister na Petrus.

En dan begin hy en vertel vir die skare van Jesus, dat Hy heilig en opreg was, maar dat húlle, die Jode Hom verwerp het en doodgemaak het. Maar God het Hom uit die dood opgewek, en dit is juis Hy wat hierdie man krag in sy bene gegee het. Hy vertel verder dat ál hierdie dinge deur die profete voorspel is. God het Sy Seun, Jesus na die wêreld toe laat kom om vir hulle tot 'n seën te wees.

Daardie dag kom nog 'n groot aantal mense tot geloof sodat die gelowiges se getalle tot 'n volle vyfduisend groei!

God gee vir my en jou vandag ook talle geleenthede om vir Hom te getuig. Kom ons gryp elke geleentheid aan en basuin dit uit dat Jesus die enigste Verlosser is.

Gebed:

Here, ek wil dit uitbasuin dat U Here is. Gee my die ywer, krag en wysheid om dit te kan doen!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026