Verhoudingsmaaltyd

17 February, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verhoudingsmaaltyd

1 Korintiërs 10:14-22

VIDEO | LUISTER

Oor die vraag oor hoe ver ons Christelike vryheid strek, het ons vir mekaar gesê dat God alles heilig geskep het, en dat ons nie om Godsdienstige redes sekere soorte kos hoef te vermy nie, selfs al is dit oorspronklik bedoel as afgodsoffers. Maar wat van afgodsdiens? Hoe moet ek daarteenoor staan? In Paulus se tyd was afgodery die algemene praktyk vir die mense van Korinte, en die Christene was maar ‘n baie klein minderheid. Paulus se baie duidelike waarskuwing aan die gemeente is dat hulle niks te doen moes hê met enige vorm van afgodsdiens nie.

Dit klink mos vanselfsprekend, maar dit was nie heeltemal so eenvoudig nie. Groot heidense feesgeleenthede waaraan die hele stad deelgeneem het, was ‘n alledaagse ding. Soos wat Kersfees vandag almal raak, selfs nie-gelowiges, so was hulle heidense feeste ter ere van die een of ander afgod ook vir almal. Dan was daar verder ook gereelde kultiese maaltye waar nuwe vriendskapsbande gesmee word en besigheidskontakte uitgeruil word. Hierdie was jolige geleenthede en almal het deelgeneem – alles natuurlik ter ere van die een of ander afgod!

Vir die Christene in Korinte was hierdie dinge alledaags. Dit was immers alles deel van die lewe voordat hulle gelowig geword het. Wat sou nou skielik daarmee fout wees? Wat is verkeerd met ‘n lekker maaltyd en ‘n bietjie joligheid?

Die probleem is dat dit ‘n driehoekige gemeenskap tot stand bring, waar die gelowiges, die ongelowiges en die afgode die drie elemente vorm. Géén gelowige kan staande bly as hulle deel vorm van só ‘n gemeenskap nie!

Paulus tref nou ‘n vergelyking met die Nagmaal, waar daar óók ‘n driehoekige gemeenskap ter sprake is. Hier is dit egter ek as gelowige wat die eerste element is. Saam met my is daar die ander gelowiges en natuurlik Jesus Christus, wat die derde element vorm.

Die vraag is: Wat gebeur eintlik wanneer ons Nagmaal gebruik? Wanneer ek uit die beker drink, word die dinge wat met Jesus gebeur het tydens Sy kruisiging, die versoening met God en die vergifnis van sonde, as’t ware oorgedra aan my. Daar kom dus ‘n gemeenskap met die bloed van Christus tot stand.

Die brood het ook verdere simboliese betekenis. Wanneer daar in Paulus se tyd brood gebreek is, is dit gewoonlik gedeel met iemand anders. So byvoorbeeld het Jesus die brood gebreek, en is dit uitgedeel aan die groot skare mense wat rondom Hom gesit het. Om so saam te eet, bind mense tot ‘n eenheid. In die Nagmaal werk dit op dieselfde manier: ons deel die brood met mekaar, en daar kom dan ‘n onderlinge gemeenskap met mekaar tot stand. Ons word dus in ‘n intieme verhouding aan mekaar verbind. Maar dit strek verder, want terselfdertyd kom daar ook ‘n gemeenskap met die liggaam van Christus tot stand. Soos ons vroeër genoem het, word hier ‘n driehoekige verhouding gevorm, want nie alleen is my gemeenskap met Christus ter sprake nie, maar is dit ek, Jesus én my medegelowiges wat almal saam in ‘n hegte verhouding gebind word tot ‘n eenheid van liefde.

‘n Tweede voorbeeld wat Paulus gebruik om hierdie eenheid te verduidelik, is die offers wat die Joodse volk gebring het. Wanneer iemand ‘n offer tempel toe bring, het die priester dit ontvang. ‘n Deel van die dier is geoffer aan God. ‘n Tweede deel het aan die priester gegaan, en die derde deel het gegaan aan die persoon wat die offer gebring het. Dit is gewoonlik dan tydens ‘n feestelike geleentheid gaargemaak en saam met familie geëet. Daar het dus ‘n driehoekige deelname plaasgevind: God, die priester en ek. Net so is die Nagmaal nooit slegs tussen my en God nie, maar sluit dit áltyd medegelowiges in. Ek kan nie op my eie Nagmaal vier nie!

Daar is egter sekere gevolge vir hierdie verhouding. Ons besef almal dat Christus sondeloos, heilig en sonder enige vlek is. Omdat die Nagmaal ons saam met Hom in ‘n verhouding bind, veronderstel dit dus ook dat ons as gelowiges ‘n sondelose en heilige lewe sal nastreef. Ons is immers brokstukke uit een brood, die liggaam van Christus!

Paulus sluit af met ‘n vraag: “Het ‘n afgod ooit enige betekenis?” Natúúrlik nie! Hulle is verdigsels van die duiwel. Deur met afgodery te heul, beteken egter dat jy met die duistere dinge van die duiwel deurmekaar raak. Ons weet natuurlik dat die duiwel die vyand van God is. Om dus deel te hê aan enige goddelose dinge waarmee die wêreld hulle besig hou, en om saam met die goddelose partytjies te hou en fees te vier, is om lof te bring aan die vyand van God, die duiwel. As jy deel hiervan is, durf jy dus ook nie deel hê aan die Nagmaal nie, want dan besoedel jy die heilige gemeenskap tussen gelowiges en Jesus. Jy verbreek die Nagmaalsdriehoek!

Kom ons hou hierdie verhouding suiwer en heilig, soos Jesus dit beplan het!

Gebed:

Here, help my asseblief om weg te bly van goddelose praktyke en verhoudings!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026