Verheerliking op die Berg

19 February, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Verheerliking op die Berg

Markus 9:2-8

Dit was nie ‘n baie goeie week vir Petrus nie. Jesus se woorde maal gedurig deur sy kop: “Moenie in my pad staan nie, Satan!”

Waarom sê ek tog al die verkeerde dinge op die verkeerde plek?” snik dit in Petrus. “Sal ons Meester my ooit kan vergewe?” Maar hierdie is nie ál wat hom pla nie. Hy het eintlik ‘n seer knop op die krop van sy maag oor die dinge wat Jesus gesê het van die manier waarop Hy gaan ly, en dat Hy doodgemaak gaan word. Hy dink nog steeds dat hy reg was om die Meester hieroor te berispe.

Petrus kyk op en dan sien hy sy Meester se vriendelike gesig. Sy oë soek dié van Petrus. Hy wink vir Petrus om nader te kom: “Kom, stap saam met My!” Jakobus en Johannes staan klaar by Jesus. Petrus wil nog wonder waaroor dit gaan, maar dan gee Jesus klaar die antwoord nog voordat Petrus kan vra: “Ons moet die berg uitklim, net ons vier.”

Die ander manne kyk hulle vraend agterna: “Waarom gaan ons dan nie saam nie? Wat gaan hulle daar bo doen?”

Ek dink die Meester gaan alweer bid....”

Die klim was nie maklik nie. Los klippertjies gly gedurig onder jou sandale uit en dreig om jou te laat val. In stilte streep die vier die steil berg op, met Jesus vooraan. Wanneer hulle feitlik héél bo is, gaan staan Jesus. Petrus kyk terug oor die asemrowende uitsig. Die stilte is oorverdowend, weg van die gedurige skares mense wat sy ore laat tuit. Alleen, net hulle vier. “Hier is ons seker baie naby aan die hemel,” wil hy sê, maar dan bedink hy hom, netnou sê hy wéér die verkeerde ding!

En dan raak Petrus bewus van iets wat besig is om te gebeur. Hy kry die gevoel dat God baie naby hulle is, amper asof hy soos Moses van ouds op heilige grond staan! Wanneer Petrus omdraai, skrik hy hom yskoud. Jesus se gelaat het totaal verander, Sy gesig blink skitterend, en Sy klere - onbeskryflik skitterwit en glansend blink! Niemand het Hom nog ooit só gesien nie. Die drie manne staan daar sprakeloos en hulle monde hang onbeskaamd oop. “Wat is aan die gang?” Hulle is bewend van angs, of dalk onsekerheid, verwondering? Hulle begryp nie!

Voor hulle verdwaasde oë verskyn daar skielik twee manne, hemelwesens weerskante van Jesus. Hulle het die voorkoms van wyse manne geklee in die drag van profete. Onmiddellik wéét hulle net dat dit Moses en Elia is daar saam met Jesus. En die twee wyse manne staan en gesels met Jesus asof hulle Hom baie goed ken!

Petrus is die eerste een wat sy spraak terugkry: “Rabbi, dit is baie goed dat ons hier is,” babbel hy onbedaard met ‘n stem wat bewe van aandoening en verwarring. “Laat ons drie hutte hier bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Petrus besef nie eers wat hy sê nie, want hy en sy twee maats was totaal verskrik.

Terwyl hulle verdwaas daar staan en kyk na die hemelse toneel wat voor hulle afspeel, is daar skielik ‘n swaar wolk oor hulle, wat sy skaduwee oor hulle laat val. Dan kom die gesagvolle stem uit die wolk: “Dit is My geliefde Seun. Luister na Hom!” Hulle krimp ineen van vrees, want onmiddellik besef hulle dat dit die stem van God is. “Sal ons dit ooit oorleef?” Hulle bewe van angs.

Meteens is alles verby. Die wolk is weg, die stem is weg, Moses en Elia is weg. Dit is net die oorverdowende stilte van die berg wat oorbly. En die herinneringe aan daardie dag se gebeure wat met vuur in die manne se geheue ingegrafeer is. Hoe kan hulle dit óóit vergeet!

Jesus wou die gordyne van die hemel op net so ‘n klein skrefie ooptrek vir die binnekring van Sy dissipels. Hulle moes finaal besef dat Hy nie daardie Messias was wat die Jode verwag het, wat bloot ‘n besondere Mens en ‘n sterk Leier was nie. Hy was baie meer as dit. Met Elia en Moses, twee baie gerespekteerde profete uit die Ou Testament wat alreeds in die hemel is, wou Jesus vir hulle wys dat Hy tuis is in die hemelse atmosfeer. En dan, daardie stem van God uit die wolk! God het daar Persoonlik vir hulle kom sê dat Jesus baie meer is as net ‘n aardse Messias. Hy is inderdaad die Seun van God! Nou is daar absoluut géén twyfel meer nie. En dan die opdrag: “Luister na Hom!”

Die boodskap van hierdie gebeurtenis, waar ’n deur oopgegaan het tussen hemel en aarde, is eintlik eenvoudig: Jesus is nie alleen die Lydende Messias, die Een wat moes sterf vir die sondes van die mensdom nie. Hy is tegelyk ook die Seun van God, die Een wat triomfantlik sit op die troon. Hy is in die hemel, waar Hy regeer oor die heelal, maar Hy is tegelyk ook op die aarde, en in Sy alomteenwoordigheid is Hy hier by jou en my. Vir Petrus se verstand was dit net te groot om te begryp. Ek verstaan dit ewe min en dit maak dat my verstandjie vasvries. Maar ek aanvaar dit in geloof.

Gebed:

Here, U Wese is gans te groot vir my verstand om te kan verstaan. Maar ek glo, Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026