Vergelding of Liefde?

22 February, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vergelding of Liefde?

Romeine 12:17-21

Video

Audio

"Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor ALLE mense.”  So skryf Paulus.

"Paulus kon darem maklik praat! Hy leef nie in die wêreld waarin ons vandag lewe nie!" So lyk my reaksie moontlik.

Hierdie twee eenvoudige sinnetjies van Paulus druis teen ons hele mens-wees in. Maar is hy dan nou rêrag so onregverdig? Hoe het Paulus se wêreld dan gelyk?

As ons so ‘n bietjie deur die geskiedenisboeke gaan blaai, kom ons op dinge af wat jou nekhare laat regop staan. Rome was die hoofsentrum van vervolging van die Christene. Die hele wêreld het boonop neergesien op hierdie “Christen-sekte”.

'n Paar jaar nadat Paulus hierdie brief geskryf het, het die groot vervolging in al sy walglike woede losgebars, veral onder die regering van die beginsellose, wrede Nero. Vir die “vermaak” van die Romeinse burgers is Christene aan pale vasgebind, met teer besmeer en aan die brand gesteek om as lewende fakkels te dien in die donker strate van Rome. Ander is weer, sommer vir die pure pret van die genotsugtige Romeine in die berugte Kolosseum saam met uitgehongerde leeus en ander wilde diere in die arena losgelaat. Vir die arme gelowiges was daar geen ontsnapkans nie, en hulle is lewendig verskeur. Daar word vertel van ‘n vrou wat op ‘n bul se rug vasgemaak is en tussen die leeus ingejaag is! Wat ‘n aaklige dood om te sterf! Dit was ‘n alledaagse gesig om gelowiges te sien wat gekruisig is nes Jesus. Terwyl hulle in uitmergelende pyn daar hang, moes hulle boonop die spotlag van die bloeddorstige Romeinse mans en meisies aanhoor. Baie gelowiges was onthoof, verbrand of doodgemartel terwyl die owerhede hulle probeer dwing het om hulle geloof af te sweer. Ander weer is bloot voëlvry verklaar. Dit het beteken dat enigeen hulle besittings kon afneem, spot, martel of selfs doodmaak, en geen haan sou daarna kraai nie!

"Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor ALLE mense.” Is dit hoe jy reageer op sulke wreedheid en onreg? Hoe het die Christene in Nero se tyd gereageer? Asemrowende verhale is vertel van gelowiges wat Paulus se woorde onthou het en terwyl hulle wreedaardig gesterf het, het hulle lofliedere tot eer van God deur die arena weerklink. Dit moes die Romeinse toeskouers ‘n pyn gegee het, want hulle het spesifiek gekom om te sien hoe die Christene krepeer van angs. Daar is ook talle verhale van Romeine wat tot bekering gekom het spesifiek as gevolg van wat hulle daar sien gebeur het!

Die Christene was so totaal anders as die ongelowiges. Kan dieselfde van my en jou gesê word?

Vandag wonder ek of ons ooit sulke opofferings vir ons geloof sal maak? Ons het dit vandag mos eintlik baie lekker! Alhoewel fisieke vervolging steeds ’n alledaagse ding is in sekere dele van die wêreld, is ons in die vrye wêreld hoofsaaklik aan geestelike vervolging blootgestel. In ‘n sekere sin is dit dalk net so erg, indien nie erger nie as fisieke vervolging. Spot, veragting, neutraliteit, onbetrokkenheid, afsydigheid, hierdie is almal dinge wat jou geestelik kan doodmaak en totaal afkraak.

Dikwels kom hierdie dinge op ons pad met ‘n doel. Ons moet onthou dat om ‘n gelowige te wees, nie beteken dat jou paadjie hier op aarde met maanskyn en soet roosblare besaai is nie. Christen-wees is beslis nie vir sissies nie! God sal soms toelaat dat die bose ons seermaak, en wat is my reaksie dan? Wraak sweer? Vergelding? As jy byvoorbeeld gespot word oor jou geloofsoortuigings, is jou natuurlike reaksie om terug te baklei of dalk in jou dop te kruip en te huil daaroor. Vir jou spotters is dit soos vet op die vuur, want dit is presies wat hulle wil sien!

Dit is nou presies waar liefde inkom. My eerste reaksie daarop behoort te wees dat ek te alle tye sal probeer om die vervolging te gebruik om God se Naam groot te maak, en op daardie manier liefde teenoor Hom uit te leef.  As jy byvoorbeeld daaroor glimlag en dit duidelik maak dat hierdie dinge jou net nader aan God dryf, sal hulle gespot versuur, want hulle het nie hulle doel bereik nie. Maar nog meer: net miskien sal een van hulle besef wat God se vryspraak aan jou kan doen, en dat hy sélf daardeur tot bekering kom. As dit gebeur, dan was die bietjie vervolging wat jy moes verduur deur en deur die moeite werd. Dan beteken dit eintlik dat jy nie alleen liefde aan God betoon het deur Sy Naam groot te maak nie, maar dat jy liefde aan jou medemens betuig het deur hom die geleentheid te bied om ook deel te kan hê aan die ewige lewe.

Paulus vra dus van my dat ek positief, liefdevol en opofferend betrokke moet raak by die ongelowiges wat oor my pad kom. Selfs al verwerp of spot of vervolg hulle my, moet ek steeds God se wonderbare lig en liefde teenoor hulle uitstraal. Onthou: Jesus het gesterf vir sondaars, nie vir goeie mense nie. Onthou ook dat Hy jóú gered het, in gróót liefde, en dít terwyl jy nog Sy vyand was nes die ander ouens wat jou vervolg! Sal ons nie dieselfde doen teenoor ons medemens nie?

Gebed:

Here, gee my die deursettingsvermoë, durf en genade om U liefde teenoor almal uit te straal, selfs wanneer ek vervolg word.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Bruilof Sonder Wyn?
18 September, 2026
Mense stroom na Jesus!
17 September, 2026
Vissers van Mense
16 September, 2026
Johannes
15 September, 2026
Epiloog
14 September, 2026