Vergeet Jou Verskille

21 January, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Vergeet Jou Verskille

Filippense 1:15-18

VIDEO | OUDIO

Dit was baie jare gelede – ek was nog maar 'n jong kêrel en ek het vir 'n paar maande in Durban se middestad gewerk. Elke etenstyd het ek deur die stad gaan stap en my verwonder aan al die mooi goed wat in die winkelvensters vertoon word.

Op een van my vele uitstappies hoor ek eendag 'n man baie opgewonde en vurig praat dat die ganse wêreld hom kan hoor bo die stadslawaai uit. Nuuskierig volg ek die geluid. Op die straathoek sien ek hom – die straatprediker. Sy klere het beslis beter dae geken en die Bybel in sy een hand was gehawend. Met die ander hand het hy met groot gebare beduie wat hy besig was om te sê. “Bekeer jou!” het sy stem deur die besige strate weergalm, “Jesus het jou lief!” Enkele nuuskieriges het kom stilstaan om te luister na sy dringende boodskap maar die meeste mense het haastig verbygeloop en gemaak asof hulle hom nie hoor nie!

Ek wou uitbars van die lag. “Dink hy rêrag dat hy iets gaan bereik?” Ek het my kop meewarig geskud en aangestap terwyl ek gedink het: “Wat 'n spektakel maak hy nie van homself nie!”

Later het ek egter weer oor die insident gewonder en toe kom ek tot die slotsom dat as daardie straatprediker slegs een enkele siel vir Jesus gewen het met sy prediking, dan is dit meer as wat meeste van ons gelowiges óóit doen! Vandag voel ek skaam dat ek die man destyds so met minagting behandel het. Hy het bloot gedoen wat hy geglo het reg was!

Ek het al dikwels gehoor hoedat ‘n leraar die prediking van ‘n ander leraar, gewoonlik van ‘n ander denominasie, kritiseer. Gewoonlik word hy dan daarvan beskuldig dat sy metodes van verkondiging ten hemele skree. “Mens preek mos nie so nie!” Predikers verskil maar dikwels van mekaar.

Elkeen wat so sy mede-leraar wil slegsê moet eers ‘n bietjie baie mooi gaan luister na wat Paulus sê. Hy was seker die mees onselfsugtige prediker óóit. Hy het dééglik besef dat al die leraars se motiewe nie altyd so suiwer was nie en dat daar van hulle was wat net vir hulleself wou naam maak. Die feit was egter dat hulle steeds die Evangelie verkondig het, selfs in hulle swakheid! Dit was die groot faktor wat saak gemaak het! Sommige van hierdie predikers was jaloers op Paulus oor die asemrowende suksesse wat hy behaal het. Hulle het hom genadeloos gekritiseer en sy lewe daar in die tronk baie versuur. Maar selfs hierdie openlike vyandigheid het Paulus nie van stryk gebring nie. Sy kommentaar was bloot dat solank hulle net die Evangelie verkondig het, dan was hy gelukkig. In vers 18 skryf hy: “Wat maak dit egter saak? In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig – en daaroor is ek vol blydskap.

Paulus wil dit beklemtoon dat die Here ‘n reguit hou kan slaan, selfs met ‘n baie krom stok!

Ons moet ons daarop toelê om reg te kan onderskei en gedurigdeur die Heilige Gees vra om ons die nodige wysheid en onderskeidingsvermoë te gee. Ons moet wéét wanneer iemand besig is om ‘n dwaalleer te verkondig. Op verskeie plekke in die Bybel word ons hierteen gewaarsku. Dit is egter nie waaroor dit hier gaan nie. Dit gaan eerder oor alternatiewe metodes om die Evangelie uit te dra en hierin word ons gevra om verdraagsaam te wees teenoor mekaar.

n Klompie jare gelede het al die Christelike kerke in Ballito saamgekom om ‘n opvoering te loots van die bekende toneelstuk: “Heaven’s Gates & Hell’s Flames”. Dit is ‘n aangrypende stuk wat gemik is daarop om ongelowiges van die Evangelie te vertel. Dit was vir ons ‘n reuse projek en ‘n paar honderd gelowiges van wyd-uiteenlopende aanbiddingstyle was betrokke. Vir twee weke lank het ons elke aand skouers geskuur. Vir my as stoere NG lidmaat, grootgemaak in die streng gereformeerde tradisie, was hierdie oefening ‘n geweldige kultuurskok! Vir die eerste keer in my lewe word ek gekonfronteer met talle dinge waarvan ek nog net vaagweg gehoor het en wat ek veroordeel het. Die troos vir my was dat ons eie leraar ook ten volle ingeskakel het by al die verrigtinge en dat hierdie goed hom blykbaar gladnie gepla het nie. Dit het my gerus gestel en weldra was ek een met die massa van gelowiges wat maar net een enkele doel voor oë gehad het, om Jesus se Verlossing oor te dra aan die duisende ongelowiges van die Ballito omgewing.

Die gevolg van hierdie handevat van totale teenoorgesteldes, was dat ons aand-vir-aand ‘n stampvol saal gehad het, waar nuuskieriges tot buite die saal by die vensters gestaan en inkyk het omdat daar nie genoeg plek was vir almal binne nie. 'n Groot aantal mense het gedurende hierdie twee weke hulle harte vir Jesus gegee.

Ons was bereid om ons verskille te vergeet en die Heilige Gees het die res gedoen. Wanneer ons die dag besluit om mekaar onvoorwaardelik te aanvaar en die Evangelie as prioriteit nommer een stel, dan gee ons God die geleentheid om in Sy volle krag deur ons te werk. Kom ons doen dit!

Gebed:

Here, vanoggend moet ek bieg dat ek dikwels nog ander kerke en predikers kritiseer. Help my om die verskille te vergeet en om hande te vat en so U Naam te verheerlik!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vir Oulaas, Timoteus
27 July, 2026
Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026