Markus 9:38-50
Johannes kom uitasem aangehardloop: “Meester, hier is moeilikheid!” Die jong dissipel is hewig ontsteld! “Hier is ‘n ou wat bose geeste uitdryf in U Naam!” Jesus kyk Johannes aan met ‘n glimlag op Sy gesig, sonder om iets te sê. “Meester, U verstaan nie! Hy is nie een van ons mense nie!” Steeds reageer Jesus nie. “Ons het hom probeer keer, Meester - hy mag mos nie? Hy is nie een van ons groep nie?”
Johannes se geheue is baie kort, want kort tevore het hy en sy maters hande in die hare gestaan toe hulle sélf nie kon hond-haaraf maak met ‘n bose gees nie. En nou kom hierdie man wat nie eers deel van hulle eksklusiewe groep is nie, en hy dryf geeste uit. Hoe durf hy?!
Jesus sit sy arm om Johannes se skouers: “Wees rustig Johannes, moenie hom probeer keer nie. Wie nie teen ons is nie, is vir ons!”
Jesus leer die manne, én vir ons vandag ‘n paar waardevolle lesse in die lewe. Die eerste is verdraagsaamheid. Daardie man wat bose geeste uitgedryf het, was wel nie een van hulle groep nie, maar die belangrike is dat hy dit in Jesus se Naam gedoen het, en nie uit sy eie krag nie. Hy was dus inderdaad óók ‘n volgeling van Jesus.
Ons is dikwels nes Johannes: ek dink my eie kerk is die enigste een wat waarlik al die regte antwoorde het! As iemand anders ook iets regkry, raak ek jaloers en skiet hom summier af! Hier in Ballito kom ‘n groep manne weekliks bymekaar rondom ‘n koppie koffie. Hulle verteenwoordig omtrent elke denominasie waaraan jy kan dink. Nogtans bid en gesels hulle saam oor dinge wat gelowiges raak, dra mekaar se laste en bemoedig mekaar, alles terwyl hulle respek het vir mekaar se uiteenlopende sieninge oor geloofsake.
Jesus se tweede waardevolle les, is dat jy moet sorg vir die “kleintjies.” Dis nou diegene wat swak is in die geloof. As sterk gelowige moet jy besonder versigtig wees hoe jy met so ‘n persoon omgaan, en dat jy nie dalk met jou optrede veroorsaak dat hy struikel nie. Iemand wat jonk is in die geloof, is besonder broos, en hy kan baie maklik op ‘n dwaalspoor beland. Jesus is só ernstig oor hierdie saak, dat Hy vir die manne sê dat iemand wat so ‘n “kleintjie” laat struikel, liewer met ‘n “maalklip van 'n donkie” oftewel ‘n meulsteen om die nek in die see gegooi moet word. Met ‘n meulsteen om jou nek sink jy soos ‘n klip!
Derdens leer Jesus dat daar nie dinge in jou lewe mag wees wat verhinder dat jy Hom behoorlik volg nie. As jy Hom wil volg, is daar sekere opofferings wat jy noodwendig moet maak. Jesus gebruik natuurlik beeldspraak, en dit beteken nie letterlik dat jy jou hand moet afkap as dit jou laat struikel nie. Kom ons noem ‘n voorbeeld: Jy word ‘n baie goeie betrekking aangebied met ‘n salaris waarvan meeste mense maar net kan droom en die voordele is fenominaal. Dit behels egter dat jy dinge moet doen wat teen Bybelse beginsels indruis. Wat sal jy doen? Oë toeknyp en daarmee voortgaan? Wat Jesus ons hier leer is dat dit beter is om so ‘n aanbod van die hand te wys en daarmee ‘n groot opoffering te maak, eerder as om die kans te staan om jou saligheid daardeur te verloor! As bevordering van jou vereis om jou beginsels prys te gee, moet jy dit liewer weier. En as dit kan maak dat jy dalk van die Here af kan wegdryf, dan moet jy dit eerder van die hand wys. “En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit! Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan as om met twee oë in Gehenna gegooi te word, waar die wurm in hulle nie doodgaan en die vuur nie geblus word nie.” (Mar. 9:47-48)
Vierdens moet jy bereid wees om te ly. As ‘n jong seun, het ek grootoog staan en kyk hoe die plaasimplimente herstel word. Die yster is in ‘n warm vuur gloeiend rooi verhit. Dan word dit op ‘n aambeeld met ‘n hamer gekap sodat die rooi vonke spat. Stadigaan word dit gevorm totdat dit skerp is en presies die regte vorm het. Maar die hitte maak ongelukkig die yster sag, sodat dit dan baie maklik gaan slyt wanneer dit gebruik word. Om dit weer hard te kry, word dit weer in die vuur gesit totdat dit rooiwarm is en daarna vinnig in yskoue water gedoop om dit te louter sodat dit hard en bruikbaar kan wees.
Op presies dieselfde wyse moet gelowiges bereid wees om die slae te vat. Dit is juis die pynlike dinge van die lewe, die vuur en hamerslae, wat jou geestelik vorm. Dan kom die “hardmaakproses” wat dinge soos Bybelstudie en kursusse kan behels, want dis wat ons louter en geestelik sterk maak. Jy moet met ander woorde bereid wees om swaar te kry ter wille van Jesus en die Evangelie. Die bonus is dat dit jou geestelik laat groei.
Die vyfde les wat Jesus ons leer, is om vrede na te streef. Hy gebruik die beeld van sout. Sout gee smaak aan kos, maar sout maak ook wonde gesond en ontsmet dit. Gelowiges moet “smaak” gee aan hulle verhouding met ander gelowiges, en sodoende vrede bewaar tussen mekaar. Ons gelowiges het mekaar baie nodig, want ons dra mekaar, bemoedig en leer mekaar en maak mekaar sterk. As die vredesband tussen ons verbreek word, kan dit rampspoedig wees, dus moet ons alles doen om ons verhouding met ander gelowiges “smaakvol” te hou.
Gebed:
Here, leer my ware liefde en verdraagsaamheid teenoor gelowiges wat anders as ek is!