1 Johannes 4:1-6
Die klokkie by die buitehek lui. Ek loer by die voordeur uit, oortuig dat dit weer iemand is wat besems smous. Maar dan sien ek dat dit ‘n man en vrou is wat baie netjies aangetrek is. Ingedagte druk ek die knoppie om die hek vir hulle oop te maak. En eers as hulle op pad is na die voordeur toe, dring die besef tot my deur dat ek die hek vir daardie mense oopgemaak het wat so knaend van deur tot deur loop om die boodskap te verkondig van die God wie se Naam slegs ‘n uitgesoekte klompie uitverkorenes ken.
Ek kan myself skop, maar nou is dit te laat en vriendelik nooi ek hulle maar binne. Die man beduie na ‘n pamflet in sy hand en val sommer weg met: “Wat is jou opinie van die wêreldse regering wat oor ons aangestel is?”
Uit dure ondervinding weet ek mos dat hulle gladnie oor regerings wil praat nie, maar hierdie is net ‘n aanknopingspunt om oor iets baie dieper te gesels. Ek stop die man nét daar: “Kyk, ek weet waaroor jy eintlik met my wil gesels, maar ek wéét wat ek glo en jy sal my nie anders oortuig nie! Of kan ek jóú dalk oorreed om anders te glo?” En daarmee draai hulle teleurgesteld om en loop.
Die Jehovah’s Getuies is maar een van die “valse profete” wat vandag die lewe versuur vir die gelowiges. En moenie dink dat hulle nie gelowiges oorrompel met hulle valse lering nie. Ek was ‘n tyd gelede in ‘n lang gesprek met ‘n man en vrou oor geloofsake. Nodeloos om te sê, kon die een die ander nie oortuig nie. Wat my egter opgeval het was dat die vrou eenmaal ‘n aktiewe lidmaat was van die NG Kerk en dat sy deur die Getuies oortuig is dat sy al die jare verkeerd geglo het. Moet hulle nie ligtelik opneem nie! Hulle oorredingsvermoë is bitter gevaarlik! As jy dan met hulle móét praat, moet jy dóódseker wees dat jou eie geloof eenhonderd persent rotsvas is en dat jy jouself vooraf baie deeglik voorberei het op presies wat hulle glo en wat hulle dwaalleer is.
Waaraan herken ons ‘n vals profeet? Johannes verduidelik dit in baie eenvoudige terme, dat ons nie elkeen wat sê dat hy die Gees van God in hom het, moet glo nie. “Ondersoek elkeen,” maan hy. Jy moet weet met wie jy te doene het. Die belangrikste kenmerk van ‘n vals profeet, volgens Johannes, is dat hulle nie bely dat Jesus waarlik die Christus is wat mens geword het nie. Nou, kom ons toets dit ‘n bietjie aan die Getuies: Vra jy hulle reguit of hulle in Jesus glo as die Christus, dan sal hulle onomwonde “Ja!” antwoord. Maar dan is hulle mos nie vals profete nie? Maar kom ons krap ‘n bietjie dieper. Johannes het in sy Evangelie se inleiding beskryf presies wat hy bedoel met Jesus as die Christus: “In die begin was die Woord (Jesus) daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” In kort gestel: Jesus is waarlik God. Hier begin hulle rondtrippel: “Nee, nee! Jesus kon onmoontlik nie waarlik God wees nie, maar wél ‘n Goddelike wese, soos ‘n verhewe soort engel. Hy is die Seun van God, net soos ons ook almal maar kinders van God is....”
Op daardie punt het hulle die toets alreeds gedop, want hulle erken nie vir Jesus vir Wie Hy werklik is nie. Hulle is nie die enigste valse profete nie - daar is talle ander, soos die sogenaamde Nuwe Hervormers wat gelowiges vergiftig met hulle Godslasterlike uitsprake van “moderne teologie.” Húlle beskou ek ook as valse profete. Hulle bevraagteken onder meer Jesus se maagdelike geboorte en Sy opstanding uit die dood. “Jesus het net in die harte van Sy dissipels opgestaan,” wil hulle beweer. Dit is nie dieselfde Jesus waarvan ek in die Bybel lees nie! My Jesus het nie in die graf agtergebly nie - my Jesus lewe!
Al die vals leerstellings daar buite maak jou beangs. Dit gryp jou aan die hart en laat jou in ‘n koue sweet uitslaan. Maar dit is totaal onnodig! Johannes sê dat gelowiges aan God behoort en dat Hy wat in ons is, alreeds die vals profete oorwin het. As gelowiges versterk ons mekaar in Jesus. Dit is die gelowige wat homself onttrek uit die gemeente wat die gevaar loop om deur die vals profeet oorrompel te word. Dit is dus van uiterste belang om ten volle by jou gemeente in te skakel en aktief deel te neem in die gemeente se werksaamhede. Moenie die eredienste misloop nie. Dit gaan nie net oor die preek of boodskap nie. Dit gaan oor gemeentelede wat met mekaar praat en mekaar bemoedig. Dit gaan oor die wonderlike voorreg om saam met ander gelowiges as ‘n eenheid God te verheerlik, saam te bid, saam te sing, saam nagmaal te gebruik. En as iemand las het van ‘n vals profeet wat hom teister, dan is die ander daar om raad te gee en om te versterk.
Laastens wil ek sê, dat as jy dalk geteister word deur iemand wat jy vermoed ‘n vals profeet is - gesels met iemand wat jy kan vertrou en lees kommentaar van ‘n betroubare gelowige oor die onderwerp sodat jy kan weet waarmee jy te doen het. En natuurlik die héél belangrikste: Bid! Die Heilige Gees sal jou lei!
Gebed:
Here, gee my asseblief wysheid om te kan onderskei tussen die ware en die valse!