Lukas 9:1-6; Matt. 9:35-10:15
Al hoe meer dissipels begin Jesus nou volg, manne sowel as vroue wat elke dag kom luister na die Meester wanneer Hy leer. Maar dis nie maklik om hierdie Jesus se volgeling te wees nie want dit verg opoffering, uithouvermoë en harde werk. So hoor Simon eendag dat iemand die Meester vra of hy maar Sy volgeling kan word. “Jakkalse het gate en voëls het neste,” het die Meester hom geantwoord, “maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”
“Ja," stem Simon saam, "hoeveel keer moes ons nie al in die veld slaap nie, soms in die bittere koue. Baie waar!”
Op 'n ander geleentheid hoor Simon hoedat die Meester een van die gereelde dissipels nader roep: “Volg My,” het Hy vir die man gesê. Maar toe het die kêrel skielik baie verskonings – hy moes kwansuis eers sy pa gaan begrawe!
Een oggend roep die Meester die twaalftal bymekaar. "Dis alles goed en wel dat julle elke dag na My luister en van My leer, maar nou het die tyd gekom dat julle die dinge wat julle geleer het in die praktyk gaan toepas." Daardie dag sal Simon nooit vergeet nie. Hulle het teen die hang van 'n heuweltjie gesit en onder hulle het die koringlande geil gestaan, goudgeel en nét reg om ge-oes te word. Simon is nou nie juis 'n boer nie, maar die goue koringland het hom aan die hart gegryp.
“Die oes is groot,” het hy die Meester hoor sê, “maar die arbeiders is min.”
Simon het met 'n glimlag sy oog laat speel oor die wuiwende goue koringland. Die arbeiders was juis besig om die oes in te samel en oral het bondels goue gerwe vol in die aar vasgebind gestaan.
“Bid dan dat die Here aan Wie die oes behoort, Sy arbeiders sal uitstuur.”
Vir 'n oomblik is Simon skoon uit die veld geslaan. Hy verstaan nie mooi nie, maar stadig gaan daar vir hom 'n liggie op: “Vissers van mense! Ja, nou verstaan ek, die Meester het mos gesê dat Hy van ons vissers van mense gaan maak! Dis mos dieselfde as arbeiders vir die oes!”
“Julle was die afgelope tyd elke keer verwonderd wanneer Ek siekes genees en duiwels uitdryf.”
“Ja Meester, elke keer is dit vir my 'n wonderwerk!” beaam Simon.
“Maar hierdie dinge is ook binne julle mag,” sê Jesus vir hulle, “Ek gee vandag vir julle die mag om presies dieselfde te kan doen en Ek gee jull boonop ál die gesag oor die duiwels.”
Simon val so byna van sy klip af: “Maar Meester........?” Dit klink so onwerklik, hoe kan hy, 'n doodgewone visserman sulke dinge vermag?
Dan gaan die Meester voort en verduidelik presies hoe hulle te werk moet gaan. Die eerste instruksie slaan alreeds vir Simon tussen die oë: “Moenie enigiets saamvat nie, nie eers 'n kierie of brood of geld of ekstra klere nie.”
“Maar Meester........” wil Simon protesteer. Hulle gaan dan vir meer as 'n week die sendingveld in. Waarvan moet hulle lewe?
“Wanneer julle in 'n dorp aankom, moet julle tuisgaan by die huis wat julle uitkies. Daar moet julle bly totdat julle na die volgende dorp gaan. En as iemand julle nie wil ontvang nie, skud dan bloot die stof van julle voete af en gaan aan. Julle hooftaak is om die Evangelie te verkondig en siekes gesond te maak.”
En so vertrek Simon en sy maats op 'n splinternuwe avontuur. Die eerste sieke wat na hom kom, laat Simon met 'n yslike knop op die krop van sy maag. “Sê nou net dit werk nie....” Maar as hy vir die man sê dat hy in die Naam van Jesus, sy Meester genees is, staan die sieke skielik blakend gesond voor Simon.
“Dit werk! Dit werk!” wil hy uitskreeu, maar hy bedwing homself. Die volgende een is makliker en aan die einde van die dag is daar 'n dosyn mense genees.
Alles gaan egter nie net voor die wind nie en telkemale kry Simon ook maar die wind van voor as iemand hom 'n afjak gee. Die evangelie val nie goed op almal se ore nie. Maar alles is tóg oor-en-oor die moeite werd en die week vlieg soos 'n oogwink verby!
Vandag kan ons ook sê dat jy nie moet sit en tob daaroor as jou boodskap van hoop aan iemand begroet word met ‘n afjak nie. Dit het al menigmaal met my gebeur. Jou natuurlike reaksie is om sleg en verwerp te voel oor sulke uitlatings. Onthou net dat dit eintlik niks met jou te doen het nie want jy is maar net die Here se boodskapper en dit is nie vir jou as persoon wat hy afjak nie, maar eintlik vaar hy uit teen God! Dit is met ander woorde ‘n saak tussen hom en die Here en jy is slegs die boodskapper of tussenganger. Dit is soos wanneer iemand ‘n sekretaresse uitvloek wanneer hy kwaad is vir haar baas!
Gebed:
Here, ek kan U nooit genoeg dankie sê vir alles waarin U vir my voorsien nie. Dankie dat U so getrou is!