Matteus 28:16-20
Opgewonde loop die groepie teen die berg op in Galilea. Die oggend daar op die strand na die groot visvangs, het Jesus ‘n afspraak met hulle gemaak om hulle hier op die berg te kom ontmoet. Hulle kon sien dat dit ‘n baie belangrike saak was, maar Hy wou nie ‘n woord rep oor wat sou gebeur nie.
Johannes voel ‘n knop op sy maag van pure senuwees. Hy kry ‘n vae gevoel dat hier vandag iets baie, baie groot gaan gebeur. Wanneer hulle bo kom, mis Johannes se hart ‘n paar slae. Op ‘n klip sit Jesus vir hulle en wag, ‘n innemende glimlag op Sy gesig. Hy is inderdáád die Opgestane Here! Alhoewel Jesus alreeds etlike kere oor die afgelope veertig dae sedert Sy opstanding aan hulle verskyn het, kon hulle maar net nie aan die gedagte gewoond raak dat Jesus waarlik opgestaan het nie. Daar was selfs ‘n paar van hulle wat ernstig getwyfel het. Dink maar aan Thomas. Hulle is egter almal nou deeglik bewus dat Jesus die Seun van God is.
Wanneer Johannes nou vir Jesus sien, besef hy maar al te deeglik Wie Jesus werklik is, en hy val voor Hom neer en aanbid Hom. Die res doen dieselfde.
Jesus het vir oulaas ‘n laaste aankondiging vir die elftal. Wat Johannes daar uit Jesus se mond hoor, is ‘n volmagsaankondiging, ‘n opdrag en ‘n belofte.
Oor die afgelope drie jaar het Johannes telkens vir Jesus hoor sê dat alle mag aan Hom behoort. Hier kom bevestig Jesus dit maar net weer ‘n slag: álle mag behoort aan Hom! Dit is dus met outoriteit dat Hy hulle die opdrag gee.
Jesus se opdrag is vierledig: gaan, maak dissipels, doop en leer. In kort, ‘n sendingopdrag. Die opdrag is dus om die wye wêreld in te gaan en wêreldwyd die Evangelie van Jesus Christus te vestig, die sakrament van die doop te bedien aan die nuwe gelowiges. Hulle moet hierdie nuwe gelowiges dan opleiding gee sodat hulle weer dieselfde kan doen, asook vir God met oorgawe dien. Wanneer Jesus sê: “maak dissipels”, is die bedoeling nie alleen om mense na Hom te lei nie. Dit is egter baie belangrik dat Johannes-hulle deeglik moet besef dat hierdie bekeerlinge opgelei moet word sodat hulle ware dissipels sal word, wat op hulle beurt weer uitgaan om dissipels, oftewel werkers vir die Koninkryk te werf en op te lei.
Dan gee Jesus vir hulle boonop ‘n wonderlike belofte, dat Hy by hulle sal wees tot aan die voleinding van die wêreld.
Vandag, tweeduisend jaar later, het die Kerk baie aanslae beleef. Islam probeer baie hard om die kerk te verswelg; Hindoeïsme verkondig dat dit nie saak maak watter God jy dien nie, en Jesus kan maar saam met al die ander aanbid word; Bhuddisme sê dat jy gladnie eers ‘n God hoef te hê nie, solank jy net goed leef. En so kan ons aangaan. Daar is meer as ‘n duisend verskillende godsdienste wêreldwyd. Ten spyte van al hierdie teenslae het Jesus Christus se kerk gegroei tot die heel grootste van al die godsdienste.
Alles het begin by elf manne wat gewillig was ten spyte van hulle ongeloof en onbekwaamheid. Jesus het vir hulle die nodige geloof gegee, en die Heilige Gees het hulle bekwaam gemaak. Die groot geheim was dat hulle bekeerlinge nie maar net saam kom aanbid het nie. Hulle het egter daardie opdrag met groot ywer verder geneem, toegerus deur dieselfde Heilige Gees. Meeste Christen-gelowiges het vandag “lui” geword, en sit maar net soos ‘n spons en absorbeer al die mooi dinge wat na hulle kant toe kom. Jesus se opdrag om uitgestuurdes te wees, geld egter vir elke Christen. Ek en jy het vandag presies dieselfde taak as die elf manne daar op die berg, om die Evangelie uit te dra na die wêreld en dissipels te maak. Omstandighede het natuurlik geweldig verander, maar vandag het ons die wonderlikste middele om die blye boodskap te kan uitdra, internet, whatsapp, radio en nog baie ander. Daar is organisasies soos Geopende Deure wat Bybels in plekke smokkel waar die Woord verbode is. Jesus se opdrag aan jou vanoggend is om betrokke te raak.
Hoe kan ek betrokke raak? Hoe kan ek ook ‘n “uitgestuurde” word?
Stuur hierdie dagstukkies aan ander, of as dit moeilik is, stuur vir my die adresse of selfoon nommers, en ek sal dit namens jou aanstuur. Terloops, baie dankie vir diegene wat gereeld vir my adresse en nommers stuur van nuwe intekenare op die dagstukkies. Raak betrokke by ‘n sendingorganisasie soos Geopende Deure, die Christelike Seemansorganisasie, Operasie Mobilisasie of waar die Gees jou ookal lei. Leef Jesus se liefde uit in jou daaglikse lewe. Raak betrokke in jou eie gemeente. Spoor jou gemeente aan om betrokke te raak by sendingwerk indien hulle nie reeds is nie. Wees kreatief! As jy gewillig is, sal die geleenthede en deure vir jou oopgaan.
Gebed:
Here Jesus, ek stel myself vandag tot U beskikking. Wys my asseblief waarheen U my wil stuur of waar U my wil gebruik. Dankie vir daardie wonderlike belofte dat U by my is vir ewig en altyd.