“U Was te Laat, Here.....”

28 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie “U Was te Laat, Here.....”

Johannes 11:17-32

Video

Audio

In die dorpie Betanië is alles in rep en roer, want uit die groot stad Jerusalem het mense daarheen gestroom om die twee susters, Marta en Maria te kom troos na die tragiese afsterwe van hulle broer, Lasarus. Dit was skaars ‘n uur se stap van Jerusalem af, dus was dit nie veel moeite vir hierdie mense nie, en kon hulle maklik hulle plig nakom. Ja, dit was maar ‘n droewige prentjie, om al die mense so te sien huil en kerm en rou. Lasarus was ál wat hierdie twee vroue nog oorgehad het in die lewe, en nou is hy dood, begrawe, vir ewig weg.

Marta skarrel rond om almal te bedien wat daar aankom, maar Maria, sy sit net daar en huil saggies. Haar boetie, haar enigste is dood! Haar verlies is baie groot!

Dan kom iemand aangedraf en fluister vir Marta in die oor: “Jesus is op pad!” Haastig spring sy op en hardloop haar Meester tegemoet. ‘n Entjie buite die dorp kry sy Hom, en sy is sommer dadelik baie kwaad vir Hom dat Hy so lank gedraai het. “Here, as U hier was sou my broer nie gesterf het nie!” Waarom het Hy nie betyds gekom nie? Sy het tog betyds ‘n boodskapper gestuur om Hom te laat haal, en die man is dae gelede al terug by die huis! Waarom sou Jesus tog so lank getalm het? Maar steeds glo Marta heimlik dat Jesus nog iets aan die saak kan doen. Alles kan tog nie totaal verlore wees nie! Maar selfs in haar wildste drome was sy nie voorbereid op dit wat sy binnekort sou aanskou nie. As Marta dus vir Jesus sê dat sy weet dat God vir Jesus sal gee wat Hy vra, bedoelende dat Lasarus steeds gered kan word, dan sien ons ‘n sprankie hoop in haar, maar die ongeloof weeg baie swaarder as die hoop.

Jesus antwoord haar dat Lasarus wél uit die dood sal opstaan, maar hierdie gedagte is een te veel vir Marta, want dit is tog nie moontlik nie? Haar broer is al vier dae dood! Sy liggaam het al begin ontbind in die bedompige klipgraf….. nee, dit is tog totaal onmoontlik! Ja, eendag met die opstanding - al die kinders van God sal dan lewendig word!

Jesus se antwoord aan Marta is vandag vir jou en my een van die grootste trooswoorde wat ons óóit kan kry: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” Hierdie is nie maar net trooswoorde aan Marta oor haar broer nie, maar ‘n dramatiese uitspraak wat weergalm deur die sale van die hemel. “Glo jy dit?” vra Jesus vir Marta. “Glo jy dit?” vra Jesus vandag ook vir jou en my. As jy hierdie uitspraak glo, dan beteken dit steeds nie dat jy die ewige lewe het nie. Die belangrikste is dat jy in Jesus glo. Is daar ‘n verhouding tussen jou en Jesus? Het jy vir Hom gesê dat jy onvoorwaardelik in Hom glo - dat Hy jou Verlosser is?

Wat presies behels Jesus se uitspraak? Die dood is vir die gelowige nie die einde van die pad nie, maar eerder die begin van ‘n splinternuwe lewe, een waar die verskrikking van die dood nie meer ‘n faktor is nie. Die Bybel leer ons baie duidelik dat die dood slegs die poort is na hierdie wonderlike lewe saam met Jesus, waar daar selfs nie eers meer siekte, oud-word of pyn is nie, en waar sonde totaal afwesig is!

Marta antwoord Jesus met ‘n onseker “Ja, Here…..” Ja, sy weet dat Lasarus eendag sal lewe, maar nou is hy vir eers dood. Maar dan kom Marta met ‘n groot verrassing voor die dag, as sy haar onvoorwaardelike geloof in Jesus uitspreek. Dit is die mees omvattende geloofsbelydenis oor Jesus wat ons in die ganse Evangelie van Johannes kry: “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Kan enigeen dit duideliker stel? Selfs die slim Skrifgeleerdes wat vir jare die Bybel bestudeer het en al die uitsprake oor Jesus oor en oor gesien het, het nie ingesien wat hierdie eenvoudige, ongeletterde vrou raakgesien het nie. Of Marta egter mooi begryp het wat sy so pas bely het, is ‘n oop vraag, want ons sal later sien dat sy Jesus probeer keer het toe Hy Lasarus se graf wou laat oopmaak.

Jesus wou nie verder gaan, die dorp in nie. Hy het buite Betanië bly staan. Dalk het die spul roubeklaers wat al kermend om Maria saamgedrom het, Hom gladnie aangestaan nie. Dus gaan fluister Marta vir Maria in die oor dat Jesus aangekom het. As sy uitglip, stroom die gespuis agter haar aan om haar te gaan bystaan as sy by die graf gaan huil. Maar dit is nie waarheen sy op pad is nie. Haar grootste (enigste!) Troos het aangekom, en sy gaan val by Sy voete neer. “Here, as U hier was.....” verwyt sy Hom.

Hoe dikwels gaan soek ons nie ook maar troos by Jesus nie, en dan verwyt ons Hom: “Here, as U maar net betyds ingegryp het....”. Ek praat uit dure ondervinding, want ek het dit al so dikwels in my lewe gedoen. En dan moet ek later in skaamte vir Hom sê: “Here, ek is so jammer - ek het nie besef wat U besig was om vir my te beplan nie!” Sal ons ooit leer om Jesus onvoorwaardelik te vertrou in alle aspekte van ons lewe?

Gebed:

Here, vandag wil ek vra dat U my sal help om volle, onvoorwaardelike vertroue in U te kry. U is almagtig - by U is niks onmoontlik nie. Maar ek besef ook dat U gedagtes baie hoër is as myne.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026