U is die Messias!

16 September, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie U is die Messias!

Markus 8:27-33

VIDEO * OUDIO

Gister het Jesus die dissipels gevra wie hulle dink is Hy werklik? “U is die Christus,” oftewel die Messias, het Petrus onomwonde verklaar, sonder om tweekeer te dink. Hierdie is ongetwyfeld die hoogtepunt van Markus se verhaal, dus durf ons nie sommer so vlugtig hierdeur draf nie. In al die vorige hoofstukke het niemand nog na Jesus verwys as die Messias nie, buiten die bose geeste wat mense se lewens beset het. Húlle was wél baie deeglik bewus daarvan wie Jesus werklik was, en hulle het in vrees en bewing geleef oor hierdie gedagte.

Maar wat presies het Petrus bedoel toe hy hierdie aardskuddende belydenis gemaak het? Vandag weet ons dat wanneer ons van die Christus of Messias praat, dan bedoel ons daarmee dat Hy die Seun van God, die derde Persoon van die Goddelike Drie-Eenheid is. Die Jode het dit ‘n bietjie anders verstaan. Hulle het nooit in hulle wildste drome kon dink dat God Persoonlik na die aarde sou kom nie, dus het hulle vir hulleself ‘n prentjie geskilder van die beloofde Messias as ‘n baie besonderse Persoon, amper iemand soos die groot koning Dawid. Hierdie Messias sou ‘n nuwe tydperk vir die Joodse volk inlei, soos die profete dit voorspel het, ‘n tydperk van glorie en vrede. Moontlik is dit óók wat Petrus in gedagte gehad het. Party Jode het ook ander verwagtngs gekoppel aan die Messias, soos dat Hy nes koning Dawid wat die volk destyds verlos het van die Filistyne en ander vyande, ook nou die volk met mag sou verlos van die Romeine.

Jesus was wel deeglik bewus van wat Petrus en die ander gedink het. Daarom maak Hy ‘n baie dramatiese aankondiging, dat Hy lyding sou ervaar! Petrus wou sy ore toedruk toe Jesus in groot detail vir die manne begin vertel van die verskriklike lyding wat op Hom gewag het. Met afkeur het Petrus geluister hoedat die familiehoofde en die kerkleiers Jesus sou verwerp. Dit wou nie vir hom sin maak nie, want pas het hy ontdek dat Jesus die Messias was, en dan hoor hy van totale verwerping! Dit kon mos nie! Al die volksleiers móés die Messias mos aanvaar as Leier!

Dit het egter nóg erger geraak, want hy moes hoor dat hierdie Messias van hom doodgemaak sou word. Jesus noem inderdaad dat Hy drie dae later weer sou opstaan, maar díé gedagte het nie eers by Petrus geregistreer nie, want hy het dit gladnie verstaan nie. Jesus wou die manne laat verstaan dat Hy wél sou sterf, maar dat die dood nie die finale sê sal hê nie. Hy sou dus die dood finaal oorwin!

Hierdie was beslis nie hoe Petrus hom voorgestel het ‘n Messias moes wees nie. Jesus móés darem besef dat die Messias ‘n Leier by uitstek was, en beslis nie ‘n lydende figuur nie! As Petrus dalk die agtergrond gehad het van ‘n Skrifgeleerde, sou hy miskien geweet het dat daar dikwels in die Skrifte verwys was na regverdige mense wat swaar moes ly. Dan sou hy dalk besef het dat Jesus hierdie Groot Lydende Regverdige was. Petrus was egter maar net ‘n eenvoudige visserman!

Petrus het Jesus eenkant toe geneem waar die ander manne nie kon hoor nie, en sy Meester hard berispe. Hy moes darem nou begin besef dat as Hy die Messias wou wees, moes Hy die regte geluide maak! Het Hy dan nie geweet wat die mense van die Messias verwag het nie?

Jesus het omgedraai, en terwyl Hy na die ander manne kyk, sê Hy vir Petrus hierdie skokkende woorde: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat die mense wil hê.” Petrus het gevoel hoe die bloed sy gesig verlaat! Hy het gewens dat die aarde hom nét daar sou insluk. Hy kon sy tong afbyt oor die dinge wat hy kwytgeraak het. Ja, en dit sou ook nie die laaste keer wees wat Petrus sulke soort dinge sou sê sonder om eers behoorlik te dink nie. Hy sou later nóg ‘n keer-of-wat sy tong wou afbyt......

Maar vandag is dit nie Petrus waaroor ons wil praat nie. Ons wil nie kyk na die prentjie wat hy van die Messias vir homself geskilder het nie. Hierdie verhaal vra van elke gelowige om introspeksie te doen. Hoe lyk die prentjie wat ék van Jesus, die Messias vir myself skilder? Is Hy waarlik vir my God Almagtig? Herken ek Hom as die Skepper van die heelal? Die Een wat sit op die troon en regeer oor alles en almal? Die Een vir Wie niks, absoluut NIKS onmoontlik is nie? Is Hy ook vir my die Alomteenwoordige - die Een wat in die hemel regeer, en ook terselfdertyd hier by my teenwoordig is waar ek hierdie oordenking sit en lees? Skilder ek Hom ook as die Alsiende en Alwyse, die Een vir Wie ek nie kan wegkruip nie, en wat alles van my weet? Is Hy ook vir my die Een wat liefde ontwerp en vervolmaak het? Is Jesus waarlik die Een in my lewe wat my so onbeskryflik liefhet? Is Hy werklik vir my die Een wat luister na my, ten spyte van die patetiese wenslysies wat ek so dikwels vir Hom aframmel? Ja, Hy is nog baie meer as dit, want Hy gee intens om vir my en Hy hoor elke versugting van my hart.

Gebed:

Here Jesus, leer my asseblief Wie U waarlik is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026