Twee Vroue Spel Moeilikheid

16 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Vroue Spel Moeilikheid

Genesis 29:31 - 30:24

Jakob se bedrog teenoor sy broer en sy pa het ernstige gevolge gehad. Dit het die gesin uitmekaar geskeur. Dit het veroorsaak dat Esau gevul is met wraakgedagtes, en dat hy selfs bereid was om moord te pleeg. Dit het gemaak dat Jakob moes vlug vir sy lewe, en dat hy nooit weer sy ouers sou sien nie. Sy bedrog het bittere hartseer veroorsaak.

Maar nou was dit Jakob se beurt om van dieselfde bitter medisyne terug te kry. Laban bedrieg hom deur vir hom die verkeerde vrou te gee, en weereens het hierdie bedrog ernstige gevolge, dié slag vir Jakob se huwelikslewe. Weliswaar kry Jakob twee vrouens in die transaksie, maar reg van dag een af is daar probleme as die twee sussies skielik mededingers word om Jakob se liefde. Jakob kan homself net eenvoudig nie vereenselwig met die gedagte dat hy bedrieg is met Lea nie, en die gevolg is dat hy haar nooit kon liefkry nie. Genesis 29 en 30 vertel hoedat Lea smag na liefde, maar dat dit haar deurentyd ontglip. Dit maak nie saak hoe hard sy probeer nie, Jakob het nie sy vrou lief nie.

Die vraag wat dikwels in ons gedagtes opkom, is of poligamie verkeerd is? Ons sien oral hoedat die groot manne uit die geskiedenis meer as een vrou gehad het. Die groot Psalmdigter, Dawid het ‘n string gehad, en die liefdesanger, Salomo het nie minder nie as ‘n duisend vrouens gehad! Dit gaan my verstand totaal te bowe hoe hy met hulle kon huishou. Het hy ooit al sy vrouens geken? Die feit is egter dat hierdie soort huwelike nêrens verbied word nie. Wat ons egter baie duidelik in die Bybel lees omtrent hierdie huwelike is die konflik wat dit keer op keer meebring. Om enkele voorbeelde te noem: Lameg, Abraham, Elkana (die pa van Samuel), Dawid, Salomo. Ja, sy baie vroue het uiteindelik sy totale ondergang beteken!

In die verhaal van Jakob en sy twee vrouens, word die dubbele huwelik nie as sulks deur God afgekeur nie, maar sy hantering van die huwelik word ‘n probleem. Jakob was in ‘n situasie geplaas waaroor hy nie veel beheer gehad het nie. Dit was sy verantwoordelikheid om hierdie situasie te hanteer op ‘n liefdevolle wyse. Hy misbruik egter die geleentheid en verander dit in ‘n verleentheid.

Die vraag wat ons onsself moet afvra, is hoe ons situasies hanteer wat nie baie gunstig is nie? Ek word in ‘n werksituasie geplaas waar die baas mislik is met my. Hoe hanteer ek dit? As ek deel is van God se gemeenskap, sal ek beslis nie reageer deur sy kwaad met kwaad te vergeld nie. Dikwels kom sulke slegte situasies juis oor ons pad om ons die geleentheid te gee om God se liefde aan die wêreld te wys deur die verleentheid te verander in ‘n getuienis-geleentheid. Deur byvoorbeeld Christus-liefde uit te leef teenoor jou mislike baas, mag jy dalk net die instrument wees wat die situasie totaal kan verander, nie net vir jouself nie maar ook vir jou mede-werknemers.

Jakob het egter die toets totaal gedop. God het Jakob se liefdeloosheid teenoor Lea raakgesien, en Hy keer die rolle om. Omdat slegs Ragel liefde kry en Lea niks, kry slegs Lea kinders en Ragel niks. Die een suster smag na liefde en die ander na moederskap. Dit maak Jakob, Lea én Ragel moedeloos en later desperaat.

Ons moet versigtig wees om dit nie as ’n straf te sien op Ragel nie, maar ’n middel om Jakob tot nadenke te dwing. Jakob is egter vasgevang in die konflik tussen die twee vroue, en hy sal daar vasgevang bly omdat hy toelaat dat hy deel bly van die probleem, en totdat hy die kern oplos, sal hy die probleem nooit oplos nie.

Gee vir my seuns!” is Ragel se wanhoopskreet eendag aan Jakob, en hy kap terug met: “Kan ek God se werk oorneem?” Dan besluit Ragel dat surrogaatmoederskap die enigste uitweg is. Haar slavin, Bilha word gebruik om vir haar ‘n kind te gee uit pure radeloosheid. Dit gee haar egter steeds nie die bevrediging van ware moederskap nie. Lea reageer deur ook háár slavin, Silpa te gebruik om nog méér kinders vir Jakob te gee! Dalk wen sy op só 'n manier sy liefde. Later span Ragel selfs ‘n ou “Boereraat” in, die stimulant liefdesappels, wat sy by Lea ruil vir ’n nag saam met Jakob. Dit verander egter nie die situasie nie, en die ellende word net erger en erger.

Uiteindelik kom daar tóg ‘n verandering in Ragel se ellende, wanneer God ingryp en vir haar ‘n seun gee. Ten spyte van Jakob se hardkoppige vasklou aan sy sonde, bring God ‘n draaipunt, en hy gee vir Ragel hoop met die geboorte van haar eersteling, Josef. God sou later nog hierdie seuntjie gebruik om die splinternuwe volk Israel te red van ‘n gewisse hongerdood. Maar eers sou daar nog baie water in die see loop.

Vandag wil die Here by my en jou pleit om nie soos Jakob te wees nie, maar om Sy liefde uit te leef op alle terreine van die lewe, teenoor alle mense, ten spyte van omstandighede waarin ons dalk mag beland.

Gebed:

Here, ek bely dat ek ook dikwels soos Jakob kwaad is oor my omstandighede, en dit dan op onskuldige mense wil uithaal. Help my asseblief om bo my omstandighede uit te styg en U liefde uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026