Twee Misdadigers - Een Belofte

10 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Misdadigers - Een Belofte

 

Lukas 23:39-43

Die slim manne het ‘n leeftyd spandeer om die Woord van God, en veral die wet van Moses te bestudeer. Hulle het al die kennis gehad wat jy kon bekom oor God. Nogtans verwerp hulle Jesus, die Seun van God! Moontlik is dit omdat hulle ‘n héél ander verwagting oor die Messias gehad het as wat hulle gekry het. Hulle het in die Messias ‘n groot, sterk leier gesoek wat die Wet van Moses tot in die fynste detail sou uitleef. Die Messias wat hulle egter hier te siene gekry het was ‘n Dienskneg en ‘n Vriend van sondaars. Hulle kon dit nie verwerk nie! Hierdie kon onmoontlik nie die Messias wees nie! Hulle het heeltemal te hoog probeer dink. Eenvoudige mense wat eg kinderlik gedink het, het egter vir Jesus as Messias herken en in Hom geglo.

Terwyl Jesus aan die kruis hang, sien ons daardie geleerde manne al spottende daar staan. Ek dink dat hulle vir mekaar gesê het “Ja, ek het jou mos gesê! Nou wys hierdie sogenaamde Messias Sy ware kleure! Al Sy wonderwerke was net oëverblindery.”

Weerskante van Jesus het veroordeelde misdadigers gehang. Die een het in sy laaste sterwensuur saam met die geleerde manne gespot: “Toe, Jy is mos die Christus - red Jouself en dan kan Jy ons twee ook sommer red!”

Jy staan egter stom van verbasing as jy die geweldige insig sien van die ander misdadiger, ‘n man wat gruwelik gesondig het en nou boet vir sy dade. Hy besef deeglik dat dit wat hy gedoen het verkeerd was: “Is jy nie bang vir God nie?” berispe hy sy mede-veroordeelde. Hy besef sy verlorenheid, en dat hy op pad is na die ewige verdoemenis. Hy erken ruiterlik daar waar hy hang dat hy verkeerd was, en dat hy die straf wat hy hier kry verdien het. Maar dan kom sy verstommende insig: “Hierdie Man het niks verkeerds gedoen nie”, sê hy oor Jesus. Ek dink nie dat hy werklik die omvang van hierdie opmerking ten volle besef het nie, want Jesus was die enigste mens wat dit óóit kon regkry om totaal sondeloos te lewe. Selfs die heiligstes onder ons sondig daagliks.

En dan kom sy versoek, een wat waarskynlik die geleerde manne daar onder tot in hulle fondamente geskud het: “Jesus, dink aan my wanneer U in u Koninkryk kom.”

Hierdie man voel hoe sy lewenssappe stadig besig is om te dreineer. Die dood staan grynslaggend vir hom en wink. Langs hom hang Jesus, en ook vir Hóm staan die poorte van die doderyk reeds wawyd oop. Tóg sien hierdie rower nie die dood as die einde nie. Jesus se dood sien hy eerder as die poort na ‘n lewe van heerlikheid en heerskappy. Jesus is op pad na Sy Koninkryk, so eenvoudig soos dit!

Maar dit is nie al nie: in sy eenvoud redeneer hy dat as (nee, wanneer!) Jesus dan in Sy Koninkryk kom, dan is dit nog steeds nie te laat vir hom, die misdadiger nie, want Jesus kan hom mos nog steeds red van die verderf. “Jesus, dink aan my....” Sy versugting. Sy hoop.

Ja, Paulus het later vir die Romeine (Rom. 5:5) geskryf: “Die hoop beskaam nie!” Hierdie arme misdadiger se hoop het beslis nie beskaam nie, want Jesus se antwoord aan hom was dat hy verséker kan wees daarvan dat hy nog dieselfde dag saam met Jesus in die paradys sou wees. Dit was ‘n belofte van lewe - PARADYS lewe - wat Jesus vir die man gegee het in die aangesig van die dood.

Ons lewe in ‘n tyd waar mense alle hoop verloor het. Covid 19 saai verwoesting regoor die aarde! Derduisende sterf! Die dood is die einde van die pad. Die Sadduseërs, van die kerkleiers wat daar by die kruis vir Jesus staan en spot het, was van mening dat daar géén lewe na die dood is nie. Vandag is daar steeds talle skeptiese mense wat so glo. Waarvoor lewe ‘n mens dan as daar geen toekoms is nie? Wat is die doel van alles? Daarom is hierdie wonderlike trooswoorde van Jesus aan die veroordeelde aan die kruis, ook vandag vir my en jou soos die heerlikste reukolie.

En let wel: Jesus het nie vir hom gesê dat hy eendag, iewers in die toekoms daar sou uitkom nie, maar VANDAG, hier en nou. In Joh 3:36 staan daar baie duidelik: “Wie in die Seun glo, HET die ewige lewe”. ‘n Gelowige het ALREEDS die ewige lewe! Hy sal dit nie eendag in die toekoms eers kry nie, maar het dit rééds gekry op die dag van sy wedergeboorte. Ja, hier is dit nog onvolmaak, maar die oomblik wanneer ons deur die poorte van die dood stap word dit ‘n volmaakte lewe, oombliklik getransformeer. Hoe presies dit gebeur, en hoe ons lyk wanneer dit gebeur, weet ons nie. Maar Jesus se beskrywing van ‘n “paradys”, skilder alreeds vir ons ‘n prentjie van absolute volmaaktheid, soos die paradys waar Adam en Eva gewoon het. Die verskil is dat die duiwel in hulle paradys ingesluip het, maar die nuwe paradys is sonder die teenwoordigheid van die verleier. O, ek kan nie wag vir daardie dag nie!

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike beloftes wat U vir ons gee, en dat U selfs aan die kruis nie opgehou het om liefde en genade en beloftes uit te deel nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026