Twee Dramas

22 February, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Dramas

Lukas 8:40-56

VIDEO * OUDIO

Gister het ons gesien hoedat God se wonderlike genade nie beperk was tot Sy volk nie, maar dat selfs 'n besete heiden dit kon ondervind. Die inwoners van Gadara wou Hom egter nie ontvang nie, en hulle keer terug na Galilea, waar hulle alreeds ingewag word deur ‘n groot skare. Dan speel daar twee dramas af wat inmekaar geweef is en sorg vir ‘n spannende toneel!

Alles begin wanneer ‘n gerespekteerde kerkleier en raadslid van die sinagoge, Jaïrus aangehardloop kom en uitasem voor Jesus se voete neerval. In sigself is hierdie 'n uitsonderlike situasie, want die geestelike leiers was Jesus géénsins goedgesind nie! Die man was hoog in die nood want sy dogter het op sterwe gelê. Met ‘n bewende stem het hy Jesus gesmeek om saam met hom te kom.

Opgewonde het die skare vir Jesus plek gemaak om agter Jaïrus aan te stap. Maar toe skielik word alles wreed onderbreek. Jesus het stil gaan staan en omgedraai: “Wie het my aangeraak?”

Ons wil amper vir Jesus sê: “Here, daar is nie nou tyd om te wil weet wie aan U geraak het nie, die meisiekind is besig om dood te gaan!”

Petrus het sélf ongeduldig geraak met Jesus wat nie Sy loop kon kry nie. Daar was immers ‘n reuse skare mense wat hulle die hele tyd verdruk het. Almal het gestamp en gestoot! Wat sou verkeerd wees met sy Meester?

Agter Jesus was daar ‘n vrou met ‘n geweldige groot probleem. Sy het aan ‘n volgehoue menstruele vloeiing gely, ‘n baie ongemaklike situasie. Volgens Joodse gebruike was dit egter verdoemend, want dit het veroorsaak dat sy permanent onrein was! Sy kon dus met niemand direk in aanraking kom nie. Vir twaalf jaar lank het sy in hierdie onhoudbare situasie geleef, en Jesus was haar laaste en enigste hoop!

Volgens Joodse wette van Lev. 15:19-30 het sy nie durf raak aan Jesus nie want dit sou Hom sélf vir sewe dae lank onrein gemaak het. Dus raak sy slegs aan die verste punt van Sy klere se soom.

Petrus het vir Jesus aangepor om asseblieftog voort te gaan na Jaïrus se huis, maar Jesus het bly staan! Hy wou éérs weet wie dit was wat aan Sy klere geraak het.

Die spanning bou op, want die tyd was besig om uit te loop vir die sterwende dogtertjie. Maar vir Jesus was die drama wat hier afgespeel het belangriker. Toe die vrou besef dat Jesus geweet het dat dit sy was, val sy bewend van angs voor Hom neer en erken haar daad. Sy vertel van haar verskriklike dilemma, maar die wonderlikste was dat sy gevoel het hoedat haar liggaam genees was die oomblik toe sy aan Jesus geraak het!

Liefdevol het Jesus haar aangespreek as “dogter.” Skielik was die twaalf jaar waarin sy deur die ganse samelewing verwerp en verstoot was, verby. Sy het besef dat sy vir die eerste keer in jare weer deel van die samelewing en selfs haar eie familie was. In haar toestand kon sy natuurlik ook nie die tempel besoek nie - selfs dit gee Jesus vir haar terug!

Jesus weier om Sy verlossingswerk te laat beperk deur enige sosiale of politieke grense!

Maar dan keer die verhaal weer terug na Jaïrus se twaalfjarige dogter. Van die huis af het die berig gekom dat dit te laat was - sy het reeds gesterf!

Ons wil vir Jesus vra: “Here, hoe kón U? Die vrou kon mos maar ‘n bietjie gewag het?” Menslik gesproke was enige verdere optrede van Jesus sinneloos. Maar Jesus het vir Jaïrus getroos: “Moenie jou ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.” Skokkende woorde!

“Maar sy is dan dood, Here!” wil ons vir Jesus sê, “Moenie nog die man se lyding erger maak nie!”

Vir diegene wat egter so pas gesien het hoedat die vrou se verskriklike siekte eensklaps genees was, gee Jesus se woorde nuwe hoop! Haar geloof was wonderbaarlik beloon! Sou Jaïrus se geloof ook so beloon kon word?

By Jaïrus se huis tref Jesus ‘n troostelose prentjie aan van mense wat huil en weeklaag oor ‘n kind wat gesterf het. Hulle het van Jesus niks verder verwag nie want alle hoop was verby. Dis verstaanbaar dat hulle so gereageer het. Maar toe Jesus vir hulle gesê het dat die kind net slaap, het hulle Hom uitgelag! Hulle het immers sélf gesien dat sy dood was, en dit was finaal! Jesus se eenvoudige reaksie was om bloot die meisie se hand te vat en haar te beveel om op te staan. Haar ouers kon hulle oë nie glo toe sy onmiddellik reageer het nie. Dit beklemtoon net weereens die feit dat Jesus alle mag het, selfs oor die dood!

Inderdaad weet ons vandag dat die dood vir ‘n gelowige gladnie meer finaal is nie. Jesus het nie alleen gewys dat Hy heerser oor die dood is met hierdie kind se genesing nie, maar enkele jare later het Hy die dood finaal oorwin toe Hy, nadat Hy die volle prys van verlossing betaal het aan die kruis, daardie Sondagoggend uit die graf opgestaan het. Ek en jy het ook deel hieraan as ons slegs glo in Hom. Jesus se woorde aan Jaïrus: “Glo net en sy sal gered word,” kry later soveel groter betekenis wanneer Paulus in Hand 16:31 sê: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word.” Of wanneer Jesus in Joh 3:16 vir Nikodemus sê: “Elkeen wat in Hom glo .... sal die ewige lewe hê”.

Dít is genade in die hóógste graad! Deur slegs te glo, is jy gered!

Gebed:

Here, dankie dat U my ook gered het en dat die dood nou geen houvas meer op my het nie! Dankie vir U gróót genade, Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026