Twee Broers

25 March, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twee Broers

Matteus 20:20-28

VIDEO | OUDIO

Wanneer Petrus ou Sebedeus se vrou sien aangestap kom in hulle rigting, groet hy vriendelik: “Shalom!” Maar sy kyk skaars in sy rigting. Petrus sien sommer dat hierdie vrou vanoggend op 'n sending van haar eie is. Sy groet nie eers haar eie twee seuns, Johannes en Jakobus nie – sy loop reguit na Jesus toe en kom kniel by Sy voete. “Hier kom vanoggend 'n baie groot guns!” lag Petrus in sy mou en hy sien die ander manne lag ook skelm.

“Wat kan Ek vir jou doen?” vra Jesus versigtig.

“Rabbi, dis my twee seuns – belowe my dat hulle in U koninkryk langs U kan sit, een aan U regterhand en een aan U linkerhand.”

Petrus se mond val onbeskaamd oop: “Watter vermetelheid!”

Daar gaan 'n dreuning onder die manne op soos hulle brom oor die vrou se arrogante versoek, “Wie dink sy is sy miskien?”

Jesus kyk na die twee manne wat bloedrooi bloos en wens die aarde wil hulle insluk. “Julle weet nie wat julle vra nie,” skud Hy meewarig Sy kop, “kan julle die lydensbeker drink wat ek gaan drink?”

Nou skep die twee moed, want Jesus het hulle mos nie summier afgeskiet nie: “Ja Meester, ons kan!”

“Ja, My beker sal julle drink,” antwoord Jesus hulle met droefheid in Sy stem, “maar om langs My te sit, slegs die Vader kan besluit wie dit sal wees.”

Nou is Petrus éérs woedend: “Dan het die twee gewéét hiervan. Hulle het met Mammie gekonkel om Jesus se arm te draai!”

“Dink hulle miskien hulle is 'n entjie bó ons verhewe?” brom Andreas, “Hulle is maar doodgewone vissermanne nés ek en jy, Petrus.”

“Ja, en die hele tyd preek die Meester vir ons dat die een nie belangriker as die ander is nie.” Matteus voel baie gebelgd oor die twee broers se astrantheid.

Dan roep Jesus die manne nader: “Kom sit hier by My. Ons gaan hierdie ding nou uitgesels.”

Die manne skuif nader, maar hulle vermy vir Johannes en Jakobus. Hulle laat hulle baie deeglik verstaan hoe hulle voel oor hierdie situasie.

“Julle is sekerlik bewus hoe dit werk met die mense wat regeer,” begin Jesus, “dat die manne met mag hulle mag gewoonlik misbruik en baasspeel oor almal onder hulle.”

Ja, die manne weet dit maar ál te goed. Het Petrus dit nie aan sy bas gevoel toe die Romein hom gedwing het om sy pakkasie te dra nie? Sal hy dit ooit vergeet, hoe daardie soldaat hom geklap het toe hy weier? Maar die Meester het mos gesê dat hy die man moet vergewe. En hy hét hom vergewe, maar vergeet....... nóóit!

“By julle moet dit nie so wees nie,” vermaan Jesus, “as jy in hierdie kring groot wil wees, dan moet jy 'n dienaar wees.”

Nou verstaan Petrus al klaar weer nie. Hy is nou nie juis die skerpste potlood in die pakkie nie! “Meester......?”

“Elkeen in julle kring wat groot wil wees, moet eers die ander se slaaf wees.”

“Meester, maar hoe werk dit dan?” Petrus se kop is nou hééltemal plat. “Hoe kan jy tegelyk 'n slaaf wees én 'n baas?”

“Petrus, Ek het sélf ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien.”

Skielik gaan daar vir Petrus 'n liggie op. Inderdaad is sy Meester hulle Rabbi en Leier en sékerlik die grootste mens wat hy óóit van gehoor het, maar kyk net hoe baie doen Hy vir ander, hoe dien Hy almal!

“Ek het gekom om My lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Skielik vou daardie beklemming weer om Petrus se hart by die aanhoor van hierdie woorde.

Vandag wil ons ook soos Petrus warm onder die boordjie word vir Johannes en Jakobus se arrogansie. Maar dan doen ons maar dieselfde dinge. Hoe dikwels verhef ek my nie bo ander mense nie – dink ek dat ek 'n trappie beter is as hulle. Ek het my hart vir Jesus gegee, dus is ek beter as die Moslem wat nog voortploeter as ongeredde.

Werklik? Is ek beter? As ek maar net kan besef dat selfs my geloof suiwer genade is, en dat dit absoluut niks te doen het met my goedheid nie. Die feit dat ek 'n beter Bybelkennis het as baie ander mense, verhef my beslis nie bo die res nie. Ek kan maar net in dankbaarheid voor die Here kniel en dankie sê dat Hy dit uit genade vir my gegee het.

Gebed:

Here, help my om 'n ware dienskneg te wees, om te dien eerder as om gedien te word!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026