Twaalf Apostels

13 January, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Twaalf Apostels

Markus 3:7-19

Ek kry eenmaal die wonderlike voorreg om te kon preek in ‘n Zoeloe gemeente in Shakaville, ‘n baie arm dorpsgebied buite Stanger. Ek kom gou agter dat tyd nie ‘n faktor is in hierdie klein plattelandse gemeente nie. Die diens was al verby, toe kom daar steeds mense ingedrentel.

Dit is warm, bitter warm. En die klein venstertjies laat maar die minimum lug in. Sweet stroom my af, waar ek staan en wurg in my das (die prediker móét ‘n das dra!) Ek kyk oor die gemeente en sien ‘n see van klein gesiggies van kindertjies wat die voorste rye volpak. En ek wonder: gaan hulle ooit verstaan? Ek begin praat in Engels, en iemand tolk in Zoeloe. Dis steurend en moeilik om ritme te hou. ‘n Baba skreeu oorverdowend, en sy maatjie begin saam “sing” in die koor. Ek kan myself skaars hoor praat! Hoeveel van hierdie diens gaan ooit inslag vind?

By die voordeur verkondig ‘n rooi hoenderhaan sy heerskappy, en sy harem kekkel en kloek dat die biesies bewe. Allerhande ontstellende dinge maal deur my gemoed. Hier sal ek vanoggend ál die groot kanonne moet uithaal! Hoe het Jesus dit óóit reggekry om die skare se aandag te hou? Hy moes seker baie praktiese dinge doen! Sweet stroom in riviertjies deur my oë.

Ek preek oor die vyf broodjies en twee vissies wat duisende gevoed het. Ek het vyf plat brode saamgebring, wat hulle staan gekry het op ’n tafeltjie voor die kansel. Ek klim van my hoë troon af, en begin die brode in stukkies breek. Eers kry die kleintjies hier voor elkeen ’n stuk brood, en die gemeente rek hulle nekke om te sien wat gebeur. Hier is aksie! Dan loop ek deur die banke en deel stukke brood uit in die gemeente. Skielik is daar lewe, en die oë skitter. Só ‘n diens het hulle nog nooit beleef nie! Ek verduidelik: jy vat ‘n stuk brood, breek vir jouself ‘n stukkie af en gee die res vir jou buurman. Die boodskap is dat gelowiges ook die Brood van die Lewe wat ons gekry het (Jesus) met ander moet deel.

Hulle verstaan! Selfs die heel kleintjies hier voor verstaan.

En ek sê: “Dankie, dankie Jesus!” terwyl hemelse koorklanke spontaan met die wonderlikste harmonieë, sonder ‘n orrel, klavier of orkes die kerkgeboutjie vul en opstyg na die hemel.

Wanneer ek uitloop, wil elkeen in die kerkie met my hand-skud. En dan wonder ek: waarom moet ons eredienste dan so gekompliseerd en hoogdrawend wees?

Markus vertel dat Jesus en Sy volgelinge afgegaan het na die See van Galilea. Mense het in groot getalle na Hom toe gestroom. Hulle móés Hom net eenvoudig sien. Mense het selfs so ver as Tirus en Sidon gekom, en Jerusalem, Idumea en van oorkant die Jordaan af. Van heinde en verre het hulle gestroom om hierdie Jesus te sien. So groot het die skares naderhand aangegroei, dat Jesus in ’n skuit moes klim, en daarvandaan preek. Die mense het Hom totaal verdring.

Waarom het Jesus sulke reuse skares getrek? Die een groot rede was dat Sy preke nie maar net ’n klomp teologiese redenasies was, soos dié van die Skrifgeleerdes wat dwarsoor die gewone mense se koppe gepraat het nie. Sy preke was eenvoudige stories oor alledaagse dinge waarmee elkeen kon assosieer, om baie diep waarhede tuis te bring. Sy preke het egter nie maar net by woorde gebly nie, maar Hy het dit prakties toegepas, soos byvoorbeeld genesings en die uitdryf van onrein geeste (demone).

Wanneer ’n ding so grafies vertel word, en boonop prakties geïllustreer word, onthou die gehoor die preek. Daardie preek word deel van jou lewe! Maar nie alleen dit nie: mense geniet dit, en dit maak dat daar nie maar net ’n handjievol opdaag nie, maar dat die nuus versprei, en mense daarheen stroom in groot getalle om Sy preke te beleef.

Op ‘n dag gaan sit Jesus tussen ‘n klompie van Sy gereelde volgelinge. Hy kyk vir Simon reguit in die oë en dan wink Hy die rowwe visserman nader. Boetie Andreas moet ook maar naderstaan. Dan kom die twee broers met die hoogs-vlambare humeure, Johannes en Jakobus aan die beurt. Wanneer Hy vir Judas Iskariot nader wink, is daar ‘n droewige trek in Jesus se oë. Die manne kyk vraend na mekaar: Wat wil Jesus met hulle doen? Nog manne word nader geroep totdat daar uiteindelik ‘n groep van twaalf manne staan. Dan verduidelik Jesus: hulle is Sy kerngroepie “apostels,” Sy uitgestuurdes. Op hulle skouers sou daar eendag ’n reuse verantwoordelikheid rus. Maar nou wag daar eers drie jaar se intense opleiding op hulle.

Hierdie manne sou nie alleen die twaalf stamme van Israel verteenwoordig nie, maar met die kragtige vernuwing waarmee Jesus besig was, sou hulle terselfdertyd ook die “nuwe Israel” verteenwoordig en verkondig, en die wonderlike Evangelie aan die hele wêreld uitdra.

Gebed:

Here, dankie vir die voorbeeld wat U vir ons gestel het. Dankie dat U ons ook geleer het om die Evangelie eenvoudig uit te dra.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026