Tuinier vir die Here

16 July, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Tuinier vir die Here

1 Korintiërs 3:4-9

Ek is dol oor ‘n kwekery. Om droomverlore tussen die rye en rye plantjies deur te drentel, en my te vergaap aan al die wonderlike plante, dit gryp my aan. Dit is veral die weelderige skaduplante wat my totaal betower. Nee, ek ken nie eers een van hulle se botaniese name nie. Daardie verhewe kennis laat ek maar oor aan die uiters bekwame botaniste wat in die kwekery werk. Ek kan my verluister aan hoe hulle dit regkry om die ingewikkelde name af te rammel, asof dit doodgewone kruideniersware is.

Ek is nou nie juis iemand wat die groenste van vingers het nie. Ek het al dikwels in my lewe saad gekoop, en dan dink ek dat ek my eie blommetjies aan die groei gaan kry. Waarom moet die kwekerye dan nou geld maak uit my uit? En keer op keer is dit ‘n totale FLOP, met ‘n hoofletter F. Nou laat ek maar die saaiwerk in hulle bekwame hande - hulle weet tóg maar beter, en wanneer hulle plantjies lekker sterk is, koop ek die saailinge en plant hulle in my tuin. As ek hulle dan mooi versorg en onthou om hulle gereeld water te gee, kry ek hope vreugde uit my tuin.

Maar eintlik is dit nie ek nie, en nog minder die kwekery wat die eer moet kry vir die blommeprag nie. En nee, dit is ook nie eers die wetenskaplikes wat soveel ure se liefde geduld en vindingrykheid ingeploeg het om die een of ander blom te veredel van ‘n niksbeduidende ou veldblommetjie af na ‘n eksotiese pragstuk nie. Dit lê steeds veel dieper. Die groot wonder gebeur wanneer die piepklein saadjie in die regte omstandighede beland en ontkiem. Op die oog af is dit ‘n lewelose korreltjie, en skielik kry dit lewe, en dit begin groei en groei, en uiteindelik is dit ‘n volwasse plant en dit dra kleurvolle blomme. Nie alleen vul dit die wêreld met kleur nie, maar die heerlike parfuum vul die lug. Insekte word betower deur die kleure en geure en kom soek heerlike, hemelse nektar in die blom en bestuif dit in die proses. ‘n Vruggie vorm, en saadjies.......

Die een element hierin wat géén wetenskaplike nog ooit kon naboots nie, is die lewe wat opgesluit is in elke ou saadjie. Niemand kan lewe gee nie, behalwe God. En dit is waar die grootste wonder van 'n blomtuin opgesluit lê!

Paulus was ‘n baie omgekrapte man. Hy het verneem dat daar in Korinte ‘n hewige stryery ontstaan het, en hy was héél onskuldig betrek in die rumoer. Ek kan my indink hoe ‘n gesprek moes verloop het: “Die beroemde Paulus het my na Jesus gelei. Wat ‘n wonderlike evangelis”.

Ag nee man, waar sit Paulus? In die tronk! Apollos, hý is die één! Dis onder sý prediking wat ek gegroei het!”

Kon hulle dan nie insien dat dit nie oor Paulus of Apollos gaan nie? Dis mos nie die botanis of wetenskaplike wat lewe gee aan plantjies nie? Net so kan géén prediker jou die ewige lewe gee nie.

Paulus het hierdie waarheid by die mense van Korinte probeer tuisbring. Hy en Apollos was maar net werktuie, dienaars! Paulus het die saadjies gesaai en vertroetel tot hulle saailinge was, en toe kom Apollos en hy versorg hulle verder en gee water, verduidelik Paulus. Maar net soos wat dit alleen God is wat vir ‘n saadjie lewe kan gee, so is dit ook alleen Hý wat in enige mens daardie wonderlike geestelike lewe kan inblaas.

Maar hoe werk die geloof-ding? Daar is basies vier dinge wat moet gebeur. Die eerste is dat iemand die evangelieboodskap aan jou oordra, en hiervoor gebruik die Here mense, nie engele nie!

Die tweede is dat die Heilige Gees deur hierdie persoon met jou praat en jou uitnooi om ‘n koninkrykskind te word. Hy bied as’t ware vir jou ’n geskenk aan, die geskenk van die ewige lewe.

Die derde is dat jy ‘n wilsbesluit moet neem. Jy moet besluit of jy hierdie geskenk wil aanvaar, en of jy dit van die hand gaan wys. Maar jy moet besef dat indien jy die geskenk aanvaar, dat dit noodwendig gaan beteken dat daar sekere verantwoordelikhede daarmee saamgaan.

Dit bring ons by die vierde element, jou verantwoordelikhede. Hulle is nie ‘n voorwaarde vir die ontvang van die geskenk nie, maar dit is iets wat natúúrlik moet spruit uit die feit dat die Here jou die geskenk gegee het sonder dat jy dit verdien het. Die persoon wat “natgooi” en versorg, is die een wat jou help om hierdie verantwoordelikhede onder die knie te kry.

Ek het al dikwels die voorreg gehad om die Evangelie met iemand te deel. Meestal hoor ek nooit of die persoon dit aanvaar het nie. Maar dit maak nie saak nie, want ek doen slegs wat God van my vra om te doen, en verder is dit tussen daardie persoon en God om die saak te finaliseer. Ek kan nie lewe gee nie. Alleen God kan!

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike voorreg om ook ‘n tuinier te mag wees in U tuin van lewe. Help my asseblief om my werk met volle oorgawe te doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026