Totale Vergifnis

7 August, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Totale Vergifnis

Matteus 18:21-35

Hoeveel keer het jy al sonde gedoen? Jy sal nou vir my sê: “Watter soort van vraag is dit dan!? Ek is ‘n goeie mens wat hard probeer om reg te lewe!”

Maar kom ons gaan bekyk hierdie vraag in perspektief. Dink ‘n bietjie na oor gister. Het jy (en ek sluit myself ook in) nie dalk terwyl jy in die kerk gesit het (nogal!) kritiese gedagtes gehad teenoor iemand nie? Dalk oor die dominee se preek? Dalk het jy selfs daardie persoon bespreek met iemand anders. Dan is dit mos niks anders as skinder nie! Dalk was jou gedagtes elders terwyl die dominee vir jou gepreek het. In daardie geval het jy dus God se woorde aan jou geminag! Die Heilige Gees praat immers deur die prediker! En op pad huistoe, toe daardie taxi roekeloos voor jou motor inswaai, wat het jy gesê? Dink ‘n bietjie mooi na oor waar jy oral gister gesondig het. Dalk onthou jy van tien sondes, en as jy mooi gaan tel dalk selfs ‘n honderd! Kom ons maak nou gou sommetjies. As ek gemiddeld maar net tien keer op ‘n dag sondig, dan gaan ek 3650 keer per jaar sonde doen. ‘n Persoon in sy vyftigs het dus al 180’000 oortredinge agter sy naam, en ek dink ‘n mens kan dit maar ruim met tien vermenigvuldig, dus al klaar ‘n miljoen of twee sondes! Skrikwekkend né! So ‘n gewoontemisdadiger hoort nooit die buitekant van ‘n tronk te sien nie.

Petrus vra vir Jesus hoeveel keer jy jou broer moet vergewe as hy teen jou sondig. Is sewe keer genoeg? Eintlik is Petrus baie gulhartig met sy sewe maal se vergewe, want daardie tyd was die norm dat jy hom driekeer moet vergewe, en daarna moet hy maar die gevolge dra! “Nee Petrus,” sê Jesus vir hom, “sewentig maal sewe keer!” Nou begin ons al dadelik sommetjies maak: dit is mos 490 keer. Moet dit nou die nuwe norm wees? Sjoe, maar dis mos baie keer! Maar wat Jesus eintlik wil sê, is dat daar nie ‘n einde aan jou vergifnis moet kom nie! Jy moet altyd nog bereid wees om te vergewe, selfs al het die uurglas lankal uitgeloop.

Maar waarom sal ek dan nou so vergewensgesind wees?

Jesus verduidelik aan sy dissipels met behulp van ‘n storietjie van ‘n amptenaar wat die koning miljoene Rande geskuld het, en daar was geen manier waarop hy dit kon terugbetaal nie. Die koning het hom ál sy skuld afgeskryf. Die amptenaar was skaars buite, toe loop hy ‘n kollega raak wat hom ‘n paar randjies skuld. En wat doen hy? Hy probeer die ou bietjie skuld uit hom uitwurg. “Dis skokkend!” sou ons dadelik wil sê. Maar kom ons gaan kyk weer ‘n slag na die sommetjie wat ons hier bo gemaak het oor ons eie sondes: Hoeveel keer het jy nou weer gesondig? 180’000 keer? Dalk ‘n miljoen of twee? En hoeveel keer het God jou (en my!) al vergewe vir daardie sondes? Ek belowe jou: elkeen van hulle is afgeskryf! Gaan lees gerus maar wat geskryf staan in Jesaja 1:18, 2 Korintiërs 5:21, 1 Johannes 4:10, Jesaja 43:25 en 1 Johannes 1:7. God vergewe my en jou nie net sewe maal of selfs 490 maal nie, maar Hy vergewe elkeen van daardie waenhuis vol sondes wat ons al gedoen het. Boonop is Sy vergifnis volkome, sodat Hy nie eers weer daaroor dink nie.

En nou kom Jesus en Hy sê, net soos daardie koning die amptenaar van miljoene vrygespreek het, so is dit nou die amptenaar se beurt om sy kollega se paar ou randjies vry te spreek. Omdat God vir my en jou van hope en hope sondes vrygespreek het, so is dit nou ons beurt om die enkele verkeerde dingetjies wat ander mense teen ons doen ook vry te spreek of te vergewe. As sy sonde teen jou ‘n ou kleintjie is, dan is dit maklik. As hy of sy jou beskinder het, dan kan julle dalk nog die saak uitpraat. Wanneer dit kom by jou geld, en daardie persoon jou ingedoen het met ‘n paar duisend Rand, dan begin dit baie moeilik raak. As hy die oorsaak is dat jy jou werk verloor, en daarmee saam dalk jou motor en jou huis, dan begin hierdie vergewe-storie krap aan ‘n man! Dan sluk jy maar baie swaar daaraan!

Maar dit begin eers werklik bitter swaar word wanneer jou huwelik bedreig word en wanneer iemand jou lewensmaat van baie jare van jou steel. Of wanneer jou lewensmaat, die een wat jy met jou hele lewe vertrou het, jou verkul en groener weivelde gaan soek het. Ek het al baie bitter briewe gekry van mense wat deur hierdie soort trauma moes gaan. Maar selfs dán vra Jesus van ons vegifnis, al is dit ook hóé moeilik. Ja, selfs wanneer ‘n geliefde wreed vermoor word deur boewe, wil ons Vader hê dat ons nie met haat in ons harte moet rondloop nie, maar vergewe. Dit is bitter moeilik, byna onmoontlik. En tóg is dit moontlik in die krag van die Heilige Gees. Kyk maar na Louis en Hettie Brittz - die wonderlike voorbeeld wat hulle gestel het oor vergifnis. Dink daaraan, dat God selfs bereid was om diegene wat Sy enigste Seun, Jesus, so wreed aan die kruis gemartel en vermoor het, te vergewe. Totaal en onvoorwaardelik! En dít nadat Hy bereid was om Sy lewe op te offer vir daardie selfde mense! Waarom sal ek en jy dan nie ook vergewe nie?

Gebed:

Here, ek besef vanoggend maar net weereens dat ek U so baiekeer bedroef en sonde doen. Vergewe asseblief maar weer Here. En leer my ook asseblief om ander te vergewe wat my onreg aandoen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026