Filippense 1:12-14
Verwonderd sê ons dikwels: “Dis ook maar goed dat dinge só uitgewerk het, né?” Of: “Weet jy, dis nou sóóó toevallig dat ek net op die regte oomblik op die regte plek was!” Dalk kan ons kerm dat die ongeluk ons toevallig so wreed getref het.
Nee, ek dink ons gelowiges moet vir eens en altyd daardie gedagte wat die duiwel in ons koppe probeer plant, dat dinge maar toevallig gebeur, uit ons gedagtes verban. Daar is nié so ‘n ding soos toeval nie!
Paulus is een kêrel wat sekerlik kon kla van die noodlot wat hom getref het, want sy bediening onder die heidene het dan so goed gegaan, en toe word hy gevange geneem deur sy eie mense, en hy beland in die tronk. Nie ‘n enkele woordjie van verwyt kom egter oor sy lippe nie.
Dalk moet ek jou net herinner hoe Paulus in die tronk beland het. Terwyl hy met ‘n besoek in Jerusalem was, het ‘n klompie fanatiese Jode hom laat arresteer oor hy kwansuis sekere Godsdienstige wette sou oortree het. Hulle wou hom dood hê! Toe Paulus sien waarheen hierdie ding op pad was, dring hy daarop aan om deur die keiser verhoor te word. Die Romeine het Godsdienstige vryheid voorgestaan, en volgens hulle wette het hy geen misdaad gepleeg nie. Daarop volg ‘n lang gevangenskap waar hy onder meer per skip van Jerusalem na Rome moes gaan vir sy verhoor, onder swaar begeleiding van soldate. Die skip het in ‘n hewige storm gesink, maar Paulus het ten spyte van al die terugslae tóg in Rome aangekom, waar hy in huisarres geplaas is tot sy verhoor kon plaasvind. Omdat die Romeine geglo het dat hy onskuldig was, is hy op daardie stadium ‘n mate van vryheid gegun, en kon hy selfs besoekers ontvang en vryelik briewe skryf. Later het dinge egter baie lelik teen hom gedraai, maar hier is dit nie nou ter sprake nie.
Paulus het altyd ‘n groot droom gehad, om in die groot stad Rome te kon gaan preek. Om dit vanuit sy gevangenskap te doen, was nou nie juis wat hy in gedagte gehad het nie, maar hy was darem nou ten minste in Rome, en hy moes die beste van die saak maak. Paulus gaan dus nie sit en tob oor die feit dat hy in die tronk is nie. “Ek wil hê dat julle moet weet, broers”, skryf hy, “dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die Evangelie bevorder het.” (Filip. 1:12)
Sou dit dan toevallig wees dat Paulus hier die geleentheid gekry het om die Evangelie te deel met die soldate wat hom moes oppas? Hy het dit met albei hande aangegryp! Nie alleen enkele soldate is geraak nie, maar die ganse keiserlike wag. Hierdie geharde soldate wat gedril is met dissipline, en nooit óóit toegelaat is om hulle te laat beïnvloed deur ideologiese idees van veral gevangenes nie, kom nou diep onder die invloed van die Evangelie wat Paulus verkondig. Was dit nie vir die situasie dat Paulus elke dag gedwonge met hierdie mense moes skouers skuur nie, sou hy nooit die geleentheid gehad het om die Evangelie met hulle te kon deel nie. As hy maar as prediker in Rome aangekom het, sou hy nóóit hierdie wonderlike geleentheid kon kry nie.
Maar hierdie ding het verder uitgekring. Dit was juis Paulus se vrymoedigheid in die tronk, wat ander gelowiges laat besef het dat jy jou nie deur sulke nietighede soos ’n ou bietjie tronkstraf moet laat onderkry nie. Dit het hulle die moed gegee om dit te waag om in alle omstandighede die Woord uit te dra.
Ons is dikwels so bitter bang ons trap dalk op iemand se tone as ons van Jesus praat, of dat ons iemand te ná sal kom of dalk sy fyn gevoelens sal seermaak. Moontlik is ons eerder banger dat die persoon óns dalk sal verwerp, uitlag, spot as ons oor Jesus praat. Paulus kon ‘n dwarsklap van ‘n soldaat verwag het as hy dit sou durf waag om met hom oor Godsdiens te praat. Onder Nero se regering was jy vir die leeus gevoer as jy net Jesus se Naam durf noem. Nogtans het Paulus en sy medegelowiges onverskrokke voortgegaan. Wat het ons vandag so papbroekig gemaak? Ja, daar is nog gelowiges wat bereid is om ten alle koste die Evangelie uit te dra, maar hulle is yl gesaai!
Kom ons leer ook van Paulus, nes die ander gelowiges van sy tyd, en raak waaghalsig en onverskrokke. Ons moet nou begin besef dat die Here ons in 'n spesifieke situasie geplaas het met ‘n groot doel. En ons moet verder besef dat daardie doel dalk kan wees dat ons aan mense wat dikwels nie die Evangelie wil hoor nie moet verkondig. Ons moet besef dat dit ons moontlik duur gaan kos. Ons kan selfs die bespotting van almal word! Maar alles sal uiteindelik deur en deur die moeite werd wees.
Terloops, dit is juis Paulus se tronkstraf wat gemaak het dat ons vandag hierdie wonderlike briewe van hom het. Omdat hy toegesluit was, het dit hom gedwing om talle briewe te skryf aan die mense en gemeentes wat hy nie persoonlik meer kon besoek nie. As hy nie in die tronk beland het nie, was ons vandag geestelik baie armer.
Gebed:
Here, dankie vir die situasie waarin ek vandag verkeer. Gee my moed om vir U op te staan.