Teëspoed is Loutering

4 October, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Teëspoed is Loutering

1 Tessalonisense 3:1-5

VIDEO | OUDIO

Gister het ons gesien hoe Paulus na die gemeente in Tessalonika verlang het. Dit was egter vir hom onmoontlik om daarheen terug te gaan om hulle te gaan sien. Hy het geweet dat hulle geestelike hulp nodig gehad het, maar hoe nou gemaak? Toe stuur hy vir Timoteus in sy plek!

’n Belangrike aspek van ons geloofslewe waarmee ons moet rekening hou, is die feit dat ons ook stormwater moet verwag wanneer ons geloofsbootjie oor die meer gly. Dis dán wat jy baie strategies moet beplan! Toe Paulus en sy geselskap die Evangelie in Tessalonika verkondig het, het hulle in die moeilikheid beland. Enkele Jode het onder hulle prediking tot geloof gekom, maar die res was baie skepties. Toe het die manne maar vir die Grieke begin preek en ‘n groot aantal van hulle het tot bekering gekom. Dit het die Jode die harnas ingejaag en hulle het begin kwaad stook. Hulle huur ‘n klomp leeglêers om ‘n betoging op tou te sit, en só bring hulle die hele stad in beroering teen Paulus-hulle.

Só erg was dit dat Paulus, Silas en Timoteus inderhaas in die nag uit die stad moes sluip uit vrees vir hulle lewens. Die gemeente het hulle na Berea toe geneem. Maar ook dáár het hulle in die moeilikheid gekom, want die jaloerse Jode van Tessalonika het gehoor dat hulle daar was, en dat hulle die Evangelie ook dáár suksesvol verkondig het. Toe doen hulle presies dieselfde ding as in Tessalonika en stook ‘n opstand in Berea. Weereens moes Paulus vlug vir sy lewe en hy vertrek na Atene. Hierdie slag laat bly hy egter vir Timoteus en Silas in Berea agter om die werk stilletjies voort te sit. Timoteus is later teruggestuur na Tessalonika om die gelowiges te help, en deur briefwisseling kon Paulus met die gemeente kommunikeer en hulle só versterk.

Dikwels dink mense dat alle probleme aan sonde en kleingeloof toegeskryf moet word. Ons moet verwag dat daar teenspoed sal kom as ons ernstig is oor ons werk vir die Here, en ons moet voorbereid wees daarop. Wanneer beproewings en teenspoed oor ons lewens kom, gebruik God dit gewoonlik júís om ons te versterk in ons geloof. Probleme maak dikwels vir jou nuwe deure oop! Moenie in sak en as gaan sit as dit jou tref nie maar maak werk daarvan, en as dit moontlik is, laat die teenspoed vir jou werk!

Baie mense aanbid ‘n “gelukbringer-god.” Hulle glo dat die Here alle vorms van teenspoed van hulle sal weghou. God belowe nie dat Hy nooit teenspoed oor jou lewe sal toelaat nie, maar wat Hy wél belowe is dat Hy jou sal beskerm en krag gee selfs wanneer teenspoed jou tref! Psalm 23 stel dit só treffend: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my.” Onthou ook wat Jesus gesê het in Mat. 5:11: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel.”

Ons moet dalk eerder teenspoed in die lewe van ‘n gelowige sien as ‘n smeltkroes. As ons kyk na die proses om goud te suiwer, dan weet ons dat gevaarlike chemikalieë gebruik word, soos chloor. Boonop moet die goud ook gesmelt word teen ‘n baie hoë temperatuur, meer as 1000 grade Celcius. Maar wanneer die goud deur hierdie proses is, dan is dit feitlik 100% suiwer, ‘n kosbare en baie gesogte metaal. In skrille teenstelling hiermee, is ‘n vullishoop. In Bybelse tye is vullis verbrand. Dit het die vullis totaal vernietig en in rook laat opgaan. Daar bly niks meer oor as waardelose stinkende as nie!

Dit is nie God se doel met die gelowige wanneer daar teenspoed oor jou lewe kom, dat jy soos vullis vernietig word nie, maar eerder dat jy soos goud gesuiwer word. Sodoende word jy meer bruikbaar vir God se Koninkryk en terselfdertyd lewe jy nader aan Hom.

Ten slotte moet ons ook rekening hou met die duiwel, die verleier. Paulus was bekommerd dat die duiwel dalk sy sin sou kry in Tessalonika. Alhoewel Jesus reeds die duiwel oorwin het, probeer hy steeds om gelowiges van Jesus weg te rokkel. Ja, in Tessalonika het die duiwel sékerlik hard probeer om ál Paulus se planne in die wiele te ry. Aanvanklik het sy pogings suksesvol gelyk toe Paulus na slegs ‘n kort rukkie daar moes vlug en die gemeente aan hulle eie lot oorlaat. Maar het dit hulle vernietig? Nee, baie beslis nie. Dit het hierdie mense eerder geleer om op hulle eie voete te staan. As hulle wou oorleef, kon hulle nie eers wag totdat ‘n dominee beroep was om hulle leiding te kom gee nie. Daar wás nie een om te beroep nie! Nee, hulle moes sélf die ding doen. En hulle het dit baie goed reggekry want al wat nodig was, was dat Timoteus later net ‘n bietjie kom hand bysit vir ‘n rukkie, om hulle geloof te versterk en hulle moed in te praat!

Paulus se goeie raad in Efes. 6:11-17 is om die volle wapenrusting aan te trek om die duiwel se aanslae af te weer. Gebruik dan selfs die duiwel se aanslae om jou sterk te maak en te laat groei in die geloof.

Gebed:

Here, dankie dat ek ook dikwels beproef word, en vir die moeilike tye wat oor my lewe kom. Ek is dankbaar dat U my deur alles dra en my daardeur sterk maak vir U Koninkryk!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026
Persecution
8 October, 2026
Sent Out
7 October, 2026