Talente is Riskant!

7 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Talente is Riskant!

Matteus 25:14-30

Wil jy nou rêrag vet pret hê in jou gemeente? Hou dan een Saterdag ‘n talenteveiling. Die ding werk so: Vra vir mense wat bereid is om hulle talente beskikbaar te stel. Dit kan basies enigiets wees! Hoe meer kreatief, hoe groter die pret. Reël dan ‘n lekker geselligheid waar hierdie talente opgeveil word. Op hierdie manier kan fondse ingesamel word vir die een of ander saak, soos byvoorbeeld ondersteuning vir ‘n kinderhuis. ‘n Voorbeeld van sulke talente, is iemand wat ken van bak, kan vir die persoon wat haar talent koop ‘n privaat demonstrasie kom gee hoe om die perfekte sjokoladekoek te bak. ‘n Ander kan wees dat jy iemand se motor was, of om ‘n bejaarde te neem om inkopies te doen. Die moontlikhede is legio. Ons het dit al per geleentheid in ons gemeente gedoen, en dit werk soos ‘n bom. En die lekker is dat dit alles tot uitbreiding van die Koninkryk gaan!

Die vraag is egter vanoggend: wat is ‘n talent nou eintlik? Dit was in die Bybelse tyd ‘n baie waardevolle muntstuk wat omtrent 6000 denarii werd was. Dit sou omtrent twintig jaar se loon wees vir ‘n dagloner. In vandag se terme dalk naby ‘n miljoen Rand.

In die verhaaltjie wat Jesus hier vertel, ontvang drie slawe elkeen sulke talente, elkeen volgens sy eie vermoë (Die 1983 vertaling sê goue munte, maar in die oorspronklike Grieks staan daar “talentawat ons met “talente” moet vertaal). Hierdie geld is nie hulle eiendom nie. Hulle moet dit bloot gebruik en daarmee woeker namens hulle meester. Elkeen van hulle besit die nodige aanleg, kundigheid en ervaring om van sy deel ‘n sukses te maak. Twee van hierdie slawe het hulle opdrag goed verstaan, en hulle het gaan woeker met hierdie geld, en met goeie besigheidsvernuf het hulle dit verdubbel. Die derde het veiligheidshalwe bloot syne gaan begrawe.

Wat wou Jesus sê met hierdie verhaaltjie? Ons sê: “Maar dis mos maklik! Dit beteken mos dat ons ons talente gebruik!” Tot ‘n groot mate is hierdie gelykenis deur die jare totaal verkeerd verstaan, en het hierdie gelykenis ‘n moralistiese betekenis gekry. Jy moet jou natuurlike vermoëns of talente gebruik! Dit was egter nie Jesus se bedoeling nie. Dit is baie belangrik dat jy nooit ‘n gedeelte in die Bybel buite sy konteks moet lees nie. Dit kan gevaarlik wees! ‘n Enkele Bybelversie buite konteks kan ‘n totaal verkeerde betekenis kry.

Die gelykenis begin met die woorde: “Verder gaan dit soos….” Dit is met ander woorde ‘n voortsetting van die vorige gelykenis, wat gehandel het oor hoe ons daardie wagtyd moet deurbring voor die wederkoms van Jesus. Ons moet die wil van God uitleef. Die talent waarvan Jesus hier praat is dus die gawe van die Koninkryk van God waarmee ons as Christene moet woeker. Ons kan dit nader omskryf as die gawe van God se liefde en barmhartigheid. Dit is enorme bedrae wat hier ter sprake is in die gelykenis, en op dieselfde manier is dit ‘n oorweldigende groot gawe wat Christus aan ons toevertrou waarmee ons moet werk. Ek dink nie aldag ons besef hoe groot daardie gawe werklik is nie.

Soos die slaaf met die een talent, kan ‘n mens maklik sê dat dit ‘n baie groot risiko is om hierdie gawe te gebruik. Ek skuil dus maar liewer agter verskonings soos, dat ek maar ‘n gewone sondaarmens is of dat ek skaam is of beskeie ens.

Omdat die gawe so verskriklik groot is, is daar natuurlik dan ook groot risikos aan verbonde. Die goeie nuus is egter dat hierdie “talent” wat God aan ons toevertrou nie aan ons behoort nie, maar aan God. Ons staan met ander woorde géén kans om iets te verloor nie. Die risiko is uit-en-uit God s’n!

Die hele bedoeling van die gawe van liefde is dat dit moet werk. Ons mag dus maar hierdie risiko’s neem, en ons moet dit oorvloedig uitprobeer op almal. Alleen dán tree die wet van die Koninkryk in werking en dit groei honderdvoudig, want God se liefde word vrygestel. Die uiteinde daarvan is dat ons dan die wonderlike voorreg kan smaak om te kan deel in die ewige vreugde van die Here.

Die vraag is dan, of die “talente” wat ek gekry het, my natuurlike vermoëns dan niks beteken nie? Het hulle nie ook waarde nie? O, maar natuurlik is hulle baie belangrik, want hierdie is instrumente wat God ons gee om hierdie liefde waarvan ons hier bo gepraat het uit te kan leef. Alleen wanneer ons bereid is om die liefde van God vry te stel, begin ons natuurlike talente sin kry in die lewe. Om ‘n voorbeeld te noem: as ek ‘n mooi stem gekry het, en ek besluit om dit aan te wend om in die kerkkoor te sing of om gospel liedjies te sing, dan het daardie edel aanwending van my talent nog steeds geen sin nie! Dit begin slegs sin maak wanneer ek ook die liefde van God positief hiermee uitleef. Wanneer ek dus daardie sangtalent op so ‘n wyse aanwend dat dit Jesus se liefde uitstraal en ander na Jesus uitnooi, dan begin my talente eers waarlik sin maak en waarde kry.

Gebed:

Here, maak my asseblief bereid om daardie risiko in die lewe te neem, om U wonderlike liefde deur te gee aan ander rondom my, en om U liefde positief uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026