Matteus 16:1-12
Suurdeeg is ‘n wonderlike ding. Kyk nou maar net hoe kan hy toor met ‘n sakkie meelblom! Een van die groot lekkertes van ‘n kuiertjie in die Bos, is natuurlik daardie siel-salige uitstrek by ‘n hardekoolvuurtjie, en die klanke en geure van die veld indrink. Om te sit en staar na die vlammetjies wat bokspring en dans en huppel en allerhande prentjies optower. En dit natuurlik terwyl jou vleisie rustig op die kole lê en lekker raak, en daardie vingerleklekker geur van die smeulende hout soos ‘n spons indrink. Maar sekerlik die belangrikste is jou potbroodjie wat daar eenkant op ‘n paar rustige kooltjies staan en stoom.
Maar om daardie potbroodjie so goudbruin en donsig-sag te kry, het jy ‘n paar dinge nodig. Natuurlik meelblom en sout en sommer ’n bietjie kruie vir die smaak, maar sonder die pakkie suurdeeg sal hy soos ‘n baksteen smaak. Dis harde werk om die suurdeeg behoorlik deur hom te knie. Maar dan begin die wonderwerk, as die wit deeg hier voor jou oë begin rys en rys, totdat hy naderhand oor die skottel se rand probeer ontsnap. Wonderlik hoe ‘n ou klein bietjie suurdeeg ‘n hele skottel deeg in ‘n heerlike, geurige, stomende watertand broodjie kan verander. As jy na ‘n uur se bak die pot se deksel lig, dan sê almal om die vuur: “Aaaaah!” van pure verwondering. Dit is dán dat jy selfs skoon kan vergeet van die peperduur biefstuk op die kole!
Ek kon nog nooit mooi agter die kap van die byl kom, oor presies hoe suurdeeg werk nie. Al wat ek weet, is dat hy alles waarmee hy in aanraking kom, affekteer. Gooi jy ‘n teelepeltjie vol in ‘n sak meel, dan begin die hele klomp meel naderhand borrel en blaas, en dit raak ‘n lewende organisme. Gooi ‘n bietjie suurdeeg in ‘n emmer vol water en suiker met gemmer as geurmiddel, en netnou raak daardie ‘n heksebrousel wat borrel en kook en stoom en gis. Die eind-produk is dikwels ‘n ding met ‘n liederlike skop, as hy lank genoeg laat staan word. Die suurdeeg maak van die rustige watertjie ‘n baie kwaai brousel.
Ek het al ‘n slag of wat Maroelabier gemaak in die Laeveld. Dit maak nogal ‘n heerlike verfrissende drankie. Een slag gooi ek ‘n bietjie suurdeeg in en laat hom sommer lekker lank staan om te sien wat gebeur. Na ‘n week kom daar vir jou ‘n klankie uit wat skrik vir niks! Half huiwerig skink ek vir my ‘n glasie. Daardie borrelende brousel het ‘n skop gehad soos ‘n muil! Giftig! En boonop totaal ondrinkbaar.
Dalk is dit juis hierdie soort invloed wat die Jode suurdeeg in ‘n negatiewe lig laat sien het. Hulle het geglo dat suurdeeg eintlik agteruitgang veroorsaak in ‘n sekere sin. Gedurende Paasfees was alle suurdeeg dan ook uit die huis uitgesmyt as ‘n simboliese aksie, en die brood wat gebak word, is sonder suurdeeg gebak. Ek kan my indink hoe onsmaaklik sulke ongesuurde brood moes smaak! In die Nuwe Testament word suurdeeg dan gewoonlik ook, met slegs een of twee uitsonderings, in ‘n negatiewe sin gebruik. In Matteus 16:6 waarsku Jesus byvoorbeeld Sy dissipels teen “die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs”.
Net soos wat ‘n klein bietjie suurdeeg ‘n groot invloed het, het een enkele persoon dikwels ‘n invloed op baie mense. Hitler was ‘n kragtige “suurdeeg”, wat miljoene mense beïnvloed het. Net so kan ‘n enkele negatiewe persoon ‘n hele gemeente versuur. Ek onthou die Sondag toe ‘n gemeentelid opgestaan het tydens die Erediens en aangekondig het dat hy nie langer na die dominee se “snert” sal luister nie. Alhoewel die leraar ‘n goeie boodskap gehad het was dit, en die ganse erediens totaal geruïneer daardie Sondag. Een persoon se negatiewe houding kan ‘n hele gemeente saamsleep op sy donker pad.
Maar suurdeeg kan ook in ‘n positiewe lig gesien word, soos in Mat 13:33 beskryf word. Dink maar aan daardie geurige potbrood. Een enkele persoon kan ‘n hele gemeente positief beïnvloed met byvoorbeeld liefde wat uitstraal of blydskap of entoesiasme. Toets dit maar: stap in ‘n vertrek in waar ‘n klomp teneergedrukte mense sit. Begin om vrolik en hartlik die mense te groet met blydskap wat uit jou hart uit kom, en binne minute verander die ganse stemming van daardie groep. Mense wat totaal afsydig is, sal selfs met mekaar begin gesels. Dit is hoe goeie suurdeeg werk.
Die wonderlike van suurdeeg is dat dit ‘n lewende organisme is. Dit is nie soos byvoorbeeld bakpoeier wat slegs vir een baksel die deeg kan laat rys nie. Suurdeeg kan aangaan en aangaan. As jy ‘n bietjie van die deeg wat ingesuur is bêre, kan jy more en oormore en volgende maand nog steeds deeg daarmee laat rys. Net so is ‘n gelowige se positiewe suurdeeg ook nie maar ‘n eenmalige ding nie, maar dit moet ‘n lewenswyse wees van positiewe inspirasie en blydskap wat aangaan en aangaan sonder ophou, selfs deur swaar tye. Op hierdie wyse gee jy dan ook vir ander mense moed en veral belangrik: hoop!
Die belangrike om egter te onthou, is dat niemand dit kan doen uit eie krag nie. Die Heilige Gees alleen kan jou die krag gee om vol te hou daarmee om goeie suurdeeg te wees en geurige “potbrode” te bak. Maar ewe belangrik is, dat jy dit aan elkeen wat geraak word deur jou suurdeeg, dit sal duidelik maak waarvandaan jou krag kom.
Gebed:
Here, maak my asseblief ‘n goeie suurdeeg in U Koninkryk, en gee my die krag om dit uit te leef tot U eer.