Suurdeeg

24 July, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Suurdeeg

1 Korintiërs 5:1-13

Die maroelas in die Laeveld het daardie jaar baie mooi gedra, en by my aankoms in die Bos lê die maroelas sulke plate onder die bome, nét reg vir die eet. Vir die ouens wat nie maroelas ken nie: jy pluk nie 'n maroela van die boom af nie. Jy wag tot die vrugte vanself van die boom afval, dan is hulle ryp. Ons tel emmersvol maroelas op, want die goed kan mos nou nie gemors word nie. En toe besluit ek mos in my wysheid dat ‘n bietjie koue maroelabier hier in die warm somerdae nie ‘n slegte idee kan wees nie.

Ek maak elke hol ding wat ek in die hande kry vol opgesnyde maroelas. ‘n Paar koppies suiker wond bygevoeg, en net vir die wis en onwis ‘n paar pakkies suurdeeg om die proses so ‘n bietjie aan te help. Daar word gebrou, en die resultaat is etlike emmersvol heerlike verfrissende maroelabier.

Ek het my egter ‘n bietjie misgis met die hoeveelheid, en die bier raak ons naderhand baas. ‘n Week of wat later hang daar ‘n walm in die huis wat jou op ‘n trip sit nes jy by die voordeur instap. Die laaste emmer het maar daar eenkant gestaan en gis. Almal was maar half lugtig vir hom. Toe ek uiteindelik die moed bymekaarskraap om die doek te lig, staan hy behoorlik en borrel en kook - ‘n heksebrousel, as daar óóit een was! Een proe van daardie brousel skud my tot in my fondamente. Erger as mampoer! Die suurdeeg het behóórlik sy ding gedoen!

Suurdeeg kan ‘n gevaarlike ding wees as hy misbruik word! Paulus het dit baie deeglik besef. Net ‘n paar ou korreltjies kan in ‘n japtrap alles rondom hom beïnvloed. Op dieselfde wyse kan verkeerde invloed in ‘n gemeente in ‘n kort tydjie sommer vinnig sy gif versprei en almal aanraak.

So was die gif van die sonde van een van die gemeentelede van Korinte besig om die ganse gemeente te versuur. Die hele ding het waarskynlik baie onskuldig begin. Die tradisie was dat wanneer ‘n man sterf, dan neem die oudste seun die hele huishouding oor. Sy ma en sy pa se ander vrouens (ja, hulle was daardie jare baie braaf!) asook die seuns en ongetroude dogters word almal onder sy sorg geneem. En so het hierdie kêrel van wie Paulus skryf, waarskynlik ‘n huishouding geërf. Een van sy pa se vrouens (sy stiefma) het egter sy hormone op loop gejaag, en in plaas daarvan dat sy in die spaarkamer haar intrek neem, trek stiefma toe sommer na sý slaapkamer toe. Selfs die heidene het nie eers sulke walglike gedrag geduld nie!

As die gemeente maar iets gedoen het aan die saak, was dit nie so erg nie, maar hulle doen toe net mooi niks! En soos suurdeeg begin hierdie man se sondige lewe later die hele gemeente versuur.

Paulus se reaksie is een van skok. “Doen iets!” wil hy dit uitskreeu, “Raak ontslae van die gif!” Dan skryf Paulus ‘n verskriklike ding, wat dikwels hééltemal verkeerd verstaan word: Hy sê die man moet aan die duiwel oorgegee word!

Hoe kán Paulus so ‘n skokkende ding sê? Kom ek verduidelik: Die kerk word beskou as die terrein van God se heerskappy, terwyl die wêreld buite die kerk as die duiwel s’n gesien word. Om iemand aan die duiwel oor te gee, sou dus beteken dat hy uit die kerk geban word. Dit beteken nie noodwendig dat so ‘n persoon verlore is nie! Hy het steeds sy geloof in Jesus. Hierdie moet ook nie as ‘n “straf” gesien word nie, maar ‘n liefdeshandeling om daardie persoon tot sy sinne te probeer ruk, sodat hy kan besef hoe erg die sonde is waaraan hy hardnekkig vasklou. Hopelik sal hy dan tot bekering kom en met sy sonde breek. Die kerk sal hom met ope arms terug verwelkom.

Soortgelyke walglike sondes kom vandag dikwels voor in ons moderne gemeentes. Ons het egter al so afgestomp geraak deur die vloedgolf van sonde rondom ons, dat ons dit maar verdra en ons oë toemaak daarvoor. Die tug, eintlik ‘n liefdesaksie, word bitter selde nog in die kerk toegepas. Dalk is dit een van die redes waarom ons dikwels met gemeentes sit waarvan driekwart dooie hout is wat besig is om te vrot. En die bakterië wat die vrot veroorsaak versprei stadig maar seker dwarsdeur die ganse gemeente. Dit is net die paar “hardehout” lidmate wat immuun is. As ons nie werk maak daarvan met drastiese maatreëls om die vrot te keer nie, sal ons gemeentes uiteindelik totaal verswelg word.

Terloops, wat beteken tug? Is dit “straf”?

Nee, tug beteken kortliks dat daar met iemand wat in sonde val mooi gepraat word en dat jy hom probeer oorreed om van die sonde af te sien. As hy weier, word ander gelowiges betrek. Alles moontlik word gedoen om hom op die regte pad te kry. Soms is harde optrede nodig!

Paulus praat vandag hard met ons gemeentes. Ons moet daadwerklik iets doen aan die areas waar daar groot probleme is. Ons durf dit nie maar ignoreer, en hoop dat dit vanself gaan regkom nie. Ons moet dringend iets doen voordat dit dalk te laat is.

Gebed:

Here, gee ons asseblief die moed en krag en wysheid om die probleme in ons gemeente aan te spreek.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026