Suur Druiwe

17 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Suur Druiwe

Jesaja

Oupa Johnny Parsons was sy lewe lank ‘n drywer op die Spoorwëe op Waterval Boven. Toe hy die dag 55 word, moes hy aftree op pensioen. Ledig kon hy beslis nie gaan sit nie, en met sy aftreegeldjies koop hy vir hom ‘n plasie ‘n paar kilometer buite die dorp.

Dit was ‘n ware juweel, genestel tussen klipkoppies en met ‘n paar standhoudendende fonteine. Dus begin Oupa vrugtebome plant. Geelperskes, witperskes, lospitperskes en kaalperskes. Hy plant vyebome, pruimbome, amandelbome en okkerneutbome. Daar was appels, pere, turksvye en appelkose. Waarlik die tuin van Eden! In hierdie oorvloed van vrugte om van te kies en keur, het ek grootgeword, en ek kon smul aan die soetste, sappigste van hulle.

Maar een ding het gekort: ‘n druiwepriëel. Op ‘n dag kry Oupa druiwestokke in die hande, en hy plant sy wingerd. Maar daar het iets skeefgeloop, moontlik die verkeerde soort druiwe? Dit sou ons egter eers heelwat later uitvind. Uiteindelik, een mooi somer, toe hang die trosse druiwe blink-pers onder die stallasie. Vol afwagting gaan pluk ek vir my ‘n trossie, en my mond begin sommer al water. Maar as ek die eerste korrels in my mond prop, vertrek my gesig. My kiewietjies trek inmekaar, en dit proe asof ek ‘n mondvol asyn gevat het. Vies spoeg ek die suur spul uit! Dít het ek nóóit verwag nie!

Jesaja skryf ‘n pragtige lied oor ‘n wingerd. Hy skryf hoedat die boer met groot sorg die klippe verwyder en die grond gereed kry. Dan begin hy met liefde die wingerd aanplant deur spesiale, uitgesoekte, veredelde wingerdstokke in die grond te druk. Hy ontsien géén moeite nie, bou selfs ‘n wagtoring om die wingerd op te pas en span ‘n doringheining daarom om die jakkalsies uit te hou. Hy kap ‘n parskuip uit waarin die wyn gemaak sou word. Die wingerd word liefdevol versorg en gesnoei en die onkruid word sorgvuldig uitgekap sodat die wingerd nét sy beste kan lewer.

Met groot afwagting hou die boer die wingerd dop. Hy is opgewonde wanneer die korrels swel en uiteindelik donker-pers verkleur, gereed om gepluk te word. Maar wanneer die eerste druiwe die dag met groot vreugde geoes word, proe dit soos Oupa Johnny se asyn-druiwe. Dis suur en onbruikbaar! En dít na ál sy moeite!

Jesaja vergelyk die interaksie tussen die boer en sy wingerd met die verhouding tussen God en Sy volk. Jesaja speel met sy hoorders. Hy begin die gedeelte soos ‘n liefdeslied. Hy skets vir sy gehoor pragtige, intieme verhoudings, en jy weet sommer dadelik dat hierdie lied te doen het met die pragtige verhouding tussen God en Sy volk. En die mense dink dat hier darem uiteindelik iets mooi uit Jesaja se mond kom waarna jy kan luister! Dis nou oulik van die kwaai profeet! ‘n Pragtige, onskuldige verhaaltjie!

Skielik verander die hele trant van die verhaal. Nou is dit nie meer Jesaja wat die storie vertel nie, maar die Boer. “Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds gedoen het nie?” (vers 4) vra Hy seergemaak.

Die hoorders van die verhaal sal almal saamstem dat só 'n wingerd niks werd is nie, en dat dit uitgekap moet word. En dit is presies wat die Boer beplan. Die heinings, wagtoring en parskuip – alles moet vernietig word! Die wingerd sal deur onkruid oorgroei word. Die hoorders knik instemmend die kop.

Dan draai Jesaja na die hoorders en hy wys die vinger na hulle. “Julle is daardie wingerd, en God is die Boer!”

Met Jesaja as spreekbuis, spel God vir die volk uit hoe groot hulle sonde is, en hoe verskriklik hulle Hom teleurgestel het na alles wat Hy vir hulle gedoen het. Hulle het Sy liefdevolle sorg deur die jare vertrap. Daarom gaan Hy met hulle maak soos wat met die wingerd gebeur het in die verhaal. Die oordeel is groot want hulle het God se liefde verwerp.

Soos die luisteraars na Jesaja se verhaal vinger gewys het vir die wingerd, so wys ons dikwels ook maar vinger. Ons wys vinger na Eskom, die SAL, die regering, die staatsdiens. Maar eintlik vergeet ons skoon van die vier vingers wat na ons terugwys. Elkeen van ons moet biddend gaan sit en introspeksie doen. Ek weet dat daar baie dinge in my lewe is wat verkeerd is, dinge wat gedurig die Here teleurstel.

Bekering is nie maar 'n eenmalige gebeurtenis wanneer ek Jesus ontmoet nie. Dit is iets wat elke dag moet gebeur, anders word ek suur soos Oupa Johnny se wingerd.

Gebed:

Here, ek is so gou om te oordeel en geregtigheid te skree. Maar ek staan dikwels sélf skuldig. Heilige gees, lei my om nader aan U te leef en te doen wat U van my vra.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026