Stuur My!

20 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Stuur My!

Jesaja 6

Jesaja beleef ‘n ontmoeting met die Heilige God van aangesig tot aangesig. Dit is wel in ‘n visioen, maar dit bly vir Jesaja baie, baie spesiaal, en dit verander sy hele lewe onherroeplik.

Hierdie visioen kom aan die einde van koning Ussia se heerskappy. Dit is belangrik om dit te weet, want juis op daardie tydstip het dit met die volk baie voorspoedig gegaan. Ussia was ‘n baie bekwame koning, en hy was baie gewaardeer in Juda. En juis in hierdie voorspoedige tyd, kondig Jesaja die ondergang van die volk aan.

Jesaja is in die tempel wanneer hy hierdie asemrowende ontmoeting met God het. Dit is iets wat hy geweldig intens beleef. God is baie groter as wat enige mens se verstand kan begryp. Jesaja beskryf dat slegs die onderste deel van God se kleed alleen die hele tempel gevul het. Daar was serafs, hemelwesens wat God gedurig loof terwyl hulle hard uitroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.” So hard is hulle lofprysinge, dat die swaar kosyne in die tempel rammel en bewe.

Al hierdie dinge beklemtoon die almag en grootheid en heiligheid van God. Daar is slegs één soos Hy. Hy is uniek. Hy is die enigste God. Daar is géén ander soos Hy nie. Ten spyte hiervan daal Hy neer na die nietige mense en vereenselwig Hom met hulle. Hy gee om vir die doodgewone mens.

Jesaja is natuurlik dadelik beangs, want niemand kan oorleef in die heilige teenwoordigheid van God nie. “Dis klaarpraat met my!” snik hy dit beangs uit. Hoe kan énige sondige mens voor die heilige God staande bly?

Is dit nie die gevoel wat ek en jy ook maar dikwels kry nie? Ek, sondige mens, het ek ooit énige bestaansreg voor die heilige God?”

Maar daar is goeie nuus: God is genadig! Hy kan selfs die grootste sondaar reinig! Selfs vir my! En wat meer is, Hy kan my selfs in Sy diens gebruik. Is dit nie wonderlik nie?

Die seraf het Jesaja aangeraak met ‘n gloeiende kool en simbolies daarmee aangedui dat Jesaja gereinig is, net soos wat silwer en goud gesuiwer word deur vuur.

Dan vra die Here wie Hy kan stuur as ‘n boodskapper? Sommer dadelik is Jesaja gewillig: “Ek is hier. Stuur my!”

Sonder om eers ‘n kommissie van ondersoek na Jesaja se lewe of verlede aan te stel, stem God dadelik in. Jesaja moet God se boodskap aan die volk oordra.

God het hom nie beveel om te gaan nie, Hy het slegs genoem dat iemand nodig is vir die taak. Jesaja het nie eers geaarsel nie, en sommer dadelik aangebied om te gaan.

Wat ‘n wonderlike voorbeeld stel Jesaja vir jou en my. Ons wil graag gevra word, selfs gesoebat word om die werk van die Here te doen. Uit ons eie gebeur dit nie sommer dat ons aanbied nie. Dis mos baie moeite, en boonop is dit dikwels ‘n bitter ondankbare taak. Só was dit beslis vir Jesaja! Maar sonder aarseling het hy homself beskikbaar gestel.

Ja, inderdaad is dit dikwels baie moeilik om die Woord te verkondig, God se boodskap oor te dra. In Jesaja se geval word hy al vooraf gewaarsku dat die mense nie na hom sal luister nie. Om die saak te vererger, het Jesaja die amper onverstaanbare taak om die volk eintlik te verwar sodat hulle nie sal wíl hoor nie.

God het genade op genade bewys aan die volk. Hy het by hulle gesoebat en gepleit. Hy was vir hulle net goed, maar keer op keer smyt hulle Sy goedheid en genade terug in Sy gesig. Hulle verwerp Hom. Nou bly slegs één genade oor, en dit is dat hulle moet voel, want hoor, hoor hulle nie!

Die kwelvraag is: is dit dan die einde van die volk? Het God se liefde en genade nou totaal uitgeloop?

Die antwoord is: “Nee!” God is en bly steeds genadig ten spyte van die volk se hardkoppige verwerping van Sy liefde. In vers 13 lees ons: “Maar soos van 'n akkerboom of 'n terpentynboom 'n stomp bly staan wanneer dit afgekap word, so sal daar vir die land 'n stomp oorbly: die gewyde geslag.” In kort kom dit daarop neer dat daar tóg ‘n klein oorblyfsel, ‘n “stomp” sal oorbly wat getrou sal wees aan die Here. Hierdie klein oorblyfsel sal sorg vir ‘n nuwe begin.

As ons na ons land kyk, en sien hoedat alles ten gronde gaan, dan raak ons moedeloos. Die kerke loop leeg en dit wil voorkom asof die ganse Suid-Afrika in goddeloosheid verval. As dit só erg gaan dat daar selfs al ‘n kerk vir Satan gestig word, dan lyk alles verlore.

Maar selfs hiér bly steeds ‘n “stomp” oor wat God se Naam sal hoog hou. Is jy deel van daardie “stomp”?

Gebed:

Here, soos Jesaja wil ek ook vandag uitroep: “Hier is ek! Stuur my!” Maak my gewillig en waardig vir die taak, asseblief Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026