Struikelblokke

22 November, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Struikelblokke

Handelinge 20:13-38

VIDEO | OUDIO

Wat dryf ‘n mens om soms ‘n ding te doen wat uiters gevaarlik is ter wille van iemand anders? Die bekende verhaal doem skielik by my op van Racheltjie de Beer, die meisietjie wat haar klere uitgetrek het in die sneeustorm en dit vir haar boetie aangetrek het en hom toe met haar eie liggaam beskerm het teen die bittere koue. Ja, sy is dood maar hy het bly leef.

In die hawestad Assus klim Paulus op die skip en sluit hom by Lukas en die sewe ander manne aan. Vroeg die volgende oggend vaar hulle na Mitilene, waar hulle weer die nag oorstaan. Die kuslyn van Asië is uiters gevaarlik en as jy nie kan sien presies waarheen jy op pad is nie, beteken dit selfmoord. Daarom het die skepe in daardie tyd slegs bedags gevaar en snags in een van die beskutte hawetjies oornag. Dus vaar hulle die volgende dag na Chios, daarna Samos en uiteindelik tot by Milite.

Paulus wou baie graag by Efese aangaan om daar met die gemeente te gaan praat maar sy tyd was besig om uit te loop. Hy wou in Jerusalem wees vir die Pinksterfees. As hy by Efese sou vertoef, sou hy dit dalk nie betyds kon maak nie. Dus stuur hy 'n boodskap dat die ouderlinge van Efese hom in Milite moes ontmoet, 'n afstand van sowat 60 kilometer want daar moes hulle vir 'n paar dae oorstaan om vir 'n ander skip te wag wat hulle na Sirië sou neem.

Paulus benut die kort tydjie saam met hulle baie goed en hy praat hulle moed in. Hy was op pad na Jerusalem, gedring deur die Heilige Gees. En wat daar met hom sou gebeur, moes maar gebeur! Hy was immers in God se hande. Hy was maar ál te bewus daarvan dat daar waarskynlik vervolging op hom wag, maar die taak wat hy vir die Here verrig het was baie belangriker as sy lewe. Teen daardie tyd was hy natuurlik ook al goed gewoond aan vervolging want hy was al geslaan, gestenig, in die tronk en verskeie kere moes hy vlug vir sy lewe!

Daar is vandag baie gelowiges wat wil glo dat geloof soos die bootjie na Kammaland is, waar die maan se helder strale jou begelei op 'n spieëlgladde meer van romanse. Nee, 'n gelowige se lewe is nie een lang suksesverhaal nie, veral nie as jy jou geloof ernstig opneem nie. Die pad kan soms bitter swaar wees, bestrooi met struikelblokke en selfs vervolging. Dikwels betaal gelowiges op die sendingveld met hulle eie lewens. Wanneer ons egter ons roeping met oortuiging uitleef, kan ons selfs die grootste krisis vol vertroue tegemoetgaan!

Paulus sê dan ook vir die manne van Efese dat dit sékerlik die laaste keer sou wees wat hy hulle sou sien. Dis dus sy afskeidswoorde aan hulle en juis dáárom rus daar 'n baie groot verantwoordelikheid op hulle skouers, want hy sou hulle nie verder kon pamperlang nie. Hulle moes verantwoordelikheid vir hulleself aanvaar maar hulle was ook verantwoordelik vir die gemeente. Al die gelowiges was onder hulle sorg en hulle moes alles wat hulle van Paulus geleer het aan die gemeente oordra en sorg dat die gemeente geestelik groei. “Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baiekeer met trane!” sê Paulus vir hulle in Handelinge 20:31. In die drie jaar wat Paulus in Efese was het hy die gemeenteleiers intensiewe opleiding gegee. “Maar nou vertrou ek julle aan God toe.”

Paulus benadruk dit verder dat hy vir hulle in die drie jaar 'n goeie voorbeeld probeer stel het van hoe hulle moet optree as leiers. Dit moes beslis nie oor geld gaan nie. Hy het in daardie tyd 'n punt daarvan gemaak om vir sy eie lewensonderhoud te sorg. Hy moes bedags hard werk en tente maak om aan die lewe te bly en saans het hy hulle geleer. Dit het hy onder meer gedoen sodat daar genoeg geld sou wees om vir die armes te kon gee.

“Onthou die woorde van die Here Jesus,” sê Paulus met nadruk. “Hy het self gesê: Om te gee maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang.” (Hand. 20:35).

Maar dan het dit tyd geword om te groet, Paulus se skip het gereed gestaan om te vertrek. Saam het al die manne gekniel en verenig in gebed. Dit was 'n droewige afskeid en die trane het gestroom toe die manne mekaar omhels en soen. Sou hulle óóit weer vir Paulus sien? Paulus het geglo dat dit die laaste keer was. Dit was 'n stoet van lang, droewige gesigte en betraande oë wat Paulus vergesel het na sy skip!

Ja, Paulus sou wél weer met die gelowiges in Efese praat, maar dit sou eers vyf jaar later wees en hy sou met hulle praat deur middel van 'n brief wat hy uit die tronk in Rome geskryf het. Daardie brief sou egter nie die persoonlike aanraking met die mense hê soos nou nie en dit sou bedoel wees vir 'n hele paar gemeentes om te lees.

Is jy dalk 'n leier in jou gemeente? Met 'n leier bedoel ek nie net die dominee, pastoor en leier-ouderling nie. Elkeen wat leiding neem op die een of ander terrein is 'n leier in eie reg. As jy die week verantwoordelik is om die teeskink te organiseer, dan is jy 'n leier.

Daar rus 'n baie groot verantwoordelikheid op die skouers van elke leier in die kerk. En terloops, daar is nie so 'n ding soos 'n “hoofleier” nie, elke leier het presies eweveel status, die sondagskoolonderwyser, die ouderling, die dominee, die moderator en die pous. Niemand is verhewe bo 'n ander nie! Al wat verskil is die terrein van jou leierskap.

Wat is jou verantwoordelikheid? Elke leier s'n is anders. Vir die een is dit om om te sien na oumense en hy moet dit doen na die beste van sy vermoë. Doen alles wat aan jou toevertrou is asof jy dit vir die Koning van alle Konings doen!

Gebed:

Here, so dikwels huiwer ek en deins ek terug wanneer geloofsuitdagings vir my wag. Gee my asseblief die moed om dit met volle vertroue en sonder huiwering aan te pak - dankie dat U altyd met my is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026