Johannes 7:32-39
Terwyl Jesus besig was om die mense in die tempel te leer, het Hy gehoor hoedat die mense oor Hom fluister. Hy was ook wel dééglik bewus van die komplot om Hom gevange te neem. Die tempelwagte was eintlik al op pad om Hom te gaan gryp. Toe sê Jesus ‘n skokkende ding, dat Hy nog net ‘n kort tydjie by hulle sou wees. Ja, Hy sou hulle verlaat en waar Hy heen sou gaan, sou hulle nie kon kom nie. Hulle het dit soos gewoonlik totaal verkeerd verstaan. Hulle het gedink dat Hy op pad was om na Griekeland te emigreer! Natuurlik het Jesus hiermee bedoel dat Hy sou sterf en na die hemel gaan. Die skokkende is dat Hy geweet het dat die meeste van die mense wat daar teenwoordig was, die binnekant van die hemel nooit sou sien nie, as gevolg van hulle hardkoppigheid en ongeloof!
Dit was die sewende dag van die Huttefees. Die feesgangers het elke dag van die fees na die Siloam put gegaan vir water om na die tempel toe te neem, waar dit by die altaar uitgegiet is. Al singende het die mense takkies rondgeswaai en sitrusvrugte omhoog gehou as ‘n teken van die oes wat verby was. Hiermee wou hulle dan vir die Here dankie sê vir die oes. Die water was ‘n simbool van die water wat die Here hulle in die woestyn uit die rots gegee het. Esegiël 47:1-9 vertel van ‘n visioen van ‘n stroom water wat uit die tempel stroom, só sterk dat dit ‘n magtige rivier word. Die Jode het dan ook geglo dat daar in die laaste dae fisies ‘n rivier uit die tempelrots sou stroom. Volgens Esegiël vloei die rivier só sterk dat dit die Dooie See vul en vars maak, en dat vissermanne ‘n ryke verskeidenheid vis daar sal kry. Dit gaan nuwe lewe aan die land gee, en waar daar eens dorre woestyn was, gaan dit lowergroen word. Openbaring 22 vertel van dieselfde rivier van lewende water.
Jesus het hierdie pragtige tradisie van die Jode, om water na die tempel te bring, aangegryp en terwyl alles vars in hulle geheue was, het Hy dit uitbasuin sodat almal in die tempel dit kon hoor: “As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink!” ‘n Asem-ophou-stilte het oor die tempel geval. Alle oë was op Jesus gerig. Wat sou Hy daarmee bedoel het? Skielik het Hy ál die aandag gehad! “Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”
‘n Doodse stilte het in die tempel gehang. Skielik het dit begin gons soos ‘n swerm bye: “Wat bedoel Hy? Verwys Hy dalk na Esegiël se profesie? Gaan die water dalk nou uit die tempelrots begin stroom?” Maar soos dit al so talle male gebeur het, het die mense Jesus net weereens totaal verkeerd verstaan. Hy het hier na iets heeltemal anders verwys - ‘n geweldige gebeurtenis wat selfs die stroom water uit die rots sou oorskadu. Johannes verduidelik in vers 39 dat Jesus verwys het na die groot dag, ‘n paar jaar later, toe die Heilige Gees op die gelowiges uitgestort sou word.
Aan die einde van Mei gaan die NG Kerk weereens ‘n reeks Pinksterdienste hou, ‘n jarelange tradisie en seker een van die mees geseënde tradisies van die kerk. Die hoogtepunt word natuurlik bereik op Pinkster Sondag, wanneer die uitstorting van die Heilige Gees herdenk word. Wat ‘n heerlike gebeurtenis moes dit nie gewees het nie!
Die beeld wat Jesus hier gebruik is dan ook só akkuraat-beskrywend van dit wat sou gebeur. Strome van lewende water wat sou vloei uit die gelowiges. Petrus was die eerste om dit te ervaar, toe hierdie man wat weggekruip het tydens Jesus se verhoor, opgestaan het en onverskrokke ‘n skare van duisende mense toegespreek het. Die woorde het letterlik uit hom geborrel soos ‘n fontein heerlike soet water, toe hy verduidelik wat aan die gebeur was. Drieduisend mense het op daardie dag tot geloof gekom. Die borrelende stroom water het hulle net eenvoudig meegesleur!
Daardie selfde stroom borrel vandag nog steeds net so sterk. Die Lewende Water waarvan Jesus vertel het, is in elke gelowige. Ongelukkig skroef die meeste van ons ‘n prop op die Bron sodat dit veilig binne bly. Haal af daardie prop! Gee die Heilige Gees die geleentheid om ook uit jou te kan stroom!
Esegiël vertel hoedat hierdie stroom lewe gee so ver as wat dit gaan. Inderdaad het hierdie stroom in Jerusalem begin, presies soos Esegiël voorspel het en dit het lewe gebring in die dorre woestyn! Die Gees het elke gelowige aangespoor om die Evangelie uit te basuin en binne ‘n baie kort tydjie het dit oor die ganse wêreld gevloei, deur Judea, Samaria, Griekeland, Sirië, Afrika en tot in die hartjie van die bose Rome.
Vanoggend wil ek by jou pleit om die Heilige Gees ook in jou lewe toe te laat en om jou te gebruik as bron waaruit Sy lewegewende water kan borrel. Al wat Hy van jou vra is jou bereidheid. Hy sal die res Self doen! Wees net ‘n instrument in Sy bekwame hande, Hy sal die werk doen!
Gebed:
Here, dankie dat U Heilige Gees ook in my lewe is. Help my asseblief om Hom toe te laat om my lewe te gebruik tot U eer.