Handelinge 7:54-8:3
Ek het al by verskeie geleenthede gehoor van mense wat ‘n doodservaring beleef het. Hiermee bedoel ek dat hulle letterlik dood was vir ‘n kort rukkie en weer bygekom het en in hierdie tydjie iets van die hemel beleef het. Wonderlike dinge wat hierdie mense vertel van ‘n belewenis waar die gordyn vir ‘n paar oomblikke vir hulle oopgeskuif is en hulle die heerlikheid van die hemel kon sien. Dikwels vertel hulle dan ook dat hulle baie teleurgesteld was dat hulle nie daar kon bly nie en dat hulle nie wou terugkom nie. Die beskrywings wat die mense gee vertel van ‘n ongekende en onbeskryflike heerlikheid. Dit vertel van helder, spierwit lig en dat alles so skoon en rein is en van die glans van God wat alles verlig. Dikwels wil jy jouself die vraag afvra: “Maar is dit werklik? Het hulle nie maar net gedroom nie? Is dit nie dalk maar net die trauma van die doodservaring wat met hulle sinne op loop gesit het nie?”
Maar dan lees jy hierdie stukkie in Handelinge waar Stefanus ‘n soortgelyke ervaring het. Die dinge wat hy gesê het, het die Joodse raad rasend van woede gemaak want hy het bitter seer op hulle tone getrap. Maar Stefanus het dit nie eers agtergekom nie want op daardie oomblik was die krag van die Heilige Gees so sterk by hom teenwoordig dat hy tot in die hemel kon sien. ‘n Visioen kon ‘n mens dit dalk noem, maar my beskeie opinie is dat Stefanus op daardie oomblik die grens tussen hemel en aarde oorgesteek het en die heerlikheid van God met sy eie twee oë aanskou het! Toe hy na die hemel opkyk sien hy vir Jesus aan die regterhand van God staan. Jesus, Regter en Redder staan in die belangrikste troonsaal van die heelal. Stefanus vertel opgewonde vir die Joodse Raad wat hy sien. Oor so ‘n ervaring durf ‘n mens net eenvoudig nie stilbly nie! Hierdie hemelse ervaring het vir Stefanus die krag gegee vir die verskrikking wat sou volg......
Vir die Jode was hierdie net één te veel - laster in die ergste graad! Hoe durf hy sulke snert kwytraak? Hulle skreeu hard om sy woorde te probeer verdrink en druk boonop hulle ore toe sodat hulle nie verder na hom hoef te luister nie. Dan storm hulle soos een man op hom af en sleep hom uit die stad uit om hom te stenig. Die wet het hulle natuurlik uitdruklik verbied om iemand binne die stad te stenig.
Die ritueel van steniging het ‘n bepaalde orde gehad: die eerste getuie, die ooggetuie van die misdaad het die aangeklaagde op die grond neergegooi. Die tweede getuie moes dan die eerste klip gooi na die aangeklaagde se hart. Onthou, daar móés minstens twee getuies wees om iemand skuldig te bevind. Daarna was dit ‘n “free-for-all” en almal het klippe na hom geslinger totdat hulle seker was dat hy dood was!
Terwyl die klippe op Stefanus neer reën, bid hy hardop en hy vertrou sy gees toe in Jesus se hande. Hy vergewe sy martelare met die woorde dat die Here asseblief nie hulle verskriklike sonde aan hulle sal toereken nie! En so sterf die heel eerste Christenmartelaar, nie met haat op sy lippe nie, maar met vergifnis! Ja, Stefanus het voluit die pad van die Here bly stap tot aan die héél einde!
‘n Toeskouer van hierdie hele wrede teregstelling was ‘n man met die naam Saulus. In daardie tyd het ‘n man drie name gekry: ‘n voornaam, ‘n familienaam en ‘n noemnaam en dan het jou naby familie jou gewoonlik ook nog ‘n vierde “troetelnaam” of signum gegee. “Saulus” was waarskynlik die troetelnaam wat sy pa hom genoem het en Paulus sy noemnaam. Saulus het met goedkeuring toegekyk hoedat Stefanus met klippe doodgegooi word. “So word God se eer immers gered”, het hy gedink, “want so ‘n Godslasteraar durf nie bly lewe nie!”
Die owerhede het nou bloed geruik en rooi gesien en so begin die vervolging van Christene in Jerusalem in alle erns. Hierdie "sekte", so het hulle gemeen, moes met wortel en tak uitgeroei word! Dis veral die Griekssprekende gedeelte van die kerk wat baie krities teenoor die tempel gestaan het, wat wreed vervolg was. Saulus was een van die voorbokke en hy het letterlik van huis na huis geloop om Christene uit te snuffel en tronk toe te sleep.
Die gevolg van hierdie vervolging was dat die Christengelowiges moes vlug vir hulle lewens. Jerusalem het letterlik leeggeloop van gelowiges, en hulle het oor die hele Judea en Samaria versprei. Skielik dink ons aan Jesus se woorde: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Hand. 1:8). Fase 1 (Jerusalem) was voltooi en nou tree fase 2 van Jesus se opdrag en belofte in werking. Nou begin dinge opwindend raak maar die groot uitreik na die uithoeke van die wêreld moes nog kom. Daarvoor was 'n baie spesiale persoon nodig, iemand wat op hierdie stadium nog nie náástenby gereed was daarvoor nie! Hierdie groot sendeling was nog eers besig om die kerk van Jesus in alle erns te vervolg! Hy moes nog eers die pad na Damaskus stap om daar vir Jesus te ontmoet!
Maar nou loop ek die storie vooruit! Van daardie geskiedenisveranderende insident sal ons later lees!
Gebed:
Here, U is getrou en U beloftes staan vas! Soms dink ons dat alles verlore is maar dan sien ons hoe U op ‘n wonderbaarlike wyse werk. Vat asseblief my hand vandag en as dinge vir my duister lyk, rig dan asseblief my oog op U groot plan vir ons!