Staatsgreep

1 February, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Staatsgreep

2 Samuel 15:7-37

VIDEO | OUDIO

Absalom, Dawid se “probleemkind” (nie sy enigste probleemkind nie!) se gewildheid neem by die dag toe. Hy is ‘n flambojante karakter wat in die strate rondry met ‘n kar en perde - iets wat in Israel maar selde gesien is. Maar daar is ‘n doel agter Absalom se groot vertoon - hy het sy oog op die kroon en hy probeer die volk se guns wen!

Absalom kry sy planne baie mooi agtermekaar en op ‘n dag gaan vra hy sy pa se toestemming om na Hebron te gaan om daar die een of ander gelofte na te kom. Dawid vermoed niks van die slinkse plan wat Absalom in die mou voer nie. Hy nooi ook tweehonderd niksvermoedende mense uit Jerusalem om saam met hom te gaan onder die dekmantel dat hulle gaste is by sy offer. Tot dusver lyk alles baie edel. Maar dan begin Absalom met sy streke. Hy stuur boodskappers na al die stamme in Israel om die gerug te versprei dat hy koning geword het in Hebron. Die ramshorings wat blaas sal getuig daarvan. Maar Absalom gaan nog ‘n stappie verder om te verseker dat hy suksesvol sal wees - hy neem Dawid se raadgewer, Agitofel saam met hom.

Terwyl Absalom op pad is na Hebron, kom iemand uitasem by Dawid aan en vertel hom die verskriklike nuus: “Die hele Israel staan bankvas agter Absalom.” Dawid besef dadelik dat die skrif aan die muur is en dat sy lewe nie veilig is in Jerusalem nie. As Absalom sy eie broer kon vermoor, dan is Dawid beslis ook nie sy lewe seker nie! Dieselfde volk vir wie Dawid hulle held was en wat hom gesoebat het om hulle koning te word, is nou van plan om hom uit te delg!

Byna ‘n duisend jaar later gebeur presies dieselfde met Dawid se Afstammeling, Jesus: Dieselfde skare wat palmtak-swaaiend Hom toegesing het: “Hosanna! Hosanna vir die Seun van Dawid!” het slegs ‘n paar dae later woedend uitgeskreeu: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Hoe vinnig kan mense se mening en gemoedstoestand nie verander nie!

Inderhaas besluit Dawid om te vlug. Dit laat ons met baie vrae: Waarom vlug? Jerusalem was dan ‘n veilige vesting en niemand sou dit kon oorwin nie? Sou dit nie baie veiliger wees om daar te bly nie? Of het Dawid dalk nie meer geweet wie sy vriende en wie sy vyande was nie? Wou hy dalk bloot vlug om ‘n burgeroorlog en ‘n bloedbad te voorkom?

Dis ‘n droewige en baie traumatiese prentjie wat vir ons geskilder word van ‘n stroom mense wat al huilend die stad verlaat. Deur die Kedronspruit loop hulle en dan streep hulle teen die Olyfberg op. Aangrypend! Dawid verkies om eerder kaalvoet te loop want hy wil die grond en klippe onder sy voete voel! Sy droefheid is baie groot. Hulle kies koers die woestyn in.

Dawid vlug vir sy eie seun met die handjievol mense op wie hy kan reken. Die seshonderd soldate saam met hom is sy persoonlike leër wat ál die jare in die stryd teen Saul by hom gestaan het. Maar daar duik ook onverwags ander op van wie Dawid nie lojaliteit verwag het nie. Die Filistyn, Ittai kies om saam met Dawid te vlug en sy lewe te waag. Hy kon wél na sy eie mense teruggegaan het en veilig wees, maar hy volg eerder vir Dawid.

Dikwels gebeur dit dat dit juis in die tyd van nood of groot swaarkry is, waar mense van wie jy dit nooit verwag het nie, die hand na jou uitreik. Ek het al so dikwels gehoor dat mense sê dat wanneer jy begin swaarkry, dan kom jy agter dat al jou vriende vals was want almal los jou soos ‘n warm patat. Ek het egter presies die teenoorgestelde ervaar, want toe ek begin swaarkry het, het ek agtergekom hoeveel ware vriende ek werklik gehad het en hoeveel mense werklik vir my omgee. Ek was oorval met liefde!

So het Dawid dit ook ervaar. Maar dan moet hy tóg ook slegte nuus hoor: sy getroue raadgewer, Agitofel het hom by Absalom geskaar! Dawid is platgeslaan en dan wend hy hom tot die enigste Hulp wat hy ken: hy bid dat die Here Agitofel se raad aan Absalom waardeloos sal maak.

Terwyl Dawid nog besig is om te bid, kom ‘n wyse man, Gusai by hom aan en bied sy hulp aan. Dawid sien onmiddellik ‘n kans om hier ‘n intelligensienetwerk op te stel en hy stuur Gusai terug na Jerusalem. Sy taak is om te maak asof hy aan Absalom getrou is. Dan moet hy spioeneer en berigte met priesters saam vir Dawid stuur.

Die spanning loop hoog! Berigte bereik Dawid dat Absalom besig is met ‘n triomfantlike opmars na Jerusalem en Dawid beleef seker die grootste krisis óóit in sy lewe. Sal Absalom net eenvoudig alles oorneem? Is dit die einde van Dawid se roemryke heerskappy?

Dawid se tyd het egter nog nie aangebreek nie. Daar was nog eers dinge wat moes gebeur in God se groot raadsplan. Maar voor redding sou kom, sou daar eers vir Dawid ‘n paar ander groot krisisse wag! Daaroor gesels ons DV in ons volgende oordenking.

Gebed:

Dankie Here, dat ons kan weet dat U steeds in beheer is, al is die krisis in ons lewe ook hóé groot!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026