Sprinkane

18 June, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sprinkane

Joël 1:1-5

VIDEO | OUDIO

Ek sien sommer die moedeloosheid op Ouma se gesig wanneer sy vertel van daardie groot verskrikking: “Pikswart wolke,” sug sy dramaties, “pikswart, sodat dit eintlik donker word - so het hulle oorgevlieg gekom in hulle miljoene!” Dit was angswekkende jare daardie vir baie van die boere in Suid-Afrika en Ouma het dit eerstehands beleef. “Dit het amper soos donderweer geklink as die sprinkaanswerms oor ons vlieg. Wanneer hulle kom het ons almal gehardloop vir die landerye om te probeer om hulle daar weg te hou, want waar hierdie sprinkane gaan sit het, het hulle alles tot in die grond afgevreet sodat daar niks, maar niks oorgebly het nie!”

Ouma gee weer so ‘n lang, droewige, moedelose sug asof sy dit alles nou weer hier beleef. “Ons het probeer om hulle te verdryf met enige ding wat kan geraas maak, selfs goed aan die brand gesteek om hulle uit te rook maar dit was hopeloos. Ons lande was kaalgestroop sonder dat daar ‘n stoppeltjie oorgebly het! Ons groentetuintjie en selfs die vrugtebome was net eenvoudig opgevreet en ons het alles verloor..…”

“Ag my kind,” sug Ouma weer swaar, “en as dit nie die sprinkane is nie, is dit die kommandowurms!”

Joël begin sy boek deur dit duidelik te stel dat hierdie nie sommer net ‘n traktaatjie is nie maar dat dit die Woord van die Here is wat tot hom, Joël, seun van Petuel gekom het. Wie Joël was en waar hy vandaan kom, is onbekend en ons weet nog minder oor sy pa, Petuel. Dit maak egter nie saak nie want die eintlike Outeur van hierdie geskrif is nie Joël nie maar God Sélf! Inderdaad is dit Hý wat nie alleen met die Jode van 300vC deur hierdie boek praat nie maar ook met óns vandag.

Joël val dan ook sommer met die deur in die huis en vertel sy lesers van ‘n verskriklike ramp wat hulle gaan tref. Nie net één nie, maar sommer ‘n hele reeks plae gaan die land in ‘n puinhoop verander. Soos Ouma se storie van so ‘n afgryslike sprinkaanplaag laat jou hare regop staan! Op ‘n dag verskyn hulle skielik net in die woestyn, asof dit die sand is wat lewendig word. Die klein sprinkaantjies kruip onder die sand uit in hulle miljoene en binne ’n baie kort tydjie verander hulle in verterende monsters wat net aanhou vreet en vreet. Hulle verorber alles wat in hulle pad kom - landerye, boorde, koring, wingerde en selfs die kosbare olyfbome. Joël profeteer dat dit gaan begin met ruspes (kommandowurms?) wat alles opvreet en wanneer hulle verby is, kom die treksprinkane en vreet op wat oorgebly het. En nes almal dink dat dit uiteindelik verby is, dan is die volgende pes alweer daar, voetgangersprinkane en daardie krioelende massa rol aan oor alles soos ‘n vloedgolf. Maar steeds is dit nie die einde nie want op hulle hakke kom die kaalvretersprinkane en vreet selfs die stoppels wat nog oorgebly het óók op!

Joël begin sy skrikwekkende aankondiging met drie opdragte: Luister, gee aandag en vertel (v. 2 en 3). Dit beklemtoon die erns van die saak want hierdie is nie sommer net ‘n storie nie, hulle moet luister na wat die profeet sê! Hulle moet aandag gee aan sy pleidooie en dan mag hulle dit nie vir hulleself hou nie maar hulle moet gaan vertel wat hulle gehoor het en almal oortuig. Hulle moet dus iets omtrent die saak doen en dit nie maar net daar laat nie!

Die eerste groep mense wat onder Joël se vlymskerp tong deurloop, is die dronkaards. Drankmisbruik, so wil dit voorkom was op daardie tydstip ‘n ernstige probleem. Joël noem hulle kaalkop by die naam: “drinkebroers!” En dan gaan dit oor iemand wat hom vergryp aan drank. Vandag is dit steeds ‘n enorme probleem! Aan die een kant het ons die brandarm mense wat hulle sorge probeer versuip met goedkoop drank en dwelms. Daar is egter ook doodgewone mense wat hulleself vergryp aan drank en dikwels varke van hulleself maak. So dikwels hoor jy selfs bekende persone wat spog daarmee dat hulle te veel gedrink het. Ek dink nie dat Joël bedoel dat ‘n gelowige nie sy lippe aan drank mag sit nie. Daar is niks verkeerd met ‘n glasie wyn of ‘n drankie indien dit matig gebruik word nie.

Die afgryslike slagting op ons land se paaie Paasnaweke en Desembervakansies is ‘n riller en dan sê die verkeersowerhede dat ‘n reuse persentasie van die sterftes veroorsaak word deur drank. Iemand wat onder die invloed van alkohol ‘n motor bestuur is ‘n potensiële moordenaar!

‘n Ander reuse probleem is die onskuldige kindertjies wat gebuk gaan onder fetale alkoholsindroom wanneer hulle ma alkohol misbruik het tydens die swangerskap. Daardie ma is skuldig aan die verstandelike verminking van haar kind. Dit is tragies dat dit die onskuldige kind is wat daaronder ly.

Joël waarsku diegene wat hulle vergryp aan drank, dat hulle maar by voorbaat kan huil en kerm en kla want ná die sprinkane se verwoesting sal daar selfs nie meer druiwe wees om wyn te maak nie!

Joël pleit vandag by elkeen van ons om met aandag te luister na sy pleidooi. Ons moet wegbreek van die verkeerde dinge waarmee ons besig is. Dalk is die verkeerde dinge juis dat ons lou geword het en God nie meer dien soos wat ons moet nie.

Gebed:

Here, maak my oë en ore oop vir U stem, en help my om daadwerklik iets te doen omtrent die saak wat U my op die hart lê!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026