Sprinkane, Vuur en Skewe Bouwerk

24 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sprinkane, Vuur en Skewe Bouwerk

Amos 7:1-9

Video - Oudio

As ek vir iemand sou sê: “Jy moet ophou rook - dis sleg vir jou gesondheid!” sal hy my uitlag, of dalk instemmend antwoord, maar net eenvoudig aangaan met sy skadelike rookgewoonte. As ek egter vir hom foto’s wys van hoe iemand se longe lyk wat vir jare gerook het, en vir hom in gruwelike grafiese detail beskryf van die lyding wat dit kan veroorsaak wanneer emfiseem of longkanker jou tref, dan mag dit dalk ‘n baie groter invloed hê, en die kanse is dan goed dat hy sal ophou rook.

In die eerste ses hoofstukke het Amos vir die volk gepreek en gesmeek dat hulle moet ophou met hulle sonde, maar dit was alles puur verniet! Hulle het hulle net eenvoudig nie aan hom gesteur nie! Nou kom skilder Amos vir hulle ‘n prentjie van ‘n paar visioene wat hy gesien het. Presies hoe hy die visioene beleef het, weet ons nie, maar dit was iets bonatuurlik. Vir hom was dit so eg en grafies, dat hy dit nie van die werklikheid kon onderskei nie. Hy het altesaam vyf sulke visioene beleef. Dit was amper soos ‘n televisiereeks met vyf episodes wat voor Amos afgespeel het, en dit het ‘n geweldige groot indruk op hom gemaak.

In die eerste visioen sien hy hoe die Here besig was om ‘n sprinkaanswerm te vorm. Dit was laat lente, en die laaste reëns voor die bloedige warm, droë somer het so pas geval. Al die gras was afgesny om hooi te maak, en die nuwe groen grassies wat  vir die diere moes kosgee deur die somer, het pas uitgeloop. Met groot skok en kommer in sy hart, hou Amos die groeiende sprinkaanplaag dop. Wat hy daar sien broei, kan net één ding beteken! As hierdie sprinkane eers ’n swerm vorm, gaan hulle alles wat eetbaar is verorber! Daar sal nie weer kans wees vir enigiets om te groei in die somer nie, want die reëns is mos verby. Dit sal die einde van die volk beteken, want die diere gaan vrek sonder weiding en die volk gaan doodgaan van die honger. Dit sal ‘n verskriklike ramp wees!

Vandag kry sprinkaanswerms nie sommer kans om werklik groot skade aan te rig nie, want daar is goeie plaagbeheer. Ouma het my egter vertel hoe hulle die vernietigende krag van ‘n sprinkaanswerm beleef het. Wanneer die wolk insekte oorvlieg, word dit donker. Waar die swerm land, is dit soos ‘n vreetmasjien wat álles voor hulle verteer, elke grashalmpie, vrugtebome, mielielande, groentetuine, álles! Hulle het tevergeefs probeer om die goed weg te jaag met geraas en op blikke slaan, want as die een klomp opvlieg, is daar tien ander om weer die gat te vul. Dit was ‘n nagmerrie!

Sprinkane was in die Ou Testament gesien as die oordeel van God, en Hy het dit dan ook so gebruik in Egipte teen Farao toe hy nie die Israeliete wou vrylaat nie. Amos het die volk vertel van hierdie verskriklike oordeel, en toe smeek hy die Here om asseblieftog nie die volk te straf nie. Hy beroep hom op die Here se genade, en hy maak nie eers verskoning vir die volk se sonde nie, want daar wás geen verskoning nie. Sy enigste hoop was dat die Here darem tog hulle voorvader, Jakob sou onthou.

En die Here was genadig!

Amos sien ‘n tweede visioen, ‘n reuse verterende vuur. Dit was iets verskriklik! So erg was die vuur dat dit al die grondwater laat opdroog het. Die mense het geglo dat daar diep onder die aarde ‘n reuse poel water was. Al die putte het hulle water van daardie poel gekry. Hierdie vuur sou die moeder-poel opdroog, sodat nie ‘n enkele put meer water sou hê nie. Dit sou natuurlik ‘n katastrofe wees, want sonder water kan niks en niemand bestaan nie. Weereens bid Amos en smeek die Here, want hierdie ou volkie is só nietig en klein! Nou was daar nie eers meer sprake van die grootheidswaan van die volk, waarvan Amos vertel het nie.

En weereens was die Here genadig!

In die derde visioen sien Amos die Here met ‘n skietlood in Sy hand. Hy was besig om ‘n muur te meet. ‘n Skietlood is ‘n instrument waarmee jy meet of ‘n muur regop gebou is, of skeef. ‘n Bouer bepaal hiermee of die bouwerk goed genoeg is. ‘n Skewe muur is natuurlik gevaarlik. Dit voldoen nie aan die standaarde nie, en dit moet afgebreek word! Nie alleen is dit ‘n pynlike proses vir die messelaars wat moet afbreek, die stene skoonmaak en die werk oordoen nie, maar ook vir die bouer want sy trots is daarmee heen!

Die Here noem Israel steeds Sy volk, selfs na hierdie oordeel. Hy is steeds genadig. Hy wil steeds die volk red! 

Hierdie visioene praat ook hard en duidelik met my en jou. As ons die naam van “volk van die Here” dra, dan is daar sekere standaarde vir ons lewe wat ons moet nakom, sekere lewenswaardes wat ons moet uitleef. Ons moet leef soos daar van die gesin van die Here verwag word. As ons hardkoppig bly skeef bou aan ons lewenshuise, kan ons verwag dat daar die een of ander tyd afgebreek sal moet word. Dit is ‘n pynlike proses! Kom ons bou eerder reg van die begin af.

Gebed:

Here, my bouwerk is dikwels maar bitter skeef. Wees my genadig, en help my om dit reg te stel.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026