Splinternuwe Aarde

1 November, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Splinternuwe Aarde

Genesis 8 en 9

Dit was op ‘n paar dae ná presies ‘n jaar nadat die eerste reëndruppels op die aarde neergeplof het, toe Noag weer ‘n opdrag van God kry: “Noag, nou kan jy en jou gesin en al die diere die Ark verlaat.”

Dit was ‘n heuglike dag! Noag het die reuse deur wyd oopgegooi en die heerlike sonskyn en vars lug ingedrink. Voor hom lê die wêreld lowergroen en splinternuut. God het alles wonderlik herstel en vir Noag en sy gesin ‘n nuwe begin gegee. Dit was ‘n begin sonder al die geweld, korrupsie en sonde waaraan hulle so gewoond was. Maar voordat hulle die aarde kan betree, wag daar eers harde werk.

Om al die duisende diere ordelik uit die ark te kry is géén maklike taak nie. Dit is soos om 50’000 mense na ‘n wedstryd tussen die Sharks en die Bulle deur een enkele hek uit Kings Park Stadion te probeer bondel. Maar Noag het al in sy lewe ‘n ark gebou, dus is hierdie een maar ‘n vulletjie!

As die laaste diere (sékerlik die skilpaaie!) uit die ark marsjeer, roep Noag sy gesin bymekaar. Die seuns kry die taak om elkeen ‘n mak dier te gaan vang: “Eerste dinge eerste!” sê Noag. “Ons moet eers vir die Here dankie sê dat Hy ons deur al hierdie verskrikking bewaar het en ons ‘n splinternuwe aarde gegee het.”

Met sy eie twee hande bou Noag ‘n altaar vir die Here van ’n klompie uitgesoekte groot klippe. ‘n Paar droë takkies en stompe maak baie gou ‘n vuur op die altaar. Die seuns kry die taak om die diere te slag, en dan in aanbidding voor God word die diere geoffer ten aanskoue van die enigste paar oorblywende mense op aarde.

Terwyl hy nog besig is met sy offer, hoor Noag duidelik die stem van die Here uit die hemel: “Ek sal nie weer so 'n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie. So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.”

Noag en sy hele gesin val op die grond neer en aanbid God, die Een wat al Sy beloftes nakom tot op die laaste kommatjie.

En dan gebeur die wonderlike ding: Die Here seën Noag en sy gesin. “Julle moet vrugbaar wees en baie word en die aarde bewoon.” Dit is God se seën aan die klein groepie mense.

Dan praat die Here ernstig met hulle. Hy verduidelik dat Hy vir hulle sal sorg. Hy gee vir hulle al die plante en diere om te gebruik, ja alles is tot hulle beskikking. Hulle kan van alles gebruik as kos vir hulle.

Maar dan gee God ook ‘n ernstige waarskuwing, dat hulle niemand mag doodmaak nie. Mensebloed mag nie vergiet word nie. Dit is nie om dowe neute dat die Here so ‘n opdrag vir hulle gee nie, want voor die vloed was niemand sy lewe seker nie! Geweld was aan die orde van die dag. Nou sê God egter: “Genoeg is genoeg!”

Noag, julle is My verteenwoordigers op aarde,” verduidelik die Here.

Dit is heilige oomblikke hierdie, en die wonderlike nabyheid van God raak Noag en sy gesin aan. Dan maak God dit nog meer spesiaal: “Noag, Ek het besluit om ‘n verbond te sluit met jou en jou nageslag. Ek het besluit dat hierdie verskrikking wat die aarde getref het om alles uit te wis, nooit ooit weer sal plaasvind nie, dit belowe Ek vandag plegtig vir julle. Daar sal nooit weer so ‘n oorstroming wees wat mens en dier op die aarde sal uitwis nie.”

Noag kan nie genoeg dankie sê hiervoor nie, want al was hulle dan ook gered van die vloedwaters, wil hy nooit weer so ‘n skrikwekkende ondervinding hê nie.

Kyk op in die lug Noag,” hoor hy weer God se wonderlike stem. En Noag kyk. En wat hy sien slaan sy asem skoon weg. Nog nooit in sy ses honderd en een jaar het hy so ‘n wonderlike gesig aanskou nie. Oor die aarde span die wonderlikste boog in al die kleure waaraan ‘n mens kan dink.

Noag, dit is die teken van My verbond met jou en al die toekomstige geslagte na jou. Wanneer Ek die wolke laat saampak oor die aarde, sal Ek ook hierdie reënboog gee om julle te herinner aan My verbond met julle. Dit sal vir julle die berusting gee dat daar nooit weer so ‘n vloed sal wees nie.”

Inderdaad staan God se beloftes vas. Dit was alreeds duisende jare gelede, en nog nooit was daar weer so ‘n vloed nie, nét soos die Here belowe het. En God se seën oor Noag se gesin? Die drie seuns, Sem, Gam en Jafet was baie vrugbaar en die ganse aarde is uiteindelik deur hulle en hulle nageslag bevolk.

God se beloftes staan vandag nog steeds vas, net soos in Noag se tyd. Duisende jare na Noag het die Bybel uiteindelik op ‘n wonderbaarlike wyse tot stand gekom. Talle beloftes van die Here is daarin opgeteken vir jou en my vandag, net soos vir miljoene mense voor ons. Het jy al God se beloftes jou eie gemaak?

Gebed:

Here, ek dank U met my hele hart vir al die wonderlike beloftes wat U vir my gegee het in U Woord.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026