Soete Wraak

24 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Soete Wraak

Genesis 34:1-31

Ons staan nou al geruime tyd stil by die verhale van die drie aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob. Iets wat my veral opgeval het oor hierdie ou grotes uit die geskiedenis, is dat hulle vreedsame manne was. Ons het slegs een enkele insident gesien waar ou Abraham geweld gebruik het. Dit was die keer toe hy sy nefie Lot moes gaan bevry nadat hy as gyselaar weggevoer is. Sedert ons met Abraham se verhaal as jong man begin het, het daar dus al heelwat meer as tweehonderd jaar verloop sonder geweld van die volk wat God uitverkies het.

Maar dan vind daar ‘n insident plaas wat die afstammelinge van Abraham skielik laat opvlam en die hele prentjie laat verander. Dina is Jakob se enigste dogter. Vir ‘n meisiekind om so alleen groot te word tussen ‘n klomp rowwe broers, is nou nie juis lekker nie. Sy het geselskap gesoek van haar eie soort, en die enigste ander meisies in die omgewing was die Kanaänietiese meisies. Op ‘n dag gaan kuier sy by haar heidense vriendinne. Dan gebeur ‘n liederlike ding. ‘n Jong kêrel met die naam Sigem sien hierdie mooi Israelietiese meisie raak, en sy hormone gaan op loop met hom. Sy pa is die volksleier, en Sigem het sékerlik alles gekry wat hy wou hê. Hy het ’n brandende begeerte vir haar, en wanneer hy haar alleen kry, verkrag hy haar.

Dina is verpletter! Haar lewe is verwoes, en dit nogal deur ‘n heidense man! Sigem, aan die ander kant, het nou eers opgewerk begin raak. Hierdie meisie het ‘n begeerte in hom wakker gemaak wat hy net eenvoudig nie kan blus nie. Vir Dina móét hy kry as sy vrou!

Wanneer Dina weer by die huis is, vertel sy wat met haar gebeur het. Jakob is geskok! Sy enigste dogter, verkrag deur ‘n Kanaäniet! As tagtigjarige ou man het hy nou nie juis meer die kragte om die jong Sigem te gaan konfronteer nie. “As my seuns tog maar net hier was.....”. Maar Jakob se string seuns het baie ver met die troppe vee gaan wei. Dit sou nog weke neem voordat hulle weer ‘n draai by die huis kom maak. “My seuns sou geweet het wat om te doen omtrent hulle suster....”

Intussen gaan gesels Sigem met sy pa, Gamor. “Pa, daar is iets wat ek begeer met my hele hart. Pa moet haar asseblief vir my kry!” Gamor sien sommer die begeerte van sy seun se gesig afdrup. “Pa, kry asseblief vir my daardie dogter van Jakob! Ek wil haar hê as my vrou!”

En so vertrek Gamor en Sigem na Jakob se tente om te begin met die onderhandelinge. Binne Jakob kook dit oor die verskriklike onreg wat sy meisiekind aangedoen is, maar hy verbloem sy gevoelens. Die óú Jakob, die bedrieër is skielik weer terug as hy met ‘n vroom gesig die gaste ontvang.

Juis op daardie tydstip kom sy seuns by die huis aan, totaal onbewus van al die drama wat daar afgespeel het. Maar baie gou kry hulle die nuus. Hulle is woedend. “Kom ons maak die addergebroedsel nét hier vrek!” wil een nog voorstel. Maar dan kry hulle ‘n briljante idee: die wraak gaan baie soet wees!

Intussen gaan die onderhandelinge voort tussen Jakob en Gamor. Die Kanaäniet skilder vir Jakob ‘n pragtige prentjie van hoe hulle familie gaan word as die tweetjies nou sou trou, en hoedat daar dan vir al Jakob se seuns ook vrouens sal wees. En boonop is Gamor bereid om ‘n fortuin te betaal vir sy seun se bruid. Maar Jakob het ander planne: “Ek wil eers die sakie met my seuns bespreek.”

Pa ken mos ons wet wat van Grootoupa Abraham se tyd af kom? Dina mag mos nie trou met iemand wat nie besny is soos ons nie?” Jakob ruik ‘n rot, maar hy luister voort. “As hulle wil hê dat ons met hulle dogters trou, dan moet die hele lot van hulle mos besny word.” Die slinkse seuns het klaar 'n plan uitgewerk.

Jakob is terug na die onderhandelingstafel met sy seuns se sinistêre voorstel. Gamor skrik hom yskoud as hy hoor wat met al sy manne moet gebeur, maar sy seun se begeerte is so groot dat hy tóg instem. En so is hy terug na sy mense om hulle die goeie en die slegte nuus mee te deel. ‘n Rukkie later is al die onderdane van Gamor, sékerlik onder luide protes, besny.

En dit is nét hiervoor wat Jakob se seuns sit en wag. Wanneer al Gamor se manne in pyn sit na hulle massa-operasie, sluip Simeon en Levi, twee van Jakob se seuns die stad binne en vermoor vir Gamor en Sigem. Dina, wat intussen daarheen geneem is teen haar sin, word bevry. Dan word al die ander mans afgemaai terwyl hulle totaal weerloos is. Die stad word geplunder en die vrouens en kinders word as slawe geneem.

Jakob is verslae: hy is nie sulke geweld gewoond nie. Sy seuns het skande oor sy huis gebring, en waarskynlik baie moeilikheid op die pad vorentoe.

Jakob se seuns het Godsdienstige motiewe gebruik vir eie gewin. Ons moet baie versigtig wees dat ons dit nie sélf doen nie. As gelowiges loop ons dikwels die gevaar om ons Godsdiens te misbruik om sekere situasies te regverdig. “Die doel heilig die middel” is ‘n baie gevaarlike stelling. God se wil is die enigste norm wat vir ons as gelowiges durf geld.

Gebed:

Here, bewaar my asseblief daarvan dat ek my geloof sal misbruik vir eie gewin. Laat U wil geskied, asseblief Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026