Matteus 6:9-15
So dikwels het ek al gehoor dat iemand sê: “Ek weet nie hoe om te bid nie.” En dan natuurlik die nagmerrie van menige ouderling: “Ek sterf tien dode as ek in die openbaar moet bid!” As ek jou vanmôre ‘n geheimpie kan vertel: ek sukkel sélf om ‘n openbare gebed te doen, want ek luister na ander mense se lang en indrukwekkende gebede, en dan begin ek bid, en ek voel so klein en nietig, want ek het nie al daardie mooi woorde en gedagtes wat die “groot bidders” en “voorbidders” het nie. Maar dan dink ek aan die voorbeeld van ’n gebed wat Jesus vir Sy dissipels gegee het, en dan voel ek nie meer skaam nie, want Jesus se gebed is kort en bitter eenvoudig.
Wat leer Jesus ons oor gebed?
Die aanhef van die gebed vertel vir ons van die nabyheid van God. Maar Jesus praat dan van die Vader wat in die hemel is, ver verhewe bo ons? Nee, die feit dat Hy in die hemel is het niks met afstand te doen nie. Hoe ver is die hemel? Dalk baie nader as wat ons dink! Kom ek verduidelik: As ons in twee aangrensende vertrekke is, met ‘n eenrigting venster tussen ons, kan jy my moontlik nie sien nie, en jy is moontlik nie eers bewus van my teenwoordigheid, slegs enkele meter van jou af nie. Ek is egter steeds reg by jou en ek kan jou sien en hoor en selfs met jou kommunikeer. Dalk kan ons ook die hemel in daardie lig sien. Jesus het immers belowe dat Hy by ons sal wees tot met die voleinding!
Dit het dus hier te make met die Vader se almag en alomteenwoordigheid. Ons aanbid die Almagtige God, waarvoor niks, absoluut niks onmoontlik is nie. Hy is sékerlik groter as Sy skepping, die heelal. Ons wêreld kan Hy in die holte van Sy hand hou. As inwoner van die aarde kan ek dus gaan waar ek wil, maar ek is steeds baie naby aan God, rég in die holte van Sy hand.
Ons praat verder ook nie met ‘n onpersoonlike God nie. Jesus leer ons om Hom baie persoonlik op te neem. Hy is “ons Vader”. Dit wil vir ons sê dat dit ‘n baie persoonlike gesprek is met Iemand wat vir my omgee en wat my liefhet, net soos wat ‘n aardse vader sy eie seun sal liefhê. Dit beklemtoon die absolute nabyheid van God aan my wanneer ek bid. God se Vaderskap vorm die kern van die hele bergrede, en wanneer ons daardeur lees, sien ons hoedat Jesus telkemale daarna verwys. Dit is dus baie belangrik om deeglik te besef wanneer ons bid, hoe persoonlik hierdie gesprek eintlik is. Dit is egter ewe belangrik om ook die almag van God, waarna ek so flussies verwys het, te besef, want as ons verder bid vir ons daaglikse behoeftes, moet ons weet dat dit binne God se mag is om te voorsien.
Die eenvoud van Jesus se gebed nooi ons elkeen uit om deel te neem, want selfs die bangste bidder sal kans sien vir so ‘n eenvoudige gebed. Daar is nie ‘n uitgebreide stel voorskrifte wat jou oorweldig nie, en elkeen kan daarmee identifiseer.
Hierdie gebed bestaan uit drie “U” bedes, en drie “Ons” bedes. Op hierdie manier word God en mens verbind in ‘n gebalanseerde gebed waar die een nie die ander oorheers nie. Die grootste slagyster waarin ons almal dikwels trap, is om jou hele gebed net rondom jouself te sentreer. Ek wil net my eie behoeftes voor God kom neerlê. Dit is soos om met ‘n inkopielys te kom staan en vir die Here te vertel wat jy wil hê en wat jy nodig het. Dit is ‘n egosentriese slagyster, waar alles net oor my eie behoeftes en myself gaan.
As ek die geleentheid sou kry om saam met die koningin van Engeland ‘n koppie tee te gaan drink, hoe sou my gesprek begin? Natuurlik sal ek haar eers komplimenteer oor haar hoed, en ek sal my vergaap aan al die goud en kristal in Buckingham Paleis, en vir haar vertel hoe wonderlik dit vir my is. Ek sal beslis nie met die deur in die huis val en allerhande versoeke rig nie!
Is God nie baie, baie groter as sy nie? Is Hy nie miljoene kere meer verhewe as sy nie? Waarom sal ons haar dan meer eer gee as vir Hom? Sou dit nie maar net ‘n natuurlike uitvloeisel wees van ‘n gesprek met die Almagtige God om in die eerste plek aan Hom eer te betoon, en vir Hom te wys hoeveel respek ons vir Hom het nie? Sê vir Hom dat jy Sy almag en grootheid eer, en dat Sy wonderlike Naam vir jou heilig is en hoe kosbaar Sy liefde vir jou is!
Wanneer die Koningin se aankoms op ‘n groot onthaal aangekondig word, sal al die gaste uit respek opstaan slegs by die aanhoor van: “Her Majesty, Queen Elizabeth.” Hoeveel te meer moet die blote aanhoor van die heilige Naam van God Almagtig nie ontsag en eer afdwing by my as nietige mensie nie. Natúúrlik gaan ek Sy Naam eer. Natúúrlik gaan ek by die blote aanhoor of aanroep van Sy Naam aan Hom al die respek en aanbidding gee wat Hom toekom, en ek gaan vir Hom vertel hoeveel Sy Naam vir my beteken.
Kom ons eer ons wonderlike Vader in ons gebed!
Gebed:
Ons Vader wat in die hemel is, U heilige Naam is vir my so groot dat ek dit met siddering op my lippe neem. Ek loof U, Here van die leërskare.