So Bid Mens

18 May, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie So Bid Mens

Matteus 6:9-15

VIDEO | OUDIO

So dikwels het ek al gehoor dat iemand sê: “Ek weet nie hoe om te bid nie.” En dan natuurlik die nagmerrie van menige ouderling: “Ek sterf tien dode as ek in die konsistorie/openbaar moet bid!” As ek jou vanmôre ‘n geheimpie kan vertel: ek sukkel sélf om ‘n openbare gebed te doen, want ek luister na ander mense se lang en indrukwekkende gebede, en dan begin ek bid, en ek voel so klein en nietig want ek het nie daardie stortvloed van mooi woorde en gedagtes wat die “groot bidders” en “voorbidders” het nie. Maar dan dink ek aan die voorbeeld van ’n gebed wat Jesus vir Sy dissipels gegee het, en dan voel ek nie meer skaam nie, want Jesus se gebed is kort en baie eenvoudig.

Kom ons gaan kyk ‘n bietjie wat Jesus ons leer van gebed:

Die aanhef van die gebed vertel vir ons van die nabyheid van God. Maar Jesus praat dan van die Vader wat in die hemel is, ver verhewe bo ons? Nee, die feit dat Hy in die hemel is het niks met afstand te doen nie. Hoe ver is die hemel? Dalk baie nader as wat ons dink! Kom ek verduidelik: As ons in twee aangrensende vertrekke is, met ‘n eenrigting venster tussen ons, kan jy my moontlik nie sien nie, en jy is moontlik nie eers bewus van my teenwoordigheid, slegs enkele meter van jou af nie. Ek is egter steeds reg by jou en ek kan jou sien en hoor en selfs met jou kommunikeer. Dalk kan ons ook die hemel in daardie lig sien. Jesus het immers belowe dat Hy by ons sal wees tot met die voleinding!

Dit het dus hier te make met die Vader se almag en alomteenwoordigheid. Ons aanbid die Almagtige God, waarvoor niks, absoluut niks onmoontlik is nie. Hy is sékerlik groter as Sy skepping, die heelal. Ons wêreld kan Hy in die holte van Sy hand hou. As inwoner van die aarde kan ek dus gaan waar ek wil, maar ek is steeds baie naby aan God, rég in die holte van Sy hand.

Ons praat verder ook nie met ‘n onpersoonlike God nie. Jesus leer ons om Hom baie persoonlik op te neem. Hy is “óns Váder”. Dit wil vir ons sê dat dit ‘n baie persoonlike gesprek is met Iemand wat vir my omgee en wat my liefhet, net soos wat ‘n aardse vader sy eie kind sal liefhê. Dit beklemtoon die absolute nabyheid van God aan my wanneer ek bid. God se Vaderskap vorm die kern van die hele bergrede, en wanneer ons daardeur lees, sien ons hoedat Jesus telkemale daarna verwys. Dit is dus baie belangrik om deeglik te besef wanneer ons bid, hoe persoonlik hierdie gesprek eintlik is. Dit is egter ewe belangrik om ook die almag van God, waarna ek so flussies verwys het, te besef, want as ons verder bid vir ons daaglikse behoeftes, moet ons weet dat dit binne God se mag is om te voorsien.

Kyk ons na die eenvoud van die gebed wat Jesus ons leer, dan nooi dit elkeen uit om te kom deelneem, want selfs die bangste bidder sal kans sien vir so ‘n eenvoudige gebed. Daar is nie ‘n uitgebreide stel voorskrifte wat jou oorweldig nie, en elkeen kan daarmee identifiseer.

In die kern van die gebed is daar drie “U” bedes, en drie “Ons” bedes. Op hierdie manier word God en mens verbind in ‘n gebalanseerde gebed waar die een nie die ander oorheers nie. Wanneer ons bid, is daar ‘n baie groot slagyster waarin ons almal dikwels trap, en dit is om jou hele gebed net rondom jouself te sentreer. Ek wil net my eie behoeftes voor God kom neerlê. Dit is soos om met ‘n inkopielys te kom staan en vir die Here te vertel wat jy wil hê en wat jy nodig het. Alles gaan oor “ek” en “my”. Inderdaad trap ek self dikwels in hierdie egosentriese slagyster, waar my ganse gebed net oor my eie behoeftes en myself gaan.

As ek die geleentheid sou kry om saam met koning Charles van Engeland ‘n koppie tee te gaan drink, hoe sou my gesprek begin? Natuurlik sal ek hom eers komplimenteer oor sy mooi huis. Ek sal my vergaap aan al die goud en kristal in Buckingham Paleis, en vir hom vertel hoe wonderlik dit vir my is. Ek sal beslis nie met die deur in die huis val en allerhande versoeke rig nie!

Is God nie baie, baie groter as hy nie? Is Hy nie miljoene kere meer verhewe as Charles nie? Waarom sal ons koning Charles dan meer eer gee as vir Hom? Sou dit nie maar net ‘n natuurlike uitvloeisel wees van ‘n gesprek met die Almagtige God om in die eerste plek aan Hom eer te betoon, en vir Hom te wys hoeveel respek ons vir Hom het nie? Sê vir Hom dat jy Sy almag en grootheid eer, en dat Sy wonderlike Naam vir jou heilig is en hoe kosbaar Sy liefde vir jou is!

Om terug te kom by die Koning: Wanneer sy aankoms op ‘n groot onthaal aangekondig word, sal al die gaste uit respek opstaan slegs by die aanhoor van: “His Majesty, King Charles.” Hoeveel te meer moet die blote aanhoor van die heilige Naam van God Almagtig nie ontsag en eer afdwing by my as nietige mensie nie. Natúúrlik gaan ek Sy Naam eer. Natúúrlik gaan ek by die blote aanhoor of aanroep van Sy Naam aan Hom al die respek en aanbidding gee wat Hom toekom, en ek gaan vir Hom vertel hoeveel Sy Naam vir my beteken.

Maar more gaan ons DV voort met hierdie gesprek.

Gebed:

Ons Vader wat in die hemel is, U heilige Naam is vir my so groot dat ek dit met siddering op my lippe neem. Ek loof U, Here van die leërskare!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vir Oulaas, Timoteus
27 July, 2026
Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026