Slegte Nuus!

22 March, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Slegte Nuus!

Nehemia 1

VIDEO | OUDIO

“Jerusalem se mure lê aan skerwe! En die pragtige ou stadspoorte – alles tot as verbrand!”

Hoe sou jy voel as iemand uitasem aangehardloop kom en vir jou vertel dat daar ‘n gewelddadige betoging was en julle pragtige ou kerkgebou is totaal verwoes? Die gebou is natúúrlik nie heilig nie, maar daar is soveel geskiedenis aan gekoppel. Dis boonop die sentrum waar ‘n duisend aktiwiteite plaasvind. Buiten die eredienste Sondae, is dit ‘n plek waar mense bymekaarkom om ‘n voedingskema te bedryf vir armes. Daar word gewerk in die Koninkryk, Bybelstudie gehou en nog baie ander dinge. Dis ‘n ramp! Almal staan verslae!

Dan staan Andries op en hy maak almal stil: “Vriende, ‘n groot ramp het ons getref! Maar dis beslis nie die einde nie. As ons almal saamwerk, gaan ons dit herbou. Ek vra dat ‘n ieder en ‘n elk sal deelneem om ‘n sukses van ons projek te maak!”

Vandag kan ons verseker wees dat die Here keer-op-keer die regte mense op die regte tyd gee om ‘n hopelose situasie te beredder. Só was dit ook in die tyd toe die ballinge begin terugkeer het na Jerusalem.

Nehemia, ‘n Judeër wat in Persië gebore is, het daar in die vreemde groot opgang gemaak, en hy was een van Koning Artasasta (ook bekend as Artaxerxes) se hooggeplaasde amptenare. ‘n Paar van sy mede-amptenare het vrylating uit ballingskap gekry, en dit was beslis ‘n heuglike dag toe hulle kon terugkeer na hulle geliefde Jerusalem. Esra het 13 jaar voor Nehemia teruggekeer, en daar was toe al genoeg mense wat teruggekeer het, sodat hulle toe reeds die tempel herbou het. Hulle vreugde was egter van korte duur, want wat hulle daar aangetref het, het hulle met afgryse vervul. Die eens trotse stad was in totale verval. Die ondeurdringbare mure het omgeval, eintlik afgetakel deur die vyand om die stad en mense kwesbaar te maak. En waar die stadspoort eens majestueus gepryk het, was daar nou slegs swartgebrande gate wat géén vyand kon uithou nie. Een van die manne, Ganani is inderhaas terug na Susan om die verskriklike nuus oor te vertel. Terloops, Persië het vier belangrike hoofstede gehad, waarvan Susan een was. Babel was nóg so ‘n vestingstad.

Toe hierdie ontstellende nuus Nehemia bereik, was hy hoogs ontsteld. Hy het gaan sit en huil sonder ophou en vir dae lank aanmekaar getreur oor die verskriklike situasie. Soos iemand wat in rou was, het hy getreur en gevas. In sy verbeelding het hy nog die prentjie gehad van die wondermooie stad soos wat Pa hom vertel het. Nou is daar net meer niks van al die skoonheid oor nie, en al die sekuriteit is daarmee heen. Dis oop vir enige vyand om te kom en gaan soos hy wil!

Het Nehemia homself maar net aan sy lot oorgegee? Nee! Nadat die skok effens bedaar het, het hy die bul by die horings gepak en ..... GEBID!

Nehemia se gebed gryp jou aan die hart: “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God, wat die verbond en trou handhaaf vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom, laat u oor asseblief aandagtig wees, en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u dienskneg wat ek vandag, wat ek dag en nag voor U bid oor die Israeliete, u diensknegte, die gebed waarmee ek die sondes van die Israeliete bely wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig.

Ons sien duidelik dat hier ‘n verhouding is tussen Nehemia en die Here. God is getrou – Hy het immers ‘n verbond met Sy volk gesluit, en Hy bring Sy kant van die verbond! Ons sien in sy gebed sy liefde vir die Here, asook sy volle afhanklikheid. Nehemia is verder vas oortuig dat die Here gebede verhoor.

Lees gerus ook Daniël 9:4 en 7, waar Daniël se aangrypende gebed feitlik woord-vir-woord dieselfde is as dié van Nehemia. Albei is manne wat die Here innig liefgehad het en voluit gedien het!

Nehemia besef maar ál te goed waarom sy volk in ballingskap weggevoer is – hulle het gesondig! In sy gebed doen hy nou belydenis van die sondes namens sy volk. Maar hy beskou homself óók as deel van hulle, dus sluit hy homself en sy familie in wanneer hy om vergifnis vra. Hulle het almal God se wet en Sy voorskrifte oortree!

Iemand wat só bid staan nakend voor God, gestroop van ál jou valsheid en opgesmuktheid. Jy staan magteloos, totaal ontbloot voor die groot, alwetende en almagtige God wat dwarsdeur jou sien!

Nehemia het baie goed besef dat die Here die volk sou verstrooi as hulle ontrou is aan Hom. Maar Hy is ‘n genadige en liefdevolle God, en wanneer hulle hulle sou bekeer en terugdraai na Hom, sou Hy hulle weer bymekaarmaak en terugbring na Hom. Hulle is immers Sy eiendom!

Aan die einde van sy gebed vra Nehemia die Here dat Hy hom asseblieftog sal laat slaag in dít wat hy moet doen. Hy vra dus nie net dat die Here iets moet doen oor die situasie nie, maar hy verklaar homself bereid om die Here se hande en mond te wees. Hy is bereid om sélf in te spring en te werk!

Gebed:

Here, ek leer só baie uit Nehemia se gebed. Maak my asseblief bereid om op te staan en te doen wat nodig is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026