Slegs Jesus......

29 May, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Slegs Jesus......

Galasiërs 1:11-2:16

VIDEO | SPOTIFY

Paulus dikteer voort en die arme sekretaris moet net skrýf om by te bly, want nou tel Paulus stoom op: “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie 'n menslike saak is nie; want ek het dit nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar wel deur 'n openbaring van Jesus Christus.”

Nou flits Paulus se gedagtes weer terug na daardie dag naby Damaskus. Helder sien hy weer elke klein detail, hoor hy weer elke woord wat Jesus vir hom gesê het, voel hy weer die onmenslike pyn in sy oë. Instinktief begin sy oë sommer traan.

Paulus voel dat dit noodsaaklik is dat die lesers sal weet waar hy vandaan kom. Dis nou nie sommer net om hom 'n bietjie beter te leer ken nie, maar om te verduidelik waarom die Evangelie wat hy verkondig waar en reg is. Die mense wat dinge in die gemeentes in Galasië kom omkrap het, is manne uit Jerusalem, die hoofsetel van die Christelike kerk, wat wou kom vertel dat Paulus nie 'n apostel is nie, en dat hy nonsens praat. Volgens hulle het hy nie werklik gesag om die evangelie te verkondig nie en hy staan eintlik onder die gesag van die apostels. Die mense van Galasië moet teruggaan na die wet en tradisies van Moses, soos wat ál die Jode dit ál die jare onderhou het.

Skryf: “Julle het immers gehoor hoe ek vroeër volgens die Joodse godsdiens geleef het, dat ek die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer vernietig het, en dat ek in die uitlewing van die Joodse godsdiens baie van my tydgenote in my volk oortref het, deurdat ek my soveel meer beywer het vir die tradisies van my voorvaders.

Maar dan kry Paulus 'n glimlag terwyl die sekretaris moet skryf dat die biesies bewe. Hy dink aan God se groot genade oor hom, en dat die Here hom al vóór sy geboorte vir Hom uitgekies het om Sy kind te wees en die Evangelie aan heidennasies te gaan verkondig. Trane van dankbaarheid stroom oor Paulus se wange as hy terugdink aan hoe wreed hy die gelowiges vervolg het, maar dat die Here ten spyte daarvan hom steeds wou gebruik in Sy diens.

“Dalk moet ek vir hulle sê dat ek oorspronklik nooit eers die ander apostels ontmoet het nie, buiten vir Petrus en Jesus se broer Jakobus,” dink Paulus. Hy het vir twee weke by Petrus gebly, en dit was vir hom 'n wonderlike leerskool, want hierdie fenominale man het in daardie tyd só baie kennis met hom gedeel! Nie teologiese kennis nie, maar sy ondervindinge saam met Jesus!

Dit was eers veertien jaar later wat hy die geleentheid gehad het om die res van die manne te ontmoet, toe hy en Barnabas na Jerusalem toe moes gaan vir daardie groot kerkvergadering. O ja, hulle het mos vir Titus ook saamgeneem.

Paulus raak sommer opnuut weer vererg oor die dinge wat daar op die vergadering gesê is. Van daardie stoere ou Jode wou van voor af weer van hulle slawe van die wet maak. Dankie tóg, dat die waarheid van die Evangelie geseëvier het! Hoe heerlik was dit nie toe Petrus hom die hand gegee het as teken dat hulle medewerkers is vir die Evangelie! Paulus en Barnabas sou in die vervolg op die heidene konsentreer, terwyl Petrus-hulle die Jode sou bearbei.

Maar toe kom versuur hierdie samewerkingsooreenkoms 'n ruk later, toe Petrus 'n slag in Antiogië by hulle kom kuier het. Aanvanklik het dit baie goed gegaan, en Petrus het heerlik met die heidene gemeng en alles saam gedoen, selfs saam geëet. Maar toe daar weer 'n paar van Jakobus se mense uit Jerusalem aankom, draai Petrus nét daar om en hy word weer 'n rasegte Jood. Neus-in-die-lug wou hy nie eers meng met die ander nie, en hy onttrek hom totaal. Hy was vrek bang dat die manne uit Jerusalem hom dalk sou verwerp. En daar beïnvloed hy toe selfs vir ou Barnabas!

Paulus was tot in sy siel geskok oor Petrus se huigelary. Hy móés hom net eenvoudig daaroor voor stok kry, voordat hy te veel skade aanrig in die gemeente! Daardie dag het hy baie hard met Petrus gepraat oor hierdie netelige saak. Dankie tóg dat Petrus tot besinning gekom het!

“Miskien moet ek tóg vir die gemeentes skryf van hierdie insident,” dink Paulus, “want dit bevestig dat hierdie dwaalleraars hulle verkeerde dinge probeer wysmaak.”

Paulus dink 'n bietjie ná: Hy moet dit ook vir die Galasiërs onomwonde stel, dat hy wél 'n Jood is van geboorte, en dus deel van God se volk, maar dat dit hom steeds niks gehelp het nie. Jy kan tog nie die vryspraak kry deur die wet van Moses te onderhou nie! Daar is slegs één manier om vryspraak te kry, en dit is om in Jesus Christus te glo. Die wet kan vir niemand vryspraak gee nie! Dit moet die mense baie duidelik verstaan.

Ons wil amper vandag vra of hierdie dinge dan nog steeds relevant is? Ons leef nie meer in 'n Joodse agtergrond nie? Inderdaad! Daar is steeds vandag baie “kerkmense” wat dink dat hulle die vryspraak kan verwerf deur die regte dinge te doen, soos Bybel lees, bid, kerk toe gaan ens. Al is hierdie baie edel dinge, en noodsaaklik vir die gelowige se lewe, kan dit jou nie in die hemel bring nie. Slegs geloof in Jesus kan! Glo jy? Het jy 'n verhouding met Jesus?

Gebed:

Here, dankie vir U groot genade, dat U my ook gered het deur U Seun, Jesus Christus!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026