Slawekettings van die Wet

30 July, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Slawekettings van die Wet

Romeine 7:1-25

VIDEO | OUDIO

Die wet is ‘n vreesaanjaende, harde meester! Is dit nie ‘n verskriklike ding om te sê nie?! Iemand skryf eendag vir my dat sy volgens die tien gebooie leef, maar steeds onseker is oor haar saligheid. Hoe kan enigeen volledig volgens die tien gebooie leef? Die Fariseërs van ouds het 600 gebooie rondom die tien gebooie geweef, sodat jy nie dalk per ongeluk ‘n gebod oortree nie!

Ons moet nou net eers ’n sakie opklaar: die Fariseërs was nie inherent slegte mense nie! Hulle het baie hard gewerk om volgens God se wet te leef en ’n deeglike studie van die Skrif gemaak. Maar daar was ander faktore wat hulle laat sneuwel het. Die feit is dat die tien gebooie maar net ‘n baie breë raamwerk of dalk eerder riglyn is van wat daar éintlik van jou as mens verwag word. As jy mooi gaan kyk na die diepere betekenis van hierdie wet, ontdek jy dat dit ‘n reuse berg word waaroor jy nie kan kom nie, al wil jy ook.

Paulus beskryf die wet aan die hand van ‘n huwelik, waar die man ‘n diktator is en die arme vrou vasgevang is in hierdie hopelose situasie waaruit sy net eenvoudig nie kan ontsnap nie. Sy word totaal gedomineer en die man reël haar lewe. Skei sy en trou met ‘n ander man, dan is dit egbreuk en dan veroordeel die wet haar. Daar is slegs een manier om hieruit te kom en dit is as die man sou sterf, want eers dán is die vrou vry om ware liefde te vind.

Die wet is in ‘n sekere sin dieselfde: dit domineer totaal jou lewe totdat dit naderhand voel asof jy vasgevang is in ‘n wrede stel reëls van “jy mag nie dít nie en jy mag nie dát nie!” Die dood is die enigste ding wat jou uit hierdie verskriklike tronk kan red. Inderdaad het Christus namens jou gesterf en daarom is jy nou ‘n vry mens. Bevry van hierdie monster van die wet. In hierdie lewenshuwelik van jou is daar dan nou ook ‘n nuwe Bruidegom, Jesus Christus, Hy wat jou ‘n volmaakte huwelik bied, vol goeie vrugte en liefde. In hierdie huwelik word jy nie deur wette en reëls gedomineer nie en soos ‘n mishandelde vrou wat oplaas ware liefde gevind het, kan jy nou vrede kry by God.

Nou ontstaan die vraag onmiddellik, of die wet dan so vreeslik sleg is. Is die wet sonde? Inderdaad nee! Daar is niks met die wet verkeerd nie. Paulus stel dit baie pertinent dat die wet ‘n onmisbare riglyn van ‘n gelowige se lewe moet wees. As die wet nie daar was nie sou jy nie geweet het wat reg en verkeerd is nie!

In hierdie deel van Paulus se brief gee hy ons nou so ‘n kykie in sy persoonlike lewe en die dinge waarmee hy geworstel het. Ons kom gou agter dat Paulus nie ‘n supermens was nie maar ‘n doodgewone sterfling nes ek en jy. Hy het ook maar met sonde geworstel! Voor sy bekering was hy ‘n Fariseër wat die wet tot in sy fynste besonderhede probeer nakom het as reddingsmiddel. Só gehoorsaam was hy, dat hy selfs daardie Christen-sekte wat die wet bedreig het met wortel en tak wou uitroei. Dit was vir hom die regte en edele ding om te doen!

Paulus redeneer dat dit nie die wet is wat die éintlike probleem is nie. Die wet is nie sonde nie. Die taak van die wet is egter om die sonde te ontbloot en wanneer dit gebeur, kom jy eers agter watter houvas die sonde werklik op jou lewe het. Sonde is skrikwekkend: dit misbruik die wet, wat inherent goed is en verslaaf jou deur aanhoudende oortreding van die dinge wat die wet voorskryf. Dit bereik met ander woorde die slegte met behulp van die goeie.

Die tragiese is dat hierdie dinge ook in Paulus se lewe afspeel. Ons sien sy diepe hartseer as hy dit uitsnik: “Ek, ellendige mens! Hoe kan dit dan wees dat ek elke keer by die slegte uitkom as ek die goeie wil bereik?" Paulus se verskriklike frustrasie en hartseer oor die sonde in sy lewe is ook die lot van so baie gelowiges wat erns daarmee maak om voluit vir God te lewe. Ek lees eenmaal van iemand by wie die beroemde Godsman, Andrew Murray, oornag het. Die aand is huisgodsdiens gehou en toe dit die vrome Ds. Andrew se beurt is om te bid, borrel daar ‘n stortvloed van boetedoening oor al die sonde in sy lewe!

So, jy het gedink dat dit net jy is wat so met die sonde worstel? Nou kan jy sien dat selfs veteraan-gelowiges soos Andrew Murray en Paulus hierdie worsteling beleef het. Maar wanneer Paulus dit uitsnik: “Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” dan verskaf hy sélf die antwoord: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”

Ons durf die wet nooit weggooi of ignoreer nie, want dit is vir ons die riglyn oor hoe God wil hê dat ons moet leef. Maar ons moet baie deeglik besef dat die wet ons nooit kan red nie en dat dit slegs God se oorbluffende, allesomvattende, liefdevolle genade is wat ons van die verderf kan red. Nou word die wet nie meer slawekettings nie, maar riglyne vir ‘n lewe van liefde en dankbaarheid!

Gebed:

Dankie dat U my ook bevry het Here. Leer my om U wonderbare liefde dag-vir-dag ten volle uit te leef uit dankbaarheid vir wat U vir my gedoen het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026