Slaaf vir Jesus

14 January, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Slaaf vir Jesus

Filippense 1:1-2

VIDEO | OUDIO

Op die oog af is daar niks snaaks aan die aanhef van Paulus se brief aan die gemeente in Filippi nie. As jy egter eers ‘n bietjie dieper begin delf, dan is daar baie interessante nuanses wat jou baie diep laat dink.......

In Meeste van Paulus se briewe stel hy homself voor as “Apostel van Christus Jesus.” Hy het egter ’n baie goeie verhouding met hierdie gemeente en hulle het sekerlik al lankal volle erkenning gegee aan sy “apostelskap”, dus is dit nie nodig dat hy homself weer so moet noem nie. In die Filippense-brief sê hy egter dat die brief van “Paulus en Timoteus” kom en dat hulle “dienaars van Christus Jesus” is. In die oorspronklike Grieks staan daar letterlik dat hulle slawe van Jesus is.

Waarom sou hulle dan hulleself as slawe sien? Vandag heg ons ‘n baie sterk negatiewe betekenis aan slawerny, veral as ons dink aan die wrede manier waarop slawe gevang en behandel is in die koloniale tye en moontlik nog erger in die tyd waarin Paulus geleef het. Selfs vandag in ons moderne tye is slawehandel ‘n nare werklikheid en dikwels word dwelms gebruik om ‘n slaaf te beheer. Seker daarom dat ons eerder die woord hier met “dienaar” vertaal het, om dit ‘n sagter betekenis te gee. Maar die volle betekenis van wat Paulus probeer sê, gaan eintlik verlore met hierdie vertaling.

Wat het dit werklik beteken om ‘n slaaf te wees? In die eerste plek het dit daaroor gegaan dat jy gekoop is en dus jou koper se eiendom geword het, waarmee hy basies kon doen net wat hy wou. In ‘n sekere sin was dit wél negatief want ‘n slegte eienaar kon die lewe vir sy slaaf totaal ondraaglik gemaak het. Maar dit het ook ‘n baie positiewe betekenis want ‘n eienaar wat omgegee het, het sy slaaf goed behandel. Dan was hy dikwels baie beter af as wat hy was voordat hy ‘n slaaf geword het!

In Paulus se tyd was slawe ’n baie algemene ding en feitlik elke huishouding het ’n slaaf of twee besit. Vir ’n goeie slaaf is groot geld betaal en die eienaar het gesorg dat hy in top kondisie bly sodat hy vir hom baie nuttig kon wees. Daar was natuurlik van slawe verwag om sekere take te verrig sonder dat hulle daarvoor betaal of andersins vergoed was. Al “vergoeding” waarop ‘n slaaf kon hoop, was die beskerming en versorging van sy eienaar.

Daar was natuurlik van ‘n slaaf verwag dat hy sy beste sou lewer te alle tye. Sommige slawe het só goed presteer in hulle diens dat hulle baie hoë posisies beklee het in die huishouding. Dit was veral in die ryk mense, wat goeie slawe kon bekostig se huise waar slawe groot aansien kon verdien. ‘n Voorbeeld hiervan is die verhaal van Josef wat as slaaf so geweldig gepresteer het dat hy uiteindelik die pos as eerste minister van die magtige Egipte beklee het, ‘n posisie wat slegs deur die Farao sélf oortref was.

In hierdie lig gesien, is die posisie as “slaaf van Jesus” dus gladnie so ‘n slegte opsie nie. Wat beteken dit vir my? In die eerste plek is my “Eienaar” die hoogste gesag moontlik, die héél beste “Eienaar” waarop énige slaaf kan hoop. Ek is beslis baie beter af as slaaf van Jesus as wat ek voorheen was. Tóé moes ek vir myself probeer sorg en my eie paadjie hemel toe probeer opwerk. Dit was in elk geval hopeloos want ek kon nie eers naastenby by al die voorwaardes kom nie. As Jesus se eiendom is daar soveel byvoordele dat ek hulle nie eers almal kan tel nie! Ja, ek kry nou wel nie ‘n “salaris” nie, maar wie wil nou betaling hê as jy kan deel in al die magdom van skatte in Jesus se “huishouding?” En dan is daar die beskerming wat ek kry omdat ek deel is van Sy huis. Die “sekuriteitstelsel” is fenominaal! Ek meen, daar is groot name soos die engele Gabriël en Michael wat deel is van die “veiligheidsmagte”.

Maar as slaaf word daar mos van jou verwag om te werk ook? Jy moet mos jou kant bring, is dit nie? Die wonderlike van slaaf wees vir Jesus, is dat Hy nie een van Sy slawe dwing om te werk nie en as jy nie jou kant bring nie, word jy ook nie gestraf nie. Maar met soveel byvoordele - watter slaaf sal dan nou nie vrywillig doen wat sy Meester vra nie? Om vir Hom te werk is egter nie altyd maklik nie. Dit kan soms baie harde en moeilike werk wees. Maar omdat dit vrywillig is, doen jy dit omdat jy dit wíl doen, nie uit dwang nie. Boonop is die doel van die werk wat jy vir hierdie Meester doen baie edel. Een van die grootste take is om ander “slawe” vir Hom te werf. Is dit nie wonderlik nie, dat jy vir iemand anders daar buite wat deel is van die “struggle,” wat ook sukkel om sy eie paadjie hemel toe oop te veg, kan sê dat daar ‘n baie makliker manier is om sommer ‘n kits-ewige lewe te kry. Word net deel van die “slawekorps” van Jesus en jy het klaar hier en nou die ewige lewe.

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike voorreg om vir U ‘n slaaf te kan wees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vir Oulaas, Timoteus
27 July, 2026
Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026