Ester 2:11-19
Mordegai se lewe gekenmerk deur verskeie krisisse, party van hulle sommer baie groot. Waarom moet hy, ‘n dood eenvoudige Jood, getrou aan sy Joodse tradisie, deur soveel trauma gaan? Alles het begin toe hy teen sy wil weggevoer is uit sy geliefde vaderland. Sy wortels is wreed en gewelddadig uitgepluk uit die land wat God aan hom en sy voorvaders gegee het. Toe is ‘n naby familielid en sy vrou skielik albei dood toe hulle dogtertjie nog maar klein was. Mordegai kry die taak om klein Ester groot te maak. Hy het baie lief geword vir hierdie kind. En nou word hy alweer in ‘n krisis gedompel, wanneer die koninklike amptenaar haar kom haal vir die skoonheidskompetisie.
Met gemengde gevoelens laat hy haar gaan. Sy hart is stukkend om haar te verloor! Maar sal dit nie wonderlik wees as sy die uitverkorene is nie? Dan neem Mordegai die besluit: hy gaan agterna. Hy wil gaan kyk wat hulle met sy geliefde dogtertjie aanvang!
Wanneer die taakspan van sewe diensmeisies vir Ester onder hande neem vir haar skoonheidsbehandeling, stap Mordegai op en af voor die paleisdeure, in die hoop om tog net iets van sy kind te hoor.
Wat Mordegai egter nie besef nie, is dat sy meisiekind met ‘n doel van hom weggeskeur is. God het ‘n reuse taak wat vir haar wag. Maar die Here het óók ‘n taak vir Mordegai. Ok hý is met ‘n doel agter haar aangestuur na die paleis, al het hy dit dalk nie so ervaar nie. Hy moes gesprekke hoor, en hy moes sy lojaliteit aan die heidense koning uitleef, want alleen só kon sy volk gered word.
Inderdaad gebruik die Here doodgewone mense om Sy heilige raadsplan uit te voer. Nie konings en moderatore en professore en staatshoofde nie, maar doodgewone mense soos ek en jy. Ester was nie alleen ‘n veragte Isrealiet nie, maar boonop ‘n weeskind, en Mordegai ‘n krygsgevangene in ‘n vreemde land. Wat van jou en my?
In die luukse vrouekwartiere in die paleis is die taakspan hard aan die werk om Ester voor te berei vir die groot dag. Dit sou ‘n volle jaar duur om die meisies gereed te kry, want vir Koning Ahasveros is niks goed genoeg as net die héél beste nie. Sy amptenare het dit sélf vir hom gesê!
Vir die eerste ses maande word Ester behandel met die wonderlike mirre olie met sy vele medisinale gebruike vir ‘n magdom kwale. Dit doen boonop wondere vir ‘n vrou se vel en kan selfs van rekmerke ontslae raak. G’n wonder dat Ester vir ses volle maande daarmee behandel is nie!
Daarna volg ‘n verdere ses maande se behandeling met allerhande skoonheidsmiddels en reukolies. Boonop is al die meisies op ’n streng diëet om hulle soepel te maak en die vel ’n glans te gee. En deurentyd was ou Mordegai pligsgetrou op sy pos by die poort van die koning se paleis.
Dan breek die groot dag uiteindelik aan. Al die mooistes van die mooies is hoopvol dat die eer hulle te beurt sal val, dat Koning Ahasveros van Susan haar as die volgende koningin sou kies. Die meisies kon kies en keur waarmee hulle die koning wou beïndruk. Hulle kon gebruik maak net waarvan hulle wou.
Wanneer Ester egter die raad vra van die harem opsigter, sê Saäsgas vir haar: “Ester, vergeet al die tierlantyntjies, wees net jouself. Jy is mooi genoeg! Laat net jou innerlike skoonheid uitstraal.”
Uiteindelik kom Ester se beurt kom, en sy volg Saäsgas se raad. Die skoenlappers baklei wild in haar maag, maar sy hou haar kop hoog en doen alles wat sy geleer is. Soos ‘n ligte briesie sweef sy die troonsaal binne. Die belangrike beamptes snak na hulle asems as hulle die beeldskone meisie so vol selfvertroue en grasie sien binnekom. Die héél belangrikste gebeur egter: sy slaan Koning Ahasveros se voete skoon onder hom uit! Dit is liefde met eerste oogopslag!
Die huwelik word voltrek en Ester word gekroon as Koningin oor die magtige Persiese Ryk. Dan volg die moeder van alle partytjies, want nou het Ahasveros mos weer rede om ‘n wilde partytjie te gooi, hierdie slag ter ere van Ester. Só in sy skik is Ahasveros met sy nuwe bruid, dat hy vir almal belastingtoegewings maak en talle geskenke uitdeel.
En deur dit alles, sit ou Mordegai steeds op sy pos in die poort van die koning se paleis. Maar dit sou alles verander wanneer ’n gesprek in daardie selfde poort Mordegai se ore bereik, en hy die koning se lewe kon red. God plaas mense waar hulle nodig is. Hy het vir Ester en Mordegai op presies die regte plek geplaas. Hy plaas ook vir jou en my op presies die regte plek. Wees bedag daarop, en wees gereed vir die dag wanneer die Here jou vir ‘n spesiale taak wil gebruik. En wanneer die dag aanbreek, pak jou taak aan met grasie en selfvertroue soos Ester.
Gebed:
Here, dankie dat U ook vir my ‘n taak het. Gee my asseblief die ywer om dit met grasie uit te voer.