Ons is soos kleipotte, sê Paulus, baie broos en breekbare kleipotte. Maar binne-in hierdie verganklike kleipotte van ons, is ‘n wonderlike skat versteek. Wat presies bedoel hy hiermee? Gelowiges is nie super-mense nie, ons is maar doodgewone mense wat ook uitgelewer is aan die verganklikheid van die lewe. Selfs die vroomste gelowige kan nie ‘n enkele dag leef sonder om te sondig of te struikel nie. Baie van ons se liggame is ook stukkend as gevolg van siekte en ander lyding, en baie gelowiges word wreed vervolg.
Maar dit is wat ons binne-in ons dra wat belangrik is. Die Heilige Gees is in ons, en Hy is die grootste Skat waaroor ons ooit kan droom.
Paulus het ‘n gediggie geskryf om dit te illustreer. Ek het probeer om die gedig in my eie woorde weer te gee.
Verdruk is ek gedurigdeur,
verskriklik swaar verdruk
Maar Jesus hou my hand styf vas,
ek’s nooit teneergedruk!
My raad is op; ek kan nie dink,
my denke slaan skoon toe
Maar radeloos? Met God by my?
Nog nooit gesien, my broer!
Vervolg is ek, en afgeknou,
die mense bly my slaan
Maar God is altyd hier by my,
Sy hulp raak nooit gedaan!
Vertrap is ek, en neergevel,
my liggaam voel skoon voos.
Maar staande bly ek steeds gewis;
die Here is my Troos!
Jesus is my Redder en
ek dra Sy beeld in my
Deur hóé ek leef en wát ek doen,
sien almal Hom in my!
Dit jubel in my binneste
om hierdie kruis te dra
En liefde sal ek steeds bly lééf,
net soos wat Jesus vra!
My Mosbolletjie het ‘n ding oor kleipotte. Wanneer ons by ‘n padstalletjie verbyry, is die eerste ding wat haar oë soek, ‘n mooi kleipot. Die probleem is egter dat die kleipotte wat jy daar in die afgeleë platteland koop, gewoonlik nie gebak is in ‘n oond om hulle sterk te maak nie, gevolglik breek hulle maar maklik. Die lot van menige kleipot in ons huis is dan ook dat iemand hulle net per ongeluk omstamp, en dan is hulle gekraak of stukkend gebreek. Maar dan red die uwe gewoonlik die pot van die asblik, want so ‘n gekraakte pot gee karakter aan jou tuin. En dan kry die stukkende pot ‘n ereplekkie waar hy die tuin pragtig versier, en sodoende baie nuttig is.
Inderdaad gaan dit dikwels ook so met die kleipotte van ons eie lewe. Gelowiges is ook maar nie juis hardgebak nie, en jy raak maklik gekraak deur die lewe. Ons wil dit dan gewoonlik as ‘n slegte ding sien wat met ons gebeur het. Wanneer ons geestelik, liggaamlik of finansiëel in duie stort, voel dit soms asof jy op pad is asblik toe.
Toe ons 'n paar jaar gelede bankrot gaan en alles verloor, het dit ook vir my gevoel asof dit asblik toe is met my! Maar die Here het ‘n doel gehad daarmee, en ek sien vandag steeds elke dag Sy wonderlike hand in elke ding wat met my gebeur. Een ding wat ek byvoorbeeld geleer het, is om alleen op Hom te vertrou. Ek kan talle voorbeelde noem van hoe Hy op presies die regte tyd voorsien het toe ek iets bitter nodig gehad het. Die Here voorsien vandag steeds in al ons behoeftes. Boonop kry ons tonne liefde en omgee van mense, sommige van wie ons dit nooit eers sou verwag nie.
Op my stoep het daar eenmaal ‘n palmboom in ‘n swaar kleipot gestaan. Eendag het die boom se wortels te groot geword vir die pot, en dit aan skerwe laat spat, stukkend, onherstelbaar. Ek wou dit eers weggooi, maar ek het besig geraak, gevolglik het ek daarvan vergeet en dit net so gelos, met die potskerwe wat rondom dit lê. En toe gebeur die interessante: vir die eerste keer sien almal wat verbyloop die pot en die boom raak, en almal praat oor hierdie besonderse wortelstelsel van die boom wat nou so blootgestel is en hoe interessant die potskerwe die boom versier.
Wanneer die lewe jou kleipot kraak, of dalk selfs stukkend breek, moenie daaroor huil nie. Ja, dit is soms bitter seer, maar wéét dan dat daar ‘n wonderlike doel is daarmee. Jou stukkende pot is dikwels baie meer werd as toe dit pragtig mooi en heel was.
Die belangrikste van alles, is egter nie die pot nie, maar die inhoud van die pot. Dikwels moet ‘n pot juis breek om die inhoud daarvan te openbaar, soos my pamboom in die gebreekte pot. Die Inhoud van ‘n gelowige se kleipot, is die Here. Hoe openbaar en vertoon ons Hom aan die wêreld?
Gebed:
Here, ek besef vanoggend dat ek net ‘n breekbare kleipot is. Help my om my Inhoud waardig aan die wêreld te vertoon.