Lukas 2:8-20
Die Messias, die Een waaroor Jesaja en Daniël geprofeteer het, die Een waarvan God almagtig vir Adam beloof het se langverwagte geboorte het aangebreek. Hierdie gebeurtenis moes net eenvoudig uitgebasuin word, en ál die Skrifgeleerdes en priesters en kerkleiers moes hiervan in kennis gestel word. Die koning en die keiser moes hiervan weet, en ál die belangrike mense moes uitgenooi word om hierdie heugelike gebeurtenis te kom vier.
Maar God werk anders as wat mense dink. Die toneel is die veld naby Betlehem. ‘n Klompie eenvoudige skaapwagters sit rustig om hulle vuurtjie en gesels oor die gebeure van die dag, ‘n roofdier wat naby een se troppie skape gewaar is en ‘n skaap wat afgedwaal het. Die volgende oomblik staan daar ‘n vreemde man by hulle. ‘n Vreemde glans omwelf die groepie manne en hulle skrik hulle byna dood. Grootoog van skrik staar hulle hierdie wese aan. Dan praat hy: “Moenie bang wees nie!” Die manne bewe van skok en vrees terwyl hulle luister as hy vir hulle vertel van die Verlosser wat gebore is, Christus die Here. Hulle sal Hom in Betlehem kry waar Hy in doeke toegedraai lê in ‘n krip.
Die arme skaapwagters se monde hang oop! Hulle kan nie glo wat hulle sien en hoor nie. Maar dit was nog maar net die begin, die grootste lê nog voor! Skielik is dit asof die ganse hemel oopskeur reg rondom hulle, en ‘n reuse skare van engele om hulle staan. Hemelse musiek vul die valleie en heuwels en die magtige engelekoor sing die mooiste lied wat nog ooit in menseheugenis gehoor is: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”
Verstom staan die skaapwagters en luister na die grootste en aangrypendste kooruitvoering van alle tye. Dit vul hulle ore en liggaam en hele wese terwyl ‘n Goddelike glans om hulle skyn. Dit is die eerste, laaste en enigste keer wat die wêreld 'n kooruitvoering van hierdie omvang en hemelse skoonheid beleef het. En die enigste mense in die gehoor is 'n klompie eenvoudige skaapwagters!
En dan, skielik is alles verby, en die verdwaasde skaapwagters word alleen agtergelaat met hulle gedagtes. ‘n Dringendheid om hierdie Verlosser waarvan die engel gepraat het te gaan sien, brand in hulle, en sonder versuim hardloop hulle so vinnig hulle kan na die slapende Betlehem.
By die stal kry hulle vir Josef en Maria en die Kindjie in doeke toegedraai in die krip, presies nét soos die engel dit beskryf het. Vol verwondering is hulle later terug na hulle skape toe, al singende. Dít wat hulle daardie nag beleef het, vertel hulle opgewonde wyd en syd aan almal wat hulle teëkom, en die mense kon hulle ore nie glo nie. Almal was vol verwondering oor die asemrowende gebeure.
Maria, die gelowige vrou wat haarself tot beskikking van die Here gestel het, ten spyte van die gevaar dat haar reputasie kan skade ly, het hierdie dinge alles in haar hart bewaar. Drie en dertig jaar later moes sy aanskou hoe haar Baba, wat tóé ‘n jong Man in die fleur van Sy lewe was, gemartel word, gespot word, op gespuug word en aan ‘n kruishout vasgespyker word om onskuldig ‘n grusame, vernederende en pynlike dood te sterf.
Hierdie verhaal laat jou baie diep dink: Waarom skaapwagters? Dit is die eerste vraag wat jou gemoed binneskiet. Waarom nou juis eenvoudige, ongeletterde skaapwagters, en nie eerder ‘n uitgelese groep Skrifgeleerdes, konings en kerkleiers nie? Daardie magtige koor het hulle héél beste opvoering gegee net vir ‘n klein ou handjievol manne wat na sweet en rook stink, en met vuil veldklere aan! Ek het onlangs 'n klomp voorbereiding gedoen om ‘n boodskap te lewer. En toe daag daar net vyf mense op! Ek het moedeloos gevoel, en ámper gesê dat ons maar liewer huistoe moes gaan.
Ons moet onthou dat God nie na getalle kyk nie, en ook nie hoe geleerd, hooggeplaas jy is of hoe grênd jy aangetrek is nie. Vir Hom is die doodeenvoudige, doodgewone mens nét so belangrik as die hoogsgeleerde teoloog. Die boodskap van die eenvoudige skaapwagters het talle mense in verwondering gehad, en by hulle ‘n afwagting geskep vir wat sou voorlê. As dit ‘n groep Skrifgeleerdes en kerkleiers was, sou hulle eers ‘n kommissie van ondersoek ingestel het en die hele gebeurtenis gedebatteer het tot vervelens toe. Die kanse dat die boodskap by die mense sou uitkom, sou uiteindelik baie skraal wees. Kyk maar net wat het hierdie geleerdes later met Jesus gedoen! Hulle het Hom vervolg, beledig, betwyfel en uiteindelik gekruisig.
Jesus het later Sélf ook doodgewone mense gebruik om die Evangelie te versprei. Sy dissipels was eenvoudige vissermanne. Hy het ‘n Samaritaanse vrou met ‘n baie slegte reputasie gebruik om ‘n hele dorp in beroering te bring, en ‘n malle wat kaal in die begraafplaas rondgeloop het, het ‘n hele landstreek vir die Evangelie voorberei toe Jesus hom gestuur het.
Vandag maak dit nie saak wie of wat jy is nie. Hy wil jóú en my ook gebruik!
Gebed:
Here, gebruik my asseblief nés ek is - ek stel myself tot U beskikking.