Sirkels wat Nouer Trek

5 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sirkels wat Nouer Trek

Amos 1:3-2:16

Video - Oudio

Toe Amos, die prekende plaasboer, die dag vir die volk preek, het almal baie aandagtig geluister. Dit was ‘n baie besonderse preek, wat meer geklink het soos ‘n gedig. Die woorde was soos musiek op die volk se ore, en hulle het saamgestem oor elke woord wat oor Amos se lippe gerol het. Dít wat hy gepreek het, was wat hulle wou hoor, want hulle vyande word mos onder die vergrootglas geplaas en veroordeel.

Amos trek die sirkel eers baie wyd rondom Israel. Hy begin by die Arameërs van Damaskus. Hulle is ‘n heidense volk daar ver, en as hulle totaal uitgeroei word, sal Israel jubel en juig. Ja, Amos is ’n prediker so reg na ‘n man se hart. “Ek sal sy straf nie herroep nie”, preek Amos, en die volk stem saam, want daardie goddelose klomp moet swaar gestraf word vir hulle liederlike dade.

Dan kom die Filistyne aan die beurt, en die Israeliete kreun eintlik van lekkerkry. Hoeveel sonde het hulle nie al deur die eeue gehad van hierdie gebroedsel nie! Die Filistyne van Gasa word veroordeel, en ook dié van Asdod, Askelon en Ekron. Simson het mos al baie jare terug groot moeilikheid gehad van die Filistyne. Later ook Saul en Dawid. Maar nou het die Filistyne se sondes hulle ingehaal, en geregtigheid gaan geskied. Die Here gaan hulle veroordeel. Die volk knik instemmend hulle koppe - Amos mág maar preek!

Die derde volk wat Amos aanspreek is die Fenisiërs van Tirus. Hierdie drie volke in Amos se eerste sirkel, het totaal liefdeloos opgetree teenoor hulle bondgenote. Hulle het mense gemartel en weggevoer as ballinge. Die volk luister baie lekker na Amos se preek.

Maar dan begin Amos ‘n tweede sirkel trek, dié slag ‘n bietjie nader aan die Israeliete. Eerste aan die beurt is die Edomiete. Hierdie mense het dieselfde voorvader as die Israeliete. Hulle is afstammelinge van Esau, die tweelingbroer van hulle aardsvader Jakob. Daar begin so half ‘n ongemaklikheid onder die luisteraars te kriewel, want Amos spreek nou eintlik hulle “halfbroers” aan. Aag, maar dis mos maar niks, want hierdie mense is geskiedenis, en hulle verdien die Here se oordeel! So, Amos kan maar rustig voortgaan en preek!

Volgende kom die Ammoniete aan die beurt. Ook húlle het ‘n verwantskap met Israel, want hulle is die afstammelinge van Lot, Oupa Abraham se broerskind. Die gruwelike dinge wat hierdie mense aangevang het laat jou gril! Die volk snak na hulle asems as hulle moet hoor dat die Ammoniete selfs so ver gegaan het om swanger vrouens oop te slag! Nee wat, al is hulle amper familie, moet hulle swaar gestraf word! Die Moabiete, ook afstammelinge van Lot, is volgende aan die beurt om onder Amos se skerp tong deur te loop. Die liederlike manier waarop hulle die koning van Edom se lyk geskend het, laat ‘n mens ril. Jy doen nie sulke dinge nie! “Gaan voort Amos!”

Amos kyk sy volk in die oë, en skielik besef hulle dat hy nou ‘n bietjie té naby aan hulle eie lyf begin preek vir gemak. “Juda”, sê Amos, en hy laat eers die woord góéd insink. “Juda het die wet van die Here verwerp!” Hierdie derde sirkel is soos ‘n hoepel om ‘n wynvat! Die sirkel trek bitter styf want Juda is hulle eie broers, mede Israeliete. Ja, hulle het nou wel “afgestig,” en hulle het ‘n ander koning, maar steeds bly hulle bloedbroers. Die tempel van die Here staan tog immers in hulle grondgebied, in Jerusalem. Amos se preek raak ongemaklik, want nou word hulle eie mense veroordeel, en hiervan hou hulle nie juis nie. Amos kon mos maar gestop het by die Moabiete! Waarvoor kom karring hy nou so naby aan die huis?

En dan los Amos die bom: “Israel het liederlik gesondig!” Hy kyk hulle stip in die oë. Die vierde sirkel is die kern van die volk, Israel! Gevoelloosheid, liefdeloosheid, onreg, bloedskande, afgodsaanbidding en die skending van God se eer. Hierdie is maar net ‘n paar van die sondes waaraan Israel hulle skuldig gemaak het. Nou is hierdie preek gladnie meer so lekker nie - dit maak baie seer! Hy vertel vir hulle hoedat die Here deur die eeue vir Israel op die hande gedra het en keer-op-keer gered het toe hulle in die nood was. En wat het hulle gedoen? Sonde! En nou kom God se oordeel!

Ons lees vanoggend dalk baie lekker aan hierdie deel, want die sirkel is baie wyd gespan. Wat het Israel se sondes tog met my en jou te doen? Dis goed dat die Here hulle gestraf het! Hulle het dit verdien! Maar die Here trek skielik die sirkeltjie baie nou om my en jou, en dan moet ons besef dat ons in dieselfde bootjie is as Israel. Daar is ons sondes van versuim, van liefdeloosheid en nie genoeg eer gee aan God nie. Vanoggend wil die Here hê dat ek en jy ‘n slaggie moet gaan sit en dink wat Hy vir ons gedoen het, en op watter halfhartige wyse ons ons dankbaarheid teenoor Hom uitleef. Amos se preek is soos ‘n swaard wat sny deur my lewe, en die sonde oopvlek. Wat gaan ek daaromtrent doen?

Gebed:

Here, ek staan vanoggend nes Israel, diep skuldig voor U. Vat asseblief my hand, Here, en lei my op die regte pad.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026