Simon se Skoonma

19 February, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Simon se Skoonma

Lukas 4:38-41

VIDEO | OUDIO

Simon se gemoed is in twee geskeur. Aan die een kant het hy so pas die grootste wonderwerk van sy ganse lewe aanskou. Voor sy oë het die besetene, wat al vir soveel jare Kapernaum se grootste nagmerrie was, in een oomblik totaal genees geraak. Die een oomblik het die skuimbolle nog uit sy mond geborrel terwyl hy waansinnig geskree en gevloek het. Hy het die arme manne wat hom probeer vashou het totaal verrinneweer! En net die volgende oomblik was hy kalm en normaal soos enige man..... Simon se mond het onbeskaamd oopgehang van tegelyk verbasing en verwondering oor wat sy Meester hier gedoen het!

Dan kom iemand haastig na Simon aangeloop en fluister vir hom in die oor dat hy beter huistoe kom want sy skoonma se siekte het nou uiters kritiek geword. Haar koors is hemelhoog en sy vrou het laat weet dat hy dadelik moet kom as hy haar nog lewend wil sien.

Simon gaan pluk sy broer, Andreas aan die mou: “Kom! Daar's groot moeilikheid by die huis!”

Haastig hardloop hulle die nou straatjies af tot by Skoonma se huisie. Hy wéét mens hardloop nie op die Sabbat nie, maar hierdie is 'n noodgeval! Wat Simon daar by die huis aantref, laat sy hart in sy keel klop. “Daar is niks meer wat ons vir haar kan doen nie,” skud 'n vrou meewarig haar kop, “haar koors is te hoog. Jy kan haar maar gaan groet Simon!”

Simon is verdwaas. “As Jesus tog net hier was...... As Hy daardie besetene kon gesond maak - sou Hy nie dalk iets vir my skoonma kon doen nie?" Hy skud gou die gedagte af want dis wensdenkery! "Ek kan in elkgeval nie nou die Meester pla nie, Hy is mos besig in die Sinagoge! Boonop is dit nog die Sabbat......” Simon loop tot langs sy skoonma se bed, waar Vroulief onbedaarlik sit en huil. Hy voel aan haar voorkop – dis vuurwarm. Skoonma mompel iets deurmekaar asof sy in 'n ander wêreld is.

Dan hoor Simon dit: baie stemme wat gelyk praat. Daar is 'n groot optog op pad hierheen. “Dink almal dalk nou dat Skoonma klaar dood is en dat hulle moet kom simpatiseer of kerm?”

Die volgende oomblik stap sy nuwe Leermeester die vertrek binne saam met Johannes en Jakobus. Iemand het vir Hom kom sê van Simon se nood en Jesus het Hom dadelik daarheen gehaas. Simon kan sy oë nie glo nie. Waarom sal 'n groot Leermeester Hom nou kom bemoei met 'n eenvoudige leerling se skoonma?

“Meester, doen asseblief iets,” pleit Simon met 'n stem wat dreig om te breek. Hy kan sy trane nou nie meer inhou nie, hy, die rowwe visserman.

Jesus gaan staan by die koppenent van die bed en kyk vol deernis na die gloeiende gelaat van die siek vrou. Hy maak vir 'n oomblik Sy oë toe, asof Hy saggies bid en dan prewel Hy iets wat klink soos: “Koors, verlaat die vrou!”

Die volgende oomblik vat Hy haar aan die hand en help haar regop in die bed. Simon kan duidelik hoor hoe almal wat in die vertrek saamdrom hulle asems intrek. “Dis tog gans onmoontlik!” fluister iemand ongelowig.

“Sy moes dood gewees het! En nou sit sy regop!” beaam 'n ander verdwaas.

Simon se skoonma kyk verras na al die verbaasde gesigte om haar. Sy glimlag: “Haai, dis 'n verrassing om julle almal hier te sien!”

Simon skud sy kop baie hard – droom hy nie dalk nie? Wat so pas hier voor sy oë plaasgevind het, kan hy gládnie verstaan nie! Nog minder kan hy dit glo! Skoonma spring ligvoets van die bed af, blakend gesond, asof sy nooit óóit iets makeer het nie. “Rabbi, kan ek vir U iets aanbied om te eet? Of dalk 'n heerlike beker koue water?” Sy is al klaar weer die ou regte broeishen wat vir almal wil regstaan en bedien.

Jesus lag en beduie na die skare van mense wat intussen in hulle honderde om die huis saamgedrom het: “Die mense wag......”

Die nuus van Simon se skoonma se wondergenesing versprei soos 'n veldbrand. Wanneer die son sak en die Sabbat verby is, kom mense in hulle honderde met al hulle siekes na Jesus toe in die hoop dat hulle ook genees sal word. Simon en die ander drie manne moet net bontstaan om die skare in bedwang te hou sodat hulle nie vir Jesus totaal verdring en vertrap nie. Dis harde werk wat tot laat in die nag aanhou voordat die laaste mense huistoe verdwyn.

Wanneer alles tot bedaring kom, tref die werklikheid vir die eerste keer vir Simon: “Hierdie Rabbi het vandag éérs die besetene op aanskoulike wyse van sy demone bevry. Toe daardie onverklaarbare, asemrowende genesing van Skoonma. En vanaand is hier letterlik honderde siekes wonderbaarlik genees! Dit voel so totaal onwerklik! Wie is hierdie Jesus dan?”

Kom die vraag ook soms by jou op: “Wie is Jesus werklik?” Nee, dit is nie 'n onnosel vraag nie want daar is baie gelowiges wat hiermee worstel. Dit is ook nie so eenvoudig nie! Jesus is die Almagtige God, die Een wat die hemel en aarde geskep het - so skryf Johannes in Joh. 1:1-3. Ja, so het Simon dit óók eers baie later begryp en bely.

Die vraag is of ons altyd werklik besef dat Hy God is en dat Hy regeer oor die heelal? Kom ons eer Hom daarvoor!

Gebed:

Here Jesus, vanoggend gaan al ons lof en ere aan U, want U is die Koning van alle konings en aan U behoort die almag!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026