Simon se Belydenis

12 March, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Simon se Belydenis

Lukas 9:18-22 & Markus 8:27-33

VIDEO | OUDIO

Simon loop met 'n tergende vraag in sy gemoed: “Wie is Jesus dan nou werklik?” Na die wonder van die brood wat so onverklaarbaar vermeerder het en pas daarna die wandeling op die see, raak die vraag al groter vir hom en ook die ander manne. Dit is amper asof hierdie vraag weergalm oor die berge en heuwels en valleie. Eers was dit Johannes die Doper wat half huiwerig die vraag gevra het voordat hy deur Herodus onthoof is. Toe kom Herodus sélf met hierdie tergende vraag. Dalk het sy gewete hom gepla.

Jesus was, soos hulle Hom al so dikwels gesien het, weer eenkant alleen besig om te bid. Dit is, terloops iets wat net weereens die geweldige belangrikheid van gebed vir ons beklemtoon. As Jesus dit nodig gevind het om in gebed te verkeer - hoeveel keer te meer is dit nie vir jou en my bitter nodig om te bid nie? Dit is ons geestelike asemhaling. Sonder asem kan ons nie leef nie, en sonder gebed gaan ons geestelik dood.

Simon en sy mede-dissipels staan nader wanneer hulle sien dat Jesus klaar is met Sy gesprek met God. Dan vang Jesus hulle totaal onkant met 'n vraag, so asof Hy hulle gedagtes gelees het: “Wie sê die mense is Ek?”

Simon kyk die ander vraend aan. “Party mense dink U is Johannes die Doper. Nadat Herodus hom so wreed om die lewe gebring het, het Herodus al sélf gedink dat U Johannes se gees is!” lag Simon.

“Ja, maar ander sê weer dat U die een of ander profeet is, Elia of iemand,” sug Johannes, “hulle sê dat U iemand uit die ou tyd is wat uit die dood opgestaan het.”

“Ja, Ek het ook al die gerugte gehoor. Maar julle,” vra Hy terwyl Hy stip na Simon kyk, “wie sê julle is Ek?”

Simon besluit om namens almal te antwoord. Die woorde kom nie maklik nie: “U is die Christus, die Gesalfde van God.”

Simon skrik vir sy eie woorde. “Dis mos Godslasterlik!” dink hy, maar alles is so deurmekaar, hy weet nie meer mooi nie. Ja, hy is séker dat Jesus die Christus is!

Dan roep Jesus hulle nader: “Oor ons gesprek vandag moet julle niks vir enigiemand sê nie” vermaan Hy hulle, “want die Seun van die Mens moet nog baie ly.” Hy vertel vir hulle in detail hoedat dit juis die kerkleiers is en die Skrifgeleerdes en Fariseërs wat Hom gaan vervolg. Hulle gaan Hom verwerp en uiteindelik gaan hulle Hom doodmaak.

Simon wil sy ore toedruk. Hoe kan Sy Meester sulke verskriklike dinge sê? Kyk dan net hoeveel mense elke dag agter Hom aan stroom! Hy is só gewild by die volk, hoe is dit dan óóit moontlik dat hulle vir Jesus sal doodmaak?

Asof in 'n dwaal hoor hy vaagweg dat Jesus sê dat Hy op die derde dag uit die dood opgewek sal word. Maar dit is só onwerklik dat dit nie eers tot Simon deurdring nie.

“Nee, nee! Dit mag nie gebeur nie!” skreeu dit deur Simon se verwarde gemoed, “Hulle mag nie my Meester doodmaak nie!” Hy spring vervaard op en gryp Jesus aan die arm en lei Hom weg eenkant toe, buite hoorafstand van die ander: “Meester, nou sê U verkeerde dinge! Hoe kan U nou na alles wil kom vertel dat U doodgemaak gaan word? Ek sal dit nóóit toelaat nie!”

Simon sien hoedat sy Meester bedroef omdraai en in die ander dissipels se rigting kyk: “Moenie in My pad staan nie Satan,” sê Hy. “Jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar jy dink net aan jouself en wat die mense wil hê!”

Simon raak yskoud en spierwit in die gesig. Het Jesus hom werklik aangespreek as “Satan?"

Met trane in sy oë draai hy om en loop die veld in. Hy voel hy kan sy tong afbyt oor die dinge wat hy kwytgeraak het. Wat moet die Meester van hom dink?

‘n Mens wil jouself vandag die vraag afvra: Maar kon die mense na alles wat Jesus gedoen het - al Sy wonderwerke en die dinge wat Hy gesê het - dan nie duidelik sien dat Jesus die Messias is nie? Hoe is dit ooit moontlik dat hulle dit nie kon raaksien nie? Was Simon dan die enigste wat hierdie insig gehad het?

Vandag kan ons met sékerheid sê dat ons wéét dat Jesus waarlik die Messias is - die Verlosser en dat Sy verlossingswerk iets totaal anders is as wat die Jode verwag het dat dit sou wees. Die vraag is egter: Hoe beleef ek en jy vir Jesus? Is dit maar net ‘n wete en geloof dat Hy die Verlosser is, of het ons ‘n lewende verhouding met Hom?

Inderdaad hét Jesus gesterf – vasgespyker aan 'n vloekhout. Maar dankie tóg, daar was ook ‘n ander sy van die saak! Jesus hét op die derde dag opgestaan uit die dood, nét soos wat Hy vir die manne vertel het! En vandag heers Hy as Koning! Kom ons eer en aanbid Hom daarvoor.

Gebed:

Here Jesus, ons bring aan U al die eer en dank vir U verlossingswerk! Ons aanbid U as Koning van alle konings! U is die Christus, die enigste ware God!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026