Sigbare Liefde

23 August, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sigbare Liefde

1 Johannes 4:19-5:5

Jy het seker al agtergekom dat ek baie lief is vir die natuur. Ek skryf baie oor die bekoring van die Laeveld se bosse, maar ek is ook nét so lief vir die see. Ek onthou een geleentheid waar die natuur my asem toet-en-taal weggeslaan het, baie jare gelede. Ek het vroeg die oggend op die rotse gestaan reg voor die ou Beacon Island Hotel in Plettenberg Baai. Skielik kom 'n reuse walvis (hulle is almal reusagtig!) te voorskyn, seker nie meer as twintig of dertig meter voor my nie. Hy lig sy massiewe stert hoog bo die water en dan klap hy die see oppervlak daarmee dat dit weergalm oor die strand. Ek word vervul met verwondering en ontsag!

Maar dit is nie net die Goliat van die see wat my asem laat wegslaan nie - dit is sommer alles! Die diepblou kleur van die see, die seemeeue wat so sorgeloos rondsweef op die oggendluggie, die kleurvolle rotspoeletjies wat blink soos spieëls in die vrolike sonskyn. ‘n Groepie dolfyne wat dartel in die golwe en die sandkorreltjies wat skitter soos duisende diamante. Ek beleef God se teenwoordigheid en Sy wonderbare liefde intens!

In die vorige dagstukkie het ons duidelik gesien dat die inwoning van die Heilige Gees in jou lewe maak dat jy in God bly deurdat jy Sy gebooie gehoorsaam. Die natuurlike uitvloeisel hiervan is natuurlik dat wanneer jy God se volmaakte liefde so beleef, dan is die vrees vir die oordeelsdag en die ewige verdoemenis weg, en jy ervaar God se liefde intens.

Daar is egter meer aan die uitleef van jou liefde. Johannes sê dat dit noodsaaklik is dat jy jou medemens ook liefhet. As jy wil verkondig dat jy God liefhet, en jy haat iemand, dan is daar baie groot fout!Dan is jy niks minder nie as ‘n infame leuenaar! In 1 Johannes 3:15 het ons die skokkende woorde gelees: “Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.” Sjoe! Dis harde woorde! Johannes vat nou hierdie gedagte verder as hy verduidelik dat jou liefde vir God sigbaar word wanneer jy jou medegelowige liefhet. Net soos wat ons weet dat die dag gebreek het, deur die tekens daarvan te sien in die lug, son en plante, so word ons liefde vir God sigbaar in die uiterlike tekens van ons praktiese liefde vir ons medegelowige. Johannes verduidelik dat dit nie maklik is om God waarlik lief te hê nie, want Hy is vir ons onsigbaar en ontasbaar. Ons medemens is egter ‘n konkrete wese wat ons kan sien en ervaar, en dus kan jy jou liefde maklik teenoor hom uitleef. Dit is eers wanneer jy dit waarlik uit jou hart uit doen, wat jou liefde vir God begin sigbaar word. Liefde vir God en liefde vir jou medegelowige is onlosmaaklik van mekaar. Die een kan net eenvoudig nie sonder die ander nie. Dit is juis dáárom dat Jesus vir die Skrifgeleerdes gesê het, dat Liefde vir God die grootste gebod is, toe hulle Hom probeer vastrek het oor die wet. Maar Hy het verder gesé dat die gebod oor liefde vir jou medemens gelykstaande is daaraan.

In 1 Joh. 5:1-5 beklemtoon Johannes weereens die verband tussen geloof en liefde. Geloof sonder opregte liefde is absoluut ondenkbaar. Maar die teenoorgestelde is nét so waar: ware Goddelike liefde sonder geloof is ewe ondenkbaar! Liefde vir jou medemens is met ander woorde die praktiese, sigbare manier om jou geloof te wys. Ons as kinders van God het almal dieselfde Pa, en om daardie rede is ons bloedfamilie van mekaar. Ons is boeties en sussies! ‘n Onlosmaaklike liefdesband tussen ons behoort net ‘n natuurlike uitvloeisel te wees. Die geloofsband is met ander woorde terselfdertyd ook ‘n gesinsband wat die basis vorm vir ‘n liefdesband. En die egtheid daarvan word die toets vir die gelowige se liefde vir God.

Hoe sien jy dat iemand God liefhet? Aan sy leefstyl om God se gebooie te gehoorsaam. Die vraag is egter of God se gebooie nie bitter moeilik is om na te kom nie? Inderdaad is dit nie so moeilik as wat dit lyk nie, want as kind van God deel ons in Christus se oorwinning oor die sondige wêreld. Hierdie oorwinning stel gelowiges in staat om self ook oorwinnaars oor die bose te wees. Met ander woorde, ons moet nie net uit ‘n menslike perspektief daarna kyk nie maar uit ‘n Goddelike perspektief, dat ons kinders van God is wat deur God daartoe in staat gestel word.

Ons moet dit baie duidelik verstaan dat ons as gelowiges nie die wêreld kan oorwin deur die prestasie van ons eie geloof nie. Omdat ons egter ‘n geloofsverbondenheid met Jesus Christus het, deel ons in die oorwinning wat Hy behaal het. Dit is natuurlik wêreldoorwinnend! As gelowiges is ons dus deel van God se oorwinningstog deur hierdie sondige en vyandige wêreld. As jy dus weer ‘n dagbreek bewonder, dink dan daaraan dat jou liefde vir God so sigbaar gemaak moet word soos die kleure van die dagbreek. Maar dink ook daaraan dat God, nes die son die ware lig gee, en dat Hy deur Sy wonderbare lig reeds vir ons die oorwinning behaal het.

Gebed:

Here, help my asseblief vandag om my liefde vir U waarlik sigbaar te maak en uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Stille Nag
21 May, 2024
Die Ware Jesus?
20 May, 2024
‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024