Handelinge 6:1-7
Waar ‘n gemeente groei, sal daar altyd die een of ander probleem of uitdaging opduik wat die organisasie van die gemeente betref. Die Jerusalemgemeente het van ‘n klein handjievol gelowiges op een enkele dag met drieduisend lidmate gegroei. Slegs ‘n klein rukkie later is daar weer duisende siele bygevoeg tot die gemeentegetalle. Hierdie gemeente het letterlik uit sy nate gebars. Aan die “bestuur” van die gemeente was die twaalf Apostels. Dit was ‘n totaal onmoontlike taak vir hierdie paar manne om alles te beheer, 'n gemeente met 5000+ lidmate en om dan boonop nog te preek ook!
Ons het uit ‘n vorige hoofstuk gelees hoedat mense mekaar ondersteun het in die gemeente en hoedat die armes gedra was deur diegene wat meer welaf was. Met die ontploffing in gemeentegetalle was daar egter sekere mense wat afgeskeep was. Om te kan verstaan wat hier gebeur het, moet jy kyk na die agtergrond van die samelewing. Die een probleem was dat die Jode wydverspreid oor die wêreld gebly het en dat die algemene wêreldtaal destyds Grieks was. Sommige Jode het hulle egter verset teen hierdie “volksvreemde" taal en het net geweier om dit te praat, want dit was verbind aan die Griekse filosofie. Die gevolg was dat daar twee stelle sinagoges ontwikkel het, dié vir Griekssprekende Jode, en dié vir Arameessprekende Jode. Dit het ‘n verwydering tussen die twee groepe tot stand gebring. Jode uit beide van hierdie groepe het gelowig geword en by die Jerusalemgemeente aangesluit.
Die ander probleem waarmee hulle te kampe gehad het was dat Joodse vrouens nie toegelaat was om enige werk te doen buite die huis nie. Die man was die broodwinner en sy moes die privaatheid van die huis behartig. As ‘n man gesterf het, het die weduwee met ‘n groot dilemma gesit want sy het absoluut géén werksondervinding gehad nie. Sy was dus totaal afhanklik van aalmoese van haar familie. Dis juis hiér waar veral die Griekssprekende weduwees afgeskeep was, waarskynlik omdat hulle families elders in die wêreld gebly het en daar niemand was om na hulle om te sien nie.
‘n Vergadering word belê om die probleme in die gemeente aan te spreek en sewe manne word aangewys wat sou omsien na die probleemareas. Daar was twee vereistes vir hierdie manne: In die eerste plek moes hulle vol van die Heilige Gees wees. Ander mense moes in hulle optrede kon sien dat die krag van die Here in hulle lewe aanwesig was. Die tweede vereiste was dat hulle oor wysheid moes beskik. Wysheid beteken nie om "slim" te wees nie maar om jou plek voor die Here te ken, Sy voorskrifte uit te voer en in alle situasies reg teenoor ander mense op te tree.
Elke gemeente het maar sy probleme! Dit help nie om jou blind te staar teen sulke struikelblokke nie. Die Jerusalemgemeente het hulle probleme in uitdagings omskep. Hulle het bloot nodige aanpassings gemaak onder leiding van die Heilige Gees en eenvoudig die regte mense aangestel om die probleem op te los. Die gemeente het nie net van die oggend tot die aand gekerm oor die probleem nie maar die bul by die horings gepak en daadwerklik iets daaromtrent gedoen. Die manne wat aangestel was het die verantwoordelikheid aanvaar om die uitdagings die hoof te bied. Hulle was die hande opgelê en op hierdie wyse geseën vir die taak op hulle skouers. Toe spring hulle aan die werk! Alhoewel hulle afgesonder was vir ‘n spesifieke taak, het dit nie net daarby gebly nie. Ons weet byvoorbeeld dat een van hulle met die naam Stefanus kragtig gepreek en wonders gedoen het!
Hierdie aksie het die Apostels groter vryheid gegee om hulle taak uit te leef. Dit het ook beteken dat die Jerusalemgemeente verder met rasse skrede gegroei het en dat daar selfs ‘n groot aantal priesters wat tempeldiens gedoen het by die gemeente aangesluit het. Dít het natuurlik ook verder nuwe deure oopgemaak vir die gemeente.
Daar word ál te dikwels verwag dat die dominee of pastoor alles in die gemeente moet doen. Hy word mos daarvoor betaal! Sy kragte is egter ook maar baie beperk. As lidmate dus bereid is om ‘n spesifieke taak op hulle skouers te neem, laat dit hom vry om die taak uit te voer waarvoor hy éíntlik aangestel is. Ongelukkig is dit ‘n tendens dat al hoe minder mense bereid is om hulleself beskikbaar te stel vir ‘n taak in die gemeente. Die gevolg is dat dit al te dikwels gebeur dat persone met ‘n spesifieke taak nie hart en siel die taak kan uitvoer nie omdat hulle oorlaai word. Terselfdertyd word probleme wél bespreek, maar dit bly gewoonlik ook net by praat.
Dit het tyd geword dat ons as gelowiges sal opstaan en in die krag van die Heilige Gees take in die gemeente op ons skouers neem en dit deurvoer. Dan sal die kwynende kerk weer begin groei en blom. Ek ken baie mense wat reeds tot daardie stap oorgegaan het, met wonderlike gevolge! Ongelukkig is hulle heeltemal té yl gesaai om werklik ‘n impak te maak. Moontlik praat God vandag met jóú deur hierdie dagstukkie om jouself beskikbaar te stel. Wees dan gehoorsaam en doen wat Hy vra!
Gebed:
Here, maak my asseblief gewillig om die diens te verrig wat U van my vra. Gee my asseblief die nodige toerusting deur U Heilige Gees sodat ek die taak met my hele hart kan uitvoer!