Sewe Bakke

25 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sewe Bakke

Openbaring 16:8-21

Ek wonder soms of die bestraling van die son oor die afgelope klompie jare nie dalk verander het nie? Het dit dalk feller geraak? Dit wil vir my voorkom of dit beslis die geval is. Toe ek kind was, het ek heeldag lank in die veld geboer, en die son het my nooit skade aangedoen nie. En met vakansies by die strand het die sand soms my voete blase gebrand, maar die son het selde my kaal rug en skouers opgevreet. Ek kon vir ure aanmekaar in die son baljaar sonder enige nagevolge.

As ek egter vandag vir ‘n halfuur in die son kom, het ek probleme! Het ultravioletbestraling dalk drasties toegeneem? As ons dink aan die gevolge van aardverwarming, dan wil dit wél vir my so lyk. Daar is egter ook gedurig berigte van buitengewone aktiwiteite op die son, waar reuse ontploffings die son ruk en vlamme van baie duisende kilometer hoog op die oppervlak van ons ster gesien word. Die effek hiervan kan chaos op ons aardbol veroorsaak. Sulke sonkolle kan ons kommunikasiestelsels en selfs kragnetwerke onmeetbaar beskadig.

In die gesig wat Johannes sien, staan sewe engele elkeen met ‘n bak vol van God se toorn. Gister het ons gesien hoedat die eerste drie bakke uitgegooi word. Die aarde en water word swaar getref. Vandag sien ons hoe die ander vier bakke uitgegooi word.

Die engel gooi die vierde bak in die lug sodat dit die son tref. Dan raak die vurige hemelliggaam al warmer en warmer totdat dit sy dodelike strale so fel uitstraal dat mense verskroei en verbrand. Vuur simboliseer natuurlik God se oordeel. Die mense kom egter nie tot besinning nie, maar hulle laster God net meer. Dit is nie dat hulle nie weet nie - hulle is baie bewus van presies Wie dit is wat hulle getref het, en waar die plae vandaan kom.

In die agtergrond van die visioen sien ons weereens baie duidelik die Eksodus motief, waar God die Egiptenare met plae getref het. Kort hierna volg God se wonderlike verlossing wanneer Hy die volk uit Egipte bevry. Op dieselfde wyse wil hierdie beeld ook vir die eerste lesers van Openbaring verseker dat hulle verlossing van die juk van die Romeinse Ryk ‘n blye vooruitsig is sodra die bakke van God se toorn oor Rome uitgegiet is.

Die vyfde bak word op die troon van die dier uitgegiet. Ons het reeds gesien dat die dier die Antichris is. Wanneer die vyfde engel sy bak uitgiet, sak ’n volslae duisternis oor die wêreld. Nou kom die heerskappy wat God die dier toegelaat het tot ‘n einde. Dit is vir die Antichris ‘n pynlike ondervinding, en die mense byt letterlik hulle tonge stukkend soos hulle kreun van die pyn.

Maar steeds sien ons, dat ten spyte van die ondraaglike foltering wat hulle moet verduur, hulle steeds hardkoppig volstrek weier om hulle na God te draai. Dit het ‘n refrein geword, dat die navolgers van die dier aanhou om God te laster en dat hulle Hóm kwalik neem vir hulle foltering. As hulle maar net daardie eenvoudige treetjie wou gee na God toe! Hy wag daar vir hulle in Genade!

Die sesde bak word op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Hierdie bekende rivier het die oostelike grens van die Romeinse Ryk gevorm. Oorkant hierdie grens het daar regdeur die geskiedenis groot onheil uitgebroei. Daar het onder andere die wrede, woeste Partiërs hulle tande gesit en slyp vir Rome. Wanneer die engel die bak uitgooi, droog die Eufraat op en Rome se vyande kan letterlik droogvoets deurstap om hulle aanslag uit te voer.

Uit die monde van Satan, die Antichris en die vals profeet kom daar bose geeste wat soos paddas lyk. Paddas is natuurlik onrein diere, en dit herinner ons aan nóg een van die plae van Egipte. Hierdie paddas is duiwelse propaganda wat die konings van die wêreld opsweep met wondertekens om op te trek vir oorlog teen God by Armageddon. Hier sal die finale slag plaasvind.

Uiteindelik word die sewende bak in die lug uitgegooi. Dit vul die atmosfeer, en die engel roep uit: “Dis verby!” Natuurrampe tref die aarde: weerligstrale, dreunings, donderslae, ‘n verwoestende aardbewing soos wat die wêreld nog nooit voorheen beleef het nie en reuse haelstene. Die haelstene word beskryf as 50kg groot, wat beteken dat niemand wat deur hulle getref word kan oorleef nie. Eilande verdwyn onder die see en stede en berge word platgevee deur die geweld van die rampe. Niemand kan vlug of wegkruip vir God nie.

Maar steeds bly die ongelowiges volhard, en in plaas daarvan dat hulle tot bekering kom, laster hulle God. Absoluut niks sou hulle tot inkeer bring nie! Hulle bly hardnekkig lojaal aan die dier!

Gebed:

Here, hoe verskriklik is U oordeel oor diegene wat weier om U geskenk van die ewige lewe te aanvaar. Dankie dat U ons as gelowiges bewaar van daardie oordeel. Hou asseblief ons oog gevestig op Jesus, waar al ons hulp vandaan kom, en hou ons geborge in U, ons Vader.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026