Sendingtaak

5 May, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Sendingtaak

Matteus 4:18-22

VIDEO | OUDIO

Stel jou voor: jy kom vanoggend by die werk aan, maak vir jou ‘n koppie koffie, en gaan sit by jou lessenaar om jou dagtaak te begin. Sagte musiek speel in die agtergrond, en ‘n gevoel van saligheid spoel oor jou gemoed. Jy geniet jou werk terdeë.

Skielik lui die telefoon. Dít wat die stem aan die anderkant jou meedeel, skok jou tot in jou sokkies: “Kom gou vinnig af na die straat toe: ‘n huurmotor staan reg om jou na die lughawe te neem. Jy vertrek onmiddellik na Noord-Korea om daar sendingwerk te gaan doen. Los jou besittings, jou familie, jou werk alles net so. Kom dadelik! Jou vrou wag reeds op die lughawe om jou te groet.”

“Vir hoe lank?” vra jy, “‘n week?”

Dan kom die skokkende antwoord: “Moontlik drie jaar, dalk selfs tien!”

Jy moet aanhoor dat die werksomstandighede in Noord-Korea dikwels haglik is, selfs lewensgevaarlik. Daar sal nie aldag geld wees vir kos nie, en die blyplek is bitter primitief. Sal jy gaan?

Jy sal sekerlik sê: “Maar dis absurd! Sulke dinge kan tog nie gebeur nie!” Maar dis presies wat met Petrus en sy maters gebeur het.

In die vorige perikoop het ons verneem dat Jesus na Galilea vertrek het om daar bekering te preek. Die See van Galilea is baie prominent in hierdie landstreek, en etlike vissermanne maak ‘n lewe uit hierdie ryk bron. En dit is op die strand van hierdie groot meer waar Jesus Hom bevind. Terwyl Hy langs die strand afstap, sien Hy in die verte ‘n paar manne druk besig. Hy kry die broers Simon (Petrus) en Andreas besig om ‘n werpnet met ‘n sierlike boog in die see te gooi en dan in te katrol. ‘n Rustige prentjie. Visvang is hierdie twee broers se lewe en hulle werk, en dit is wat hulle geniet om te doen. Hier langs die viswater is hulle gelukkig, en hulle weet dat die see vir hulle genoeg oplewer om ‘n goeie bestaan te kan maak.

Hulle het al gehoor van hierdie nuwe Prediker wat vir die mense staan en preek op die strand. Dan herken hulle Hom as Hy reguit na hulle toe aangestap kom. Wil Hy dalk kom vis koop?

Maar Jesus slaan hulle voete skoon onder hulle uit: “Kom hier,” wink Hy vir hulle, “kom saam met my, en Ek sal julle vissers van mense maak!”

Hulle los hulle nette sommer net daar en loop agter Hom aan. Net ‘n entjie daarvandaan is nog twee visserman-broers, Jakobus en Johannes in hulle skuit besig om visnette reg te maak saam met hulle pa. Ook húlle word nader geroep, en hulle los Pa Sebedeus alleen om met die nette voort te gaan, terwyl hulle agter Jesus aanloop. As hulle gedink het dat hierdie ’n ding is wat dalk ‘n uur of twee sou duur, het hulle ‘n groot fout gemaak. Met ’n skok moet hulle verneem dat hulle ten minste vir die volgende paar jaar alles sou moes los - werk, familie, besittings - alles! En hulle sou ook nie juis in ‘n vyfster hotel tuisgaan nie! Dit sou soms maar rof raak.

Die eerste Jode wat hierdie verhaal gelees het, het presies verstaan wat Matteus hier vertel het, want vir ‘n Jood om in daardie tyd ‘n Christen te word, het beteken dat hy dikwels absoluut alles sou moes prysgee. Die Joodse gemeenskap en selfs sy bloedfamilie het hom totaal verwerp as hy met die Joodse geloof sou breek. Hy was beskou as ’n verraaier, en niemand sou jou besigheid ondersteun nie. Jy verarm, want jou inkomste droog op.

Vandag het ons presies dieselfde situasie met die Moslem wat die Christelike geloof aanneem. Selfs in ‘n verligte land soos Suid Afrika, word daardie persoon van alles gestroop, en hy word verwerp deur sy eie familie. Hy word beskou as ‘n verraaier. Hy word selfs vervolg in so ‘n mate, dat hy enige oomblik vermoor kan word. In die Moslemlande is dit egter nog véél erger, en dikwels word so ‘n persoon onthoof!

Vir hierdie vier vissermanne was dit ‘n reuse besluit om te neem, maar gelukkig was hulle toe nog nie deur hulle eie mense verwerp nie, want die owerhede het nog nie besef wat besig was om te gebeur nie. Jare later sou hierdie selfde manne nog wreed vervolg word vir hulle geloof!

Ons is nie almal geroep om sendingwerk in vreemde lande te doen nie, maar ons kan bid vir die dapper mense wat dit doen onder uiters moeilike omstandighede. Bid vir aksies soos Geopende Deure en ander organisasies wat onder andere gewone mense gebruik om Bybels en Christelike literatuur in lande in te smokkel en te versprei waar die evangelie taboe is en waar Christene vervolg word. Bid ook vir instansies waar sendelinge opgelei word. Ek en jy kan ‘n verskil maak deur sendingwerk te ondersteun, en die taak van sendelinge makliker te maak. Of jy kan deelneem aan een van die talle uitreik-aksies wat deurentyd geloods word.

Word Sendingbewus!

Gebed:

Here, maak my asseblief sendingbewus, en as die opdrag kom dat ek dalk moet gaan, gee dan vir my die moed en wil om ja te sê!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vir Oulaas, Timoteus
27 July, 2026
Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026